Dag 880

 

So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat.”

(Open. 2:15, OAV)

Die laaste faset van die ontmitologisering van ‘n mite wat stewig gegrondves is in die kerk deur die eeue, ook vandag, is die mite van die ampsdraers van die kerk as spesiale gesante van God.

Een van die belangrikste rede waarom die kerk soveel gewig plaas op hul dominees en pastore is as gevolg van hulle teologiese geleerdheid.

Geestelike leierskap (funksionele posisies soos diakens en ouderlinge uitgesluit) word in vandag se kerke grootliks beperk tot diegene wat opgelei is in teologie. Formele kwalifikasies van seminaria, kweekskole by universiteite en geakkrediteerde Bybelskole is byna sonder uitsondering die voorwaarde vir ‘n posisie in die formele kerksisteem.

“Maar van die begin af was dit nie so nie.” (Mat. 19:8c). Die sisteem van teologie, of dan: godsgeleerdheid, is nog nooit ‘n Bybelse voorskrif nie. Inteendeel.

Die rabbi’s het die geskrifte van die Ou Verbond gelees as “open-ended”, met ander woorde as ‘n teks met veelvuldige verklaringsmoontlikhede. Hulle het hul rol in die gemeenskap geëien as een van ‘n interpretatiewe regulator, iemand wat aan die ongeletterde volk die multifasettige woorde van God moes verduidelik en die betekenis daarvan as ‘t ware afsluit. Rob Bell, in sy boek Velvet Elvis, wys uit dat elke rabbi dus sy eie wette en riglyne ten opsigte van die nakoming van die Woord daargestel het. Verskillende rabbi’s het dus verskillende maatstawwe daargestel en hy en sy nalopers (of geestelike seuns) “would spend hours discussing … what it meant to live out a certain text”. Met die verloop van tyd het derhalwe verskeie “skole” of “denkrigtings” begin ontstaan, en met die invloed van die filosofie, wat die mens-, wêreld- en Godsbeskouing radikaal geïnfiltreer het (sien byvoorbeeld Hand. 17), het daar teologie ontstaan. Teologie is in sy wese ‘n wetenskap van beskouinge oor God. Daarom bestudeer voornemende teoloë dikwels nie soseer die Bybel nie, maar ander teoloë se perspektiewe op die Bybel en die Godheid. Dis noodwendig dat daar in hierdie filosofieë demoniese wysheid verdiskonteer word (Jak. 3:15).

Die Rabbi se teologie was dus as ‘t ware ‘n juk van persepsies oor God en die wêreld wat hy moes dra. Die Rabbi Jesus het al die godsdienstige volgelinge verstom toe Hy onomwonde in Mat. 11:30  verklaar: “my juk is sag en my las is lig”.

In Dag 170 is daar uitvoerig oor die Skrif geskryf wat die masskrif hierbo is. Daar is uitgewys dat die woord  Nikolaïete kom van twee Griekse woorde: nikao wat “conquer” beteken en lao wat “laity” (ongeleerde/volk) beteken, dus: conquer the laity. Ander verbuigings maak dit ook moontlik om dit te lees as byvoorbeeld victors over the people of rulers over the world, selfs: destruction of the people. Die laity, die gewone mense, staan teenoor die clergy, hulle wat sogenaamde godsgeleerdheid het. As geestelike posisies deur godsgeleerdheid verkry is, sou die volk op hierdie wyse beheer word. Die uitspraak wat God hier maak, is duidelik – God haat die leer van die Nikolaïete. Hiermee hoop ek het ons voldoende bewyse uit die Woord gebied om die mite van die ampsdraers van die kerk as spesiale gesante van God te laat sneuwel. Sela asseblief oor Jer. 8:9 (MSTC)“therefore shall the wise be confounded. They shall be afraid and taken, for lo, they have cast out the word of the LORD: what wisdom can then be among them?”

 

  • Sela: Besin oor die laaste Skrif-gedeelte.
  • Lees: 16-18
  • Memoriseer: 16:30 en besin oor die Skrif in die lig van Heb. 11:32.
  • Delf dieper: Lees Rob Bell se boek.