Dag 883

 

Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag

in lang klere rondloop …”           (Luk. 20:46, OAV)

 

Ons is besig om te kyk na die derde mite wat deur die eeue algemene gebruik in kerke geword het, maar wat geen Bybelse fondasie het nie. Die derde mite wat ons na kyk, is: Die mite dat kerktoegaan van gelowiges hul beste vra, ook dan veral in hoe hulle aantrek eredienste toe. Ons het in die vorige twee Mannas na die gemeentelede gekyk betreffende hierdie saak, maar in hierdie Manna kyk ons na die tradisie van die prediker se bekleding.

Uit die Levitiese tradisie weet ons dat die bedienaars van die Ou Verbond baie spesifieke klere moes dra (sien Manna Dag 27&28). Dit was egter nie die riglyn vir die bekleding van die Nuwetestamentiese gelowiges nie, maar duidelik net ‘n tipe van ons bekleding in Christus (Heb. 10:1; Kol. 2:16-17; 3:10-14; Efes. 4:24; 1 Pet. 5:5; Open. 19:8). Ons gebruik van togas en spesiale kleredrag vir die bedienaar van die Woord kom uit die Grieks-Romeinse tradisie. In haar uitvoerige boek oor die onderwerp: A History of Ecclesiastical Dress, skryf Janet Mayo: “A consideration of ecclestiastical vestments will reveal that they had their origins in secular Roman dress. The view that vestments were of Levitical origin and came from Jewish priestly garments is a later idea.” (p. 11-12).

Weer was dit Clement van Alexandrië wat voorgeskryf het dat die godsgeleerdes onderskei moes word van die gewone kerkvolk (The Instructor: Boek 3: Hfst. 11). Hy het voorgestel hulle dra almal wit. Vir eeue was dit dan die gebruik, bes moontlik op grond van Plato se oortuiging dat wit die kleur van die gode was. In aansluiting hierby het die ander groot geestelike meningsvormer van die antieke tyd, Terullianus, gesê dat gekleurde materiaal nie vir die Here aanvaarbaar was nie (Mayo, p. 15).

Met Konstantijn se nuwe geestelike hiërargieë het kleredragverskille die merkers van die verskil tussen biskop, priester en diaken geword. (pp. 14-15). Na 330 n.C. is die Romeinse kleed deur die kerk aangeneem (Jerald C. Brauer, red., The Westminister Dictionary of Christian Worship, p. 284). In sy oorsiggeskiedenis oor hierdie saak wys Frank C. Senn in sy boek Christian Worship and its Cultural Setting, p. 41) deeglik uit dat die godsgeleerdes bly vashou het aan hierdie kleretradisie ten spyte daarvan dat die kleredrag verander het. Dit is deur Jerome (343-420) duidelik bevestig “that the clergy should never enter into the sanctuary wearing everyday garments” (Viola & Barna: Pagan Christianity, p. 151).

Van die vyfde eeu het biskoppe pers begin dra (Collins & Price: The Story of Christianity, p. 85). Met die Middeleeue het die klere al hoe meer simboliese betekenisse begin verkry, en nog later het die bedienaars-oorklere (wat oor gewone klere gedra word), inslag begin vind as togas. Dit was egter die Reformasie wat die meer sober swart (vir gegradueerdes in teologie) pak en toga (met die wit boordjie of das) beslag gegee het (George Marsden: The Soul of the American University: From Protestant Establishment to Established Nonbelief, p. 37).

Die spesiale klere van dominees en ander gesagsdraers in die kerk het geen Bybelse basis nie. Jesus se woorde in Mat. 23:5 staan duidelik daarteen: “En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot.” Die Message sê dit seer: “Their lives are perpetual fashion shows …”

 

  • Sela: Waarom sou dominees en pastore steeds deur kleredrag hulleself probeer onderskei?
  • Lees: 1 Sam. 1-3
  • Memoriseer: 1 Sam. 2:35 (hoekom is dit vir hierdie lering belangrik?)
  • Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.