Dag 872

 

Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.” (Hand. 7:51, OAV)

 

Ons is tans besig in hierdie reeks van die Manna met een van die veertien gespesifiseerde demoniese geeste wat die Bybel noem. Vir ‘n hele aantal weke skenk ons aandag aan die gees van perversie, en tans fokus ons op ‘n spesifieke faset van die manifestasie daarvan in die bestaande kerk. Ons kyk na die verskillende mites wat met die verloop van jare gevestig is rondom hoe ons dink die kerk moet wees, en kyk tans indringend na die gebou as sogenaamde sakrale of heilige ruimte. As gevolg van die verkeerde fondasie het Christengelowiges met die loop van die eeue voortgebou op ‘n geperverteerde pagan fondament.

Die gebruik van die woordjie “pagan” in plaas van die suiwer Afrikaanse woord “heidens” moet dalk net op hierdie stadium verduidelik word. Wanneer hierdie woordjie gebruik word, wil ons daarmee aandui dat die tradisie waaruit geput word, nie Bybels in oorsprong is nie. Dikwels is dit gebaseer op Christelike oorleweringe, maar die oorsprong daarvan kan nie Bybels geverifieer word nie. Die pagan tradisie is dus verkry uit die kultuur waarbinne kerk as institusie tot stand gekom het en funksioneer, en hierdie tradisie het dikwels sy wortels diep in afgodediens, bygeloof, sensuele verwagting, Vrymesselary, of wat ook al. Die mense wat die tradisie perpetueer doen dit gewoonlik uit ‘n rein bedoeling. Hulle is bloot mislei omdat hulle hul onkrities laat meesleur het deur die magtige golf van eiegeregtige godsdienstige tradisie.

Pagan gebruike is dus streng gesproke nie altyd heidens nie, maar is lynreg (dikwels besonder subtiel) teen die eksplisiete leringe van Jesus en die apostels. Om dit te illustreer: As uitganspunt van die stellingname wat ons ingeneem het rondom die mite van die kerkgebou is Hand. 7:47-51 – “En Salomo het ‘n huis vir Hom gebou. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie? Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.”

As ons die Woord streng gesproke nou hier wil aktualiseer in ons nuwetestamentiese geloofslewe, maak die bou en die funksionering binne kerke ons hardnekkig, onbesnede van hart en ore, en weerstaan ons die Heilige Gees. N.T. Wright, in sy boek: The Challenge of Jesus, sê dit sonder omhaal van woorde: “Jesus was inaguarating a new way of life which had no further need of the Temple.” Waarom die onbybelse tradisie perpetueer as die Woord van God eksplisiet dit verbied? Hierdie is ‘n vraag wat ‘n mens baie duidelik vir jouself in gees en waarheid (Joh. 4:24) moet uitmaak.

Jesus se woorde in Luk. 6:46 bly my in hierdie saak voortdurend by: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”

 

  • Sela: Wat nou gemaak met die kerkgebou?
  • Lees: 19-21
  • Memoriseer: 21:45
  • Delf dieper: Lees N.T. Wright se opspraakwekkende boek.