“What matters is not your outer appearance–the styling of your hair,
the jewelry you wear, the cut of your clothes–
but your inner disposition.”
(1 Pet. 3:3-4a, MSG)
Die gees van perversiteit het deur die eeue verskeie mites geperpetueer wat geen Bybelse fondasie het nie. Die derde mite wat ons wil hanteer is: Die mite dat kerktoegaan van gelowiges hul beste vra, ook dan veral in hoe hulle aantrek eredienste toe.
Daar mag Mannalesers wees wat in hul baard proes as hulle dit lees, en dink dat hierdie saak verseker nie meer enigsins belangrik is vir eietydse gelowiges nie. Vyftig jaar gelede nog miskien, maar vandag? Die era van die DKW-klere is vir seker nie meer geldig nie? Onthou jy: spesifieke klere vir Dans, Kerk en Werk? Die uitdrukkings “Sondagsklere” of “kerkklere” word egter steeds wyd in die omgang gebruik as sinonieme vir “deftige klere”.
Duidelik is daar ‘n verslapping in die klere-voorskrifte in die meeste Charismatiese kerke en non-denominasionele huisgemeentes, en selfs van die meer behoudende Gereformeerde en Pinksterkerke laat toe dat mans byvoorbeeld sonder das en baadjies kerk toe kom, maar vroue word byvoorbeeld nie maklik toegelaat om met ‘n langbroek of oop skouers kerk toe te kom nie. Kortbroeke vir mans is byvoorbeeld eweneens taboe.
Die voorskrifte is nie Bybels nie, maar so vroeg soos 180 n.C., dit wil sê nie lank na die vestiging van die Christelike kerk ná die fondasielegging van die apostoliese vaders nie, het Clement van Alexandrië, die Griekse Christenfilosoof, die volgende duidelike piëtistiese riglyn gebied: “Women and men are to go to church decently attired, with natural step, embracing silence … (L)et the women observe this further. Let her be entirely covered …” (In The Instructor, Boek 3, Hoofstuk 11.)
Respektabelheid blyk egter hier die norm te wees, en nie noodwendig duur en opvallende klere nie. Die rede hiervoor is eenvoudig – die meeste mense wat duur klere kon bekostig, was die edeles en superrykes. Die oorgrote meerderheid mense, en dus kerkgangers, was arm werkersklas wat nie duur klere kon bekostig nie. Van die Middeleeue af tot en met die agtiende eeu was besondere klere ‘n duidelike sosiale merker van finansiële welvaart en hoë sosiale klas. Dis eers ná die industriële revolusie dat massaproduksie van goeie en meer duursame klere vir Jan en San Alleman beskikbaar geword het – dit het uiteindelik aanleiding gegee tot die totstandkoming van die middelklas (Elizabeth Ewing: Everyday Dress 1650-1900), en derhalwe tot ‘n nuwe kleredragstyl vir die kerkgangers wat nou op ‘n manier kon meeding met die aristokratiese broeders en susters.
Al was daar predikers, soos byvoorbeeld John Wesley, wat baie streng gekant was teen die uitspattigheid van duur klere in kerkbyeenkomste, het die kerkvolk met die loop van tyd, ook as gevolg van beter finansiële toestande, asook die makliker verkryging van klere as gevolg van ‘n groeiende industrialisasie, die kerk begin beskou as ‘n plek waar jou status deur jou kleredrag bevestig is (Richard Bushman: The Refinement of America, p. 352).
In 1843 het ‘n baie invloedryke dominee van Connecticut, Horace Bushnell, ‘n kerketiketessay geskryf met die titel: ‘Taste and Fashion’, waarin hy ‘n saak uitgemaak het dat “sophistication” en “refinement” wesenseienskappe van God is, en dat Christene dit deur hul kleredrag moet gestalte gee. (Ibid., p. 328-331). Die klem het dus verskuif van respektabelheid na goeie kleredrag ter wille van die eer van God. Die ornaatheid van die kerkgebou het duidelik gevra vir gestileerde klere wat daarby pas. Die frase wat met die loop van jare die branding van kerkdrag geword het, is gemunt deur ‘n Prebiteriaanse predikant met die naam van William Henry Foote wat gesê het: “a church-going people are a dress-loving people”. (Ibid., p. 319).
Met die loop van jare het die eise van respektabelheid en kleredrag wat eer bring aan God ‘n ongeskrewe norm van die formele kerk geword, wat verdiep het tot ‘n ongeskrewe piëtistiese godsdienstige voorskrif waaraan ons amper gedagteloos meedoen en “ons beste” vir God kom aanbied.
Die “dress up”-verskynsel rondom kerktoegaan is grootliks versterk deur die eerste twee mites. Die vals “heilige ruimte” en die vals verdeling tussen die gewone lewe daarbuite en die :heilige lewe” binne die kerk het met die loop van tyd beslag gegee aan die mite dat “heilige kleredrag” pas by die gewydheid van die anderwêreldse ervaring.
Die Woord van God het baie sterk uitsprake teen uiterlike vertoon. Jes. 3:16-24 dui God se duidelike wrewel aan met hierdie uiterlike aantrekfenomeen onder kerkgangers: “Verder het die HERE gesê: Omdat die dogters van Sion trots is en loop met uitgerekte nek en met die oë lok, wegstap met trippelgang en hulle voetringe laat rinkel, daarom sal die HERE die skedel van die dogters van Sion skurf maak, en die HERE sal hulle skaamte ontbloot. In dié dag sal die HERE wegneem die sieraad van die voetringe en die sonnetjies en die maantjies; die oorversiersels en die armbande en die sluiers; die hoofversiersels en die voetkettinkies en die pronkgordels en die reukflessies en die towermiddels; die vingerringe en die neusringe; die feesklere en die manteltjies en die tjalies en die handsakkies; die handspieëltjies en die hemde en die tulbande en die wye mantels. Dan sal daar in plaas van balsemgeur mufheid wees, en in plaas van ‘n gordel ‘n tou, en in plaas van gevlegte hare kaalheid, en in plaas van ‘n pronkgewaad ‘n roukleed, brandmerk in plaas van skoonheid.”
In 1 Sam. 16:7 stel God dit duidelik aan Samuel: “Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” Vir die Fariseërs, “die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop” (Luk. 20:46), sê Jesus in Luk. 11:39 – “Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid.”
Dié saak word sonder omhaal van woorde in Jak. 2:1-6a aangespreek: “My broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie. Want as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit— het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie? Luister, my geliefde broeders—het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arm man oneer aangedoen.”
Gelowiges word deurgaans in die Skrif opgeroep om ons met “Christus” te beklee (Rom. 13:14; Gal. 3:27, o.a.), “sodat julle iets kan hê teenoor die wat hulle op die uiterlike beroem” (2 Kor. 5:12). Die ware ekklesia dra heerlikheid as kleed; die meeste mense in die kerk is naak (Open. 3:17; 16:15; Rom. 3:23; Gen. 3:7, 10-11), ten spyte van hul oordadige en duur klere.
In die volgende Manna sluit ons die bespreking van die derde mite af deur net vinnig stil te staan by die dikwels vereiste kleredrag van godsgeleerdes.
- Sela: Besin oor jou “outward appearance” en jou “inner disposition”, ook oor hierdie saak.
- Lees: 19-21; Rut 1-4
- Memoriseer: Rut 1:16
- Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.