“wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, (dit) eiesinnige godsdiens (is wat) …
geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees”
(Kol. 2:23, OAV)
Die gees van perversiteit het in die eietydse kerkpraktyke diep inslag gevind. Ons is tans besig om te kyk na die mites wat deur die eeue algemene gebruik in kerke geword het, maar wat geen Bybelse fondasie het nie. Die vierde mite wat ons na gaan kyk, is: Die mite van liturgie as voorgestelde Bybelse orde in die erediens.
Die HAT defineer die begrip ‘liturgie’ algemeen soos volg: “1. Al die gebede, handelinge, liedere van ‘n erediens. 2. Inrigting van ‘n erediens.” Ferdinand Deist, in sy A Concise Dictionary of Theological and Related Terms, verklaar dit teologies soos volg: “The prescribed form and order of the acts to be performed at a public religious ceremony, e g the rituals for celebrating the Eucharist, and the sequence of Votum, song, prayer, sermon, etc constituting a church service.” (p. 145). Die oorsprong van die Griekse woord leitourgia verwys na die uitvoering van ‘n openbare burgerlike optrede in die antieke stad Athene. Dié begrip is as ‘t ware gekersten vir Christelike gebruik (J.D. Davies: The New Westminister Dictionary of Liturgy and Worship, p. 314).
Elke denominasie het gewoonlik sy eie vaste liturgie waarvan daar bykans nooit afgewyk word nie. Breedweg word die volgende liturgiese orde gevolg: Groet van die kansel af (ook votum genoem); openingsgebed; afkondigings van gebeurlikhede (ook soms eers teen die einde); voorbereide sang, gelei deur ‘n (semi)professionele persoon; die dankofferopname (soms ook na die diens; soms twee maal); die prediking; ‘n gebed/gebede wat die preek afsluit; een of ander aktiwiteit: doop, nagmaal, kooroptrede, soms ‘n altar call of geleentheid vir gebed deur die ampsdraers (byvoorbeeld vir siekes of nuut-bekeerdes); ‘n lied ter afsluiting (laasgenoemde vind dikwels in die agtergrond plaas terwyl die laaste aktiwiteit en gebed in aanvang is); seëngebed of die uitspreek van ‘n seëning oor die gemeente. Week vir week word dieselfde orde gevolg, en as enigiets daarvan afwyk, word dit as afwykend getakseer.
Laat ons dit duidelik stel – daar is in die ganse Bybel geen sprake van ‘n liturgie in die byeenkoms van gelowiges nie; liturgie is suiwer menslike tradisie en oorlewering. Die historiese bronne oor die nuwetestamentiese kerk, soos Robert Banks: Paul’s Idea of Community, Banks & Banks se The Church Comes Home, Eduard Schweizer: Church Order in the New Testament; en Wolfgang Simson: Houses that changed the World, byvoorbeeld, is dit eens dat die oorgelewerde liturgie geensins Bybels verdedigbaar is.
Die Protestantse liturgie (en daaruit voortvloeiend die effens-aangepaste Pinkster- en Charismatiese liturgie) het gevloei uit die ornate Rooms-Katolieke liturgiese tradisie, spesifiek die Middeleeuse nagmaalvieringe (Paul F Bradshaw: The Search for the Origins of Christian Worship). In sy ekstensiewe navorsing oor dié saak het Josef A Jungmann twee boeke geskryf: The Early Liturgy en The Mass of the Roman Rite (vol.1), waarin hy bevind dat die Roomse liturgiese wortels op sy beurt weer in heidense gebruike lê. Viola & Barna, in Pagan Christianity, noem die Rooms-Katolieke nagmaalviering, waaruit die liturgie soos ons dit vandag ken, ontstaan het, “a blending of pagan and Judaistic ritual sprinkled with Catholic theology and Christian vocabulary” (p. 51). Will Durant, in sy opspraakwekkende boek Ceaser and Christ, wys onteenseglik uit hoedat die oorspronge van Christelike liturgie setel in die donker ondergrond van “pagan magical thinking” vermeng met sekulêr-rituele Griekse drama-beginsels! “The Greek mind, dying, came to a transmigrated life in the theology and liturgy of the church; the Greek language, having reigned for centuries over philosophy, became the vehicle of Christian literature and ritual; the Greek mysteries passed down into the impressive mystery of the Mass.” (p. 595).
Martin Luther se vestiging van die Protestantisme het die klem laat verskuif van die “Eucharist” of uitgebreide nagmaalsviering as die kern van die gemeentelike byeenkoms, en die prediking van die Woord as die sentrale aktiwiteit verhef (James F White: Protestant Worship: Traditions in Transit, pp. 41-42). Dit was egter die groot Hervormer, Johannes Calvyn, wat die totale aandag laat kulmineer het op die prediker op die preekstoel-cum-altaar. Die prediker het die fokus en hoofdirigent van die gemeente geword. John Mark Terry, in sy boek Evangelism: A Concise History, wys uit dat dié fokus op prediking ook in aard verander het, en dat dit meer tot die indiwidu se bediening gerig was as op die kommunale of gemeenskaplike van die totale geloofsgemeenskap. Dit het grootliks gelei tot die sterk individualisering van boodskappe, ten koste van gemeenskaplike funksionering as ‘n Liggaam, in ooreenstemming met die balans soos Paulus dit bied in Rom.12:5 – “so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar” en 1 Kor. 12:27 – “Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.”
Calvyn, in sterk navolging van die vroeë kerkvaders (sien Hugh Oliphant Old: The Patristic Roots of Reformed Worship, pp. 141-155) het ook sterk gevoel dat die gemeente in gewyde stilte, vrees en piëteit moet kom voor die Ewige en Almagtige God (Horton Davies: Christian Worship: Its History and Meaning, p. 56), en om dit te bewerkstellig het die Hervormer Martin Bucer die tradisie gevestig om die diens te begin met die Tien Gebooie (White, p. 74). Die dodelike stilte wat heers in die kerk asook die lees van die Wet (of opsomming daarvan) is duidelike liturgiese elemente wat geensins Bybels is nie:
- “Make a joyful noise to God, all the earth!” (Ps. 66:1; 81:1; 95:1-2; 98:4 & 6; 100:1, en vele meer).
- “Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart …” (2 Kor. 3:15).
- “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” (Gal. 5:4).
Met die verloop van die kerkgeskiedenis het verskeie bydraes uit verskeie oorde bygekom en het dit verskillende denominasionele branding tot gevolg gehad. Die agtiende-eeuse Engelse Methodiste, byvoorbeeld, het ‘n emosionele dimensie tot die kerk gebring, ‘n duidelike voorloper van die Pinksterbeweging. Uit Amerika weer het die herlewingsbeweging groot stukrag gekry. Die klem het grootliks gelei tot die fokus op redding, en redding alleen, wat veral neerslag gekry het met die vader van die Amerikaanse herlewingsdienste, George Whitefield (Ynge Brilioth: A Brief History of Preaching, p. 165). Die fokus was in hierdie tyd grootliks op bekeerlinge en die evangelie van redding. Hierdie ervaringe is dikwels in lirieke getoonset en het met die verloop van tyd die rudimentêre eerste pogings tot gospelmusiek geword, veral deur die sterk invloed van Charles Wesley (sien R Alan Streett se boek met die absoluut beskrywende titel: The Effective Invitation, p. 190). Hierdie oorsprong voed nog grootliks vandag se televangeliste en publieke gospelkonserte – die klem lê grootliks op redding en genesing.
Die oproep tot bekering en die bid vir genesing van siekes, wat sterk in die Pinkster- en Charismatiese beweging funksioneer, het eers rondom die agtiende eeu begin plaasvind (Stuart Murray: Revival and Revivalism, pp. 185-190), onder, veral, Charles Finney se aanvoorwerk (pp. 226-277). Hieruit het ‘n godsdienstige pragmatisme (“as dit werk, laat ons dit aanhou doen”) gevloei, en vinnig het dit tot formules en wenpraktyke gelei. Nodeloos om te sê, bring dit dikwels mee dat die Heilige Gees onttrek, want die geestelike truuks en gewaarborgde (siels)reaksie sorg vir die sinergie van die geestelike byeenkoms. John F White, in sy boek Protestant Worship and Church Architecture, toon aan hoe hierdie benadering tot ‘n fyn verbruikerswetenskap ontwikkel het en onkrities in heelwat denominasies inslag gevind het (p. 7). [‘n Uitstekende bron oor die nie-geestelike pragmatisme in eietydse kerke wat duidelik die Gees van God blus (1 Thes. 5:19), is Ronald Rolheiser se boek: The Shattered Lantern: Rediscovering God’s Presence in Everyday Life.] Daarbenewens het dit gelei tot die verarming van die ekklesia, dat hul nie kan “kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” nie, soos Efes. 4:13 dit stel. Die manifestasie en opbou van die korporatiewe Christus het totaal in gebreke gebly.
D.L. Moody, die magtige evangelis en prediker, het met krag sinergie gegee aan hierdie kerkpraktyke. Sy klem op individuele bekering, die advertering van bedieninge, die gospellied, die “sinner’s prayer”, die keusekaart vir opvolging na die tyd, die opstaan in die bank (“net daar waar jy is – almal se oë is nou toe”) het alles in navolging van Moody se styl instellings in baie kerkgemeenskappe geword (Streett: Effective Invitation). Gekoppel aan John Nelson Darby se nuwe lering oor die eindtyd, en veral die wegraping, is daar ‘n frenzy ontwikkel dat soveel mense so gou as moontlik tot bekering moet kom. Die dringendheid van die boodskap is nie getoets nie, en is deur ‘n futuristiese beskouing gedryf om soveel as moontlik mense nie in die hande van die Antichris te laat val nie. Lees Dave MacPherson se knap The Incredible Cover-Up om hierdie mite se demoniese bemarking en inslag na regte te begryp.
Daar is nog verskeie ander aspekte van die liturgie, byvoorbeeld: wanneer moet mense tydens die erediens sit of staan (en by Charismate selfs wanneer hulle lê in die sogenaamde “soaking meetings”) of kniel (die Ou Apostels); hoekom word daar met toe oë gebid (die voorskrif is nêrens in die Bybel nie; eerder dat mans hulle heilige hande moet ophef – 1 Tim. 2:8); die orde van die lofprysing in die Charismatiese kerke: drie vinnige ritme-nommers, dan drie besinnende snitte, dan twee aanbiddend, dikwels met eindelose herhaling, met naby teen die einde ‘n vrye styl-aanbidding waar die gemeente gelei word om in tale te sing. Bykans al hierdie liturgiese oorleweringe is hoofsaaklik om ‘n geestelike atmosfeer te skep. Waarop dui dit anders as op sielsdimensiesussing, wat duidelik strek tot die versadiging van die vlees?
Die belangrikste probleem met hierdie liturgiese oorlewering is dat dit dikwels gedryf en beheer word deur die godsgeleerde clergy, en dat die kerkgangers passief oorgelewer is aan wat van hulle gevra word as aangeleerde geestelike gedrag. Die Nuwetestamentiese ideaal, deur die Liggaam onder die Hoofdskap van Jesus te plaas, sny in totaliteit hierdie liturgie: “Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging—laat alles tot stigting geskied.” (1 Kor. 14:26).
Die byeenkomste van die Handelingekerk is gekenmerk daaraan dat alle lede van die geloofsgemeenskap spontaan onder leiding van die Gees gefunksioneer het – “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.” (2 Kor. 3:17). Die byeenkomste was vry, met deurgaanse oop bediening. Dit was fluïd, nie ‘n statiese uitspeel van rituele nie, dikwels onvoorspelbaar, maar tog met “goeie orde” (Kol. 2:5).
Om saam te vat: die twee algemene beginsels wat deurgaans vir gemeenteaktiwiteite behoort te geld, is absolute uiterstes wat in balans moet bly. Eerstens: die waarmerk van die wedergebore mens – wat die gemeenskap van die Liggaam vorm – is Joh. 3:8 – “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.” Maar tweedens: “Let all things be done decently and in order.” (1 Kor. 14:40, ASV). Duidelik staan dit lynreg teen die mite van liturgie as voorgestelde Bybelse orde in die erediens. Sela.
- Sela: Funksioneer jy in ‘n gemeente met vaste liturgie?
- Lees: 1 Sam. 4-14
- Memoriseer: 1 Sam. 10:6
- Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.