Dag 873

 

“Hy het ook tempels van die hoogtes gebou …” (1 Kon. 12:31, OAV)

Die eerste Reformasie is grootliks te danke aan die insigte en openbaring van die eertydse Rooms-Katolieke priester Martin Luther. Daarsonder sou ons vandag dalk nog steeds in die Middeleeue gewees het. Dat hy ‘n spilpuntrol gespeel het, is ‘n voldwonge feit. Dat hy later ook wel veel bygedra het tot die misleiding van hierdie aanvanklike beweging van God is egter ook ‘n onbetwisbare feit. Ek sluk steeds swaar daaraan dat die uitmuntende fliek Luther net die eerste paar jaar van die Reformasieheld se lewe uitbeeld, maar bewustelik verswyg hoedat sy latere bevele meegebring het dat miljoene gelowiges (wat in die waterdoop van gelowiges geglo het, die Anabaptiste) wreed vervolg en nog wreder vermoor is nie.

Maar gee die duiwel wat hy toekom, sou ‘n mens dalk spreekwoordelik met ‘n ironiese glimlag kon sê, maar Martin Luther is nié te blameer vir die verkeerde weg wat die Reformasie rondom die kerk as gebou ingeslaan het nie. In sy boek The Misunderstanding of the Church skryf Emil Brunner die volgende: “Of all the great teachers of Christianity, Martin Luther perceived most clearly the difference between the Ecclesia of the New Testament and the institutional church, and reacted most sharply against the quid pro quo which would identify them, Therefore he refused to tolerate the mere word ‘church’: he called it an obscure ambigious term. In his translation of the Bible, he rendered ecclecia by ‘congegration’.”

Luther het sterk klem geplaas daarop dat die die woordjie “kerk” nooit dui op ‘n gebou nie, maar altyd verstaan moet word as ‘n eenheid van ‘n groepering gelowiges, ‘n geestelike gemeenskap. Tog het die sterk Rooms-Katolieke tradisie wel die hele diskoers rondom die wesensaard van die kerk gedikteer – meer as eenduisend-vyfhonderd jaar se kerklike kondisionering het dit vir Luther onmoontlik gemaak om die ware betekenis van ekklesia te kon vestig. (Sien Luther’s Works, pp. 53-54).

Uiteraard was Luther ook sterk gekant teen die kerktoring. Sedert die poging om met die toring van Babel “‘n toring (te bou) waarvan die spits tot aan die hemel reik” (Gen. 11:4), is die mens gepreokkupeer om deur sy bousels ‘n kontakpunt tussen hemel en aarde te maak. In ‘n stadium het die Katolieke pousdom inspirasie gevind in die Egiptiese obeliske, en dit het gelei tot die vestiging van die kerktoring (Edward Norman: The House of God: Church Architecture, Style and History). Na die groot vuur van 1666 in Engeland en die gepaardgaande vernietiging van die meeste van die 800 kerke het die nuwe argitek van die restourasie al die kerke ‘n toring laat verkry. Hierdie tradisie het vinnig wêreldwyd versprei, veral na die Amerikas. (Colin Cunningham: Stones of Witness.)

Die toring kom duidelik uit pagan geskiedenisse. Dit kan nooit die kerk opsigtelik maak nie, veral nie met ‘n haan (die teken van verraad – Luk. 22:61) op die kerktoring nie. Joh. 12:32 bly die enigste geldige riglyn in hierdie verband: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Dit geskied nie deur ‘n pagan toring in die hoogte nie.

 

  • Sela: Ondersoek die verdere okkultiese wortels van die kerktoring.
  • Lees: 22-24
  • Memoriseer: 24:22
  • Delf dieper: Lees Norman se boek as jy meer oor die onderwerp wil weet.