Dag 878-879

 

“Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.”

(1 Kor. 12:27, OAV)

Ons is tans besig met die tweede mite wat leef in die algemene denke oor die ekklesia, en voorts dui op die perversiteit van die eietydse kerk, te wete: Die mite van die ampsdraers van die kerk as spesiale gesante van God.

In die vorige Manna het ons uitgewys dat alle gelowiges wat wedergebore is in die Nuwe Verbond “priesters” genoem word, en nié net ‘n spesiale groepie uitverkorenes nie. Alle priesters bedien tot God en tot mense, en derhalwe is aan elke wedergebore gelowige die “bediening van versoening”, soos 2 Kor. 5:18-20 die priesterlike mandaat mooi uitspel: “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.”

Met die oorgang van die ou na die nuwe verbond het nie net gedefinieerde buitelyne van wat die kerk as ruimte gedefinieer het, verander nie, maar ook wie as priesters funksioneer. Dit was nie meer ‘n Moses-bediening waar een persoon as deel van ‘n toegewyde en geïnisieerde groepering die ander lei in die geestelike wandel nie – almal wat saam die Liggaam vorm, het ‘n funksie. In die volgende uitgebreide passasie probeer Paulus die nuwe dispensasie van die gelykheid (dog diversiteit) van die ekklesia verduidelik deur ‘n wonderlike beeld, naamlik die beeld van ‘n veelvuldigheid van roepinge wat binne net één Liggaam moet funksioneer. In 1 Kor. 12:12-27 beredeneer Paulus hoe daar ‘n gelykheid en strewe is van “living in harmony and being of the same mind and one in purpose” (Fil. 2:2. Ampl). Lees dit met die oog op hierdie gelykstelling van priesterskap in die totale ekklesia, met in agneming van verskillende funksies: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.”

Daar is binne hierdie nuwe Liggaamsmodel nie meer ‘n onderskeid te make tussen die “clergy” en die “laity”, die “godsgeleerdes” (predikante/dominees/biskoppe/voorlopers et al.) en die gewone lidmate nie. Net soos wat daar nie ‘n onderskeid getref kan word tussen die kerk as sogenaamde “sacred space” en die gewone wêreld daar buite nie, net so is daar nie meer ‘n onderskeid te tref in die Liggaam tussen gewone lede van die ekklesia en die “spesiale gesante” van die kerk nie. Bruxy Cavey, in sy The End of Religion, stel dit raak: “Because of Jesus, they understood that all of life is holy and every relationship sacred. Truly, there is no holier ground than the space between you and me as we connect in honest, vulnerable, forgiving relationship.” (p. 139).

Omdat Jesus nou die Hoof van hierdie nuwe Liggaam is (Kol. 1:18; 2:19), kan geen spesifieke amp daardie posisie van hoofskap oorneem nie!

Daar is verskeie redes waarom gelowiges die sisteem van geestelike leierskap in die kerk aanhang, en nie een is ‘n Bybelse rede nie.

  • Die ‘gewone’ lidmate van die kerk misverstaan en minag dikwels die ware Liggaamsmodel van die Nuwetestamentiese-ekklesia bloot omdat hulle deur die oorgelewerde sisteem van gemeentefunksionering gekondisioneer is.
  • Die kerksisteem, ter wille van sy eie solopsistiese funksionering, onderhoud, eiebelang en selfbeskerming, moes ‘n onderskeid tref tussen die ‘afgesonderde bedienaars’ en die ‘gewone’ skape, en dit word streng in stand gehou deur ‘n absolute beheer van byvoorbeeld die liturgie. Beheer word die ongesiene riglyn wat hierdie mensgemaakte leierskapstruktuur onderlê.
  • Ons huldig en betaal die geestelike elite van ons kerke omdat ons daardeur toegelaat word om passief meeluisteraars te word van ‘n evangelie wat nie veel van ons eis nie. Sodoende verkies ons om bloot óór byvoorbeeld Mat. 11:12 te lees.
  • Benewens die sosiale funksie wat die kerk speel in die meeste mense se lewens, is dit ‘n gemeenskapsmerker van goeie burgerskap en menswees. Die ampsdraers word hierin die regulerende faktor van ‘n gesonde samelewing, en word daarom dikwels in ‘n hoër-funksionerende vlak van die samelewing gekategoriseer. Dit gee valse legitimiteit.
  • Die ampsdraers se status in die gemeenskap, wat versterk word deur, byvoorbeeld, hul jarelange studie in ‘n obskure spesialiteitsveld, die teologie, maak van hulle vooraanstaande en derhalwe eksklusiewe persoonlikhede wat die skyn voorhou van wysheid op alle terreine van die lewe.
  • Die funksionering in die “heilige ruimte” van die kerkgebou, hoe die dominee of pastoor byvoorbeeld aantrek (mantels, togas, wit dasse, en so meer) en met ‘n kanseltaalgeaffekteerdheid praat, sein ‘n anderwêreldse eksklusiwiteit uit. (In ‘n volgende Manna meer hieroor.)

 

Tom Hovestol, in sy briljante boek Extreme Righteousness, tref ‘n skrikwekkende parallel tussen die praktyke van die Fariseërs en die praktyke van die eietydse kerk. Ons gaan nie in die detail daarvan in nie, maar volstaan met wat Jesus in Mark. 7:9 (NJB) kaalkop sê: “And he said to them, ‘How ingeniously you get round the commandment of God in order to preserve your own tradition!’” Die Amplified vertaal dit só: “You have a fine way of rejecting [thus thwarting and nullifying and doing away with] the commandment of God in order to keep your tradition (your own human regulations)!”

Jesus se kras hantering van die godsdienstige leiers van sy tyd het dit onteenseglik duidelik gemaak dat Hy ten alle koste hierdie perpetuerende, mensgemaakte mite van die ampsdraers van die kerk as spesiale gesante van God ‘n finale nekslag wou toedien.

 

  • Sela: Toets jou ekklesia aan hierdie lering
  • Lees: 10-15
  • Memoriseer: 14:14 & 18 – die spreuk en die verklaring
  • Delf dieper: Lees Hovestol se boek, en skrik.