Dag 870-871

 

“Hy het hulle vervul met kunsvaardigheid om allerhande werk te maak van ‘n ambagsman en ‘n kunstenaar en van ‘n bewerker van veelkleurige goed … hulle wat al die werk moes verrig en kunstige planne moes uitdink.” (Eks. 35:35, OAV)

In die vorige Manna het ons uitgewys hoe die argitektuur van die kerkgebou met die loop van die eeue voortgebou het op ‘n verkeerde fondament, en hoe die gees van perversie daarin gestalte gekry het. Nie net het dit ‘n funksionele gebou geword nie, maar dit is ook as artistieke ruimte op ‘n verskeidenheid wyses verfraai. Ons het nie met die vorige Manna eens stil gestaan by die ontwikkeling van basilika na die katedraal nie. (Dié woord is ook afgelei van die Latynse begrip ex cathedra, wat “van die troon” beteken.)

J.G. Davies, in sy boek: The Secular Use of Church Buildings, stel die stand van sake só: “When Christians began to build their great basilicas, they turned for guidance to their Bible and were soon applying all that was said about the Jerusalem Temple to their new edifices, seemingly ignorant of the fact that in so doing they were behaving contrary to the New Testament outlook.” Met die verloop van tyd, ná die voorbeeld van die Bizzantynse en later die Gotiese kuns, is die kerk versier met groot oop ruimtes en massiewe pilare, gewels en gewelwe, met oordadige dekoratiewe ikone en mosaïeke (Edward Norman: The House of God: Church Architecture, Style, and History).

Brandglaswerk, wat sinoniem geword het met kerkvensters, is byvoorbeeld die eerste keer in die sesde eeue deur Gregory van Tours en later Suger  aan die kerkgemeenskap bekend gestel (Will Durant: The Age of Faith), wat uiteraard deur die prag en artistieke skoonheid daarvan betower is. Paul & Teresa Clowney, in hul boek Exploring Churches, meen die doel daarvan was om ‘n sielsbewussyn van emosionaliteit te skep waarbinne God in sy heerlikheid (hier versimboliseer deur die anderwêreldse skoonheidspel van lig en kleure) aanbid kan word. Die onderliggende motief van die kleurespel was om ‘n mistieke en transendente atmosfeer te skep. (Sien ook http://www.christinyall.com/steeple.html vir die invloed van die Egiptiese argitektuur.)

Frank C. Senn is absoluut in die kol as hy in sy boek Christian Liturgy: Catholic and Evangelical beweer dit alles was daarop gerig om dit wat geestelik (“hemels”) is, in aardse realiteitsterme te transponeer. Viola & Barna spel dit prontuit in Pagan Christianity: “In a very real way, the church building throughout history reflects man’s quest to sense the divine with his physical senses. While being surrounded by beauty can certainly turn a person’s heart toward God, He desires so much more for His church than an aesthetic experience.” Paulus sê in 2 Kor. 5:16 – “al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie”. Vroeër, in 1 Kor. 2:9-14 beskryf hy uitvoerig die verskil tussen sielspersepsie en geespersepsie: “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”

Die wesenlike gevaar bestaan dat mense deur die grandeur van die kerkgebou beïnvloed word en dat hul die estetiese ervaring verwar word met ‘n geestelike ervaring. Derhalwe sal hulle telkens as gevolg van hierdie heerlike ervaring wil terugkeer na die ‘heilige ruimte’ vir ‘n hernuïede braamboservaring met God. Langsamerhand assosieer ons verkeerdelik God en die goddelike met dié sogenaamde ‘sacred space’. Hierdeur word God onderbewustelik gekolonialiseer en ingebind tot die kerk; dit verwyder aanbidding uit ons gewone sosiale lewe. Daarbinne word ons gemanipuleer tot ‘n gewyde atmosfeer waarin die aanwesigheid van God tasbaar is. Helaas nie.

‘n Mens sou Lewis Caroll se befaamde boektitel hier mooi verdraaid kon gebruik om ‘n punt te maak. Die identiteit wat die kerk as sakrale ruimte voorhou, is through the stained-glass, ‘n pragtige, maar vals wêreldse onrealiteit.

In haar MA-verhandeling (Wits): A Case Study on the Windows of the Witbank Dutch-Reformed Church het Ariane Janse van Rensburg getoon hoe brandglasvensters in die tradisionele NG Kerk gebruik is om Vrymesselary-simboliek te verbeeld. In die afgebeelde brandglasvenster hierbo kan ‘n soortgelyke alsiende oog in die sentrale deel van die kunswerk gesien word. Hierdie Egiptiese en okkultiese simbool word baie gou gekerstend aanvaar as die alsiende oog van God, maar dit is ‘n perverte vertekening daarvan. Die eise van estetiek maak dikwels ‘n demoniese appél tot die kerk wat hul nie geestelik verreken nie. Skoonheid en verhewe estetiek word as gevolg van die mistieke effek daarvan dikwels ‘n susmiddel wat allerlei demoniese agendas daarmee insmokkel. Hoe artistiek mooi iets ook al mag wees, beteken uiteraard nie ipso facto dat dit heilig is nie. Joh. 14:17 spel dit duidelik uit: “die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Die gedeelte wat as masskrif hierbo uit Eks. 35:35 aangehaal word,  praat wel duidelik daarvan dat God sy kinders kan vervul met ‘n gees van kunsvaardigheid “om allerhande werk te maak van ‘n ambagsman en ‘n kunstenaar en van ‘n bewerker van veelkleurige goed”. Daar is diegene wat “kunstige planne moes uitdink” – maar nié met aardse wysheid: “aards, natuurlik (“sensual” – ASV), duiwels” (Jak. 3:15) nie.

Dit het my nog altyd gepla dat daar in Open. 18:22 staan: “En die stem van siterspelers en sangers en fluitspelers en basuinblasers sal nooit meer in jou gehoor word nie, en geen kunstenaar van enige kuns sal ooit weer in jou gevind word nie …” Maar onthou: hierdie hoofstuk gaan oor die val van Babilon, wat die demoniese korporatiewe struktuur van politiek, godsdiens en besigheid insluit. In húl onderskeie funksionarisse: die regering, die kerk en die finansiële wêreld, sal daar geen kuns of ware kunstenaar meer gevind word nie, want die artistieke gawe tot skepping behoort regmatig aan Elohim, die Skeppende Een, van wie dit gesteel en geperverteer is. Om hierdie rede moet die Bruid nie verlei word om emosioneel God te probeer sien deur  perverte stained-glass windows nie.

 

  • Sela: Het jy dalk die gees van kunsvaardigheid? En in watter koninkryk funksioneer die gees?
  • Lees: 12-18
  • Memoriseer: 13:33
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die gees van kunsvaardigheid.