Dag 887-889

 

“Laat niemand julle dan oordeel … met betrekking tot

‘n fees of nuwemaan of sabbat nie …”

(Kol. 2:17, OAV)

Ons is tans besig met die manifestasie van die gees van perversiteit in die eietydse kerk. Die vyfde mite wat ons na gaan kyk, is: Die mite van Sondag as die Sabbat, “die dag van die Here” en derhalwe die dag waarop gelowiges meen hulle moet kerk toe gaan.

In Génesis 1 lees ons dat die hemel en die aarde en alles daarin geskape is in ses tydseenheid wat elkeen as “dag” benoem word. Tot en met dag drie is daar ‘n refrein wat die skeppingsproses van spesifieke fases van die heelal afsluit: “dit was aand en dit was môre”, onderskeidelik dan die eerste/tweede/derde dag”. Oënskynlik niks vreemd daaraan nie, totdat ons kom by dag vier: “En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was. En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.” (Gen. 1:14-19).

Die skepping van lig op Dag een: “En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.” (Gen. 1:4), was duidelik nie die natuurlike lig van die son, maan en sterre wat vir ons lig op aarde sorg nie! Die son en ander hemelliggame is eers op die vierde dag geskep.

Ons definisie van dag word gerig deur die aanduiding van: “dit was aand en dit was môre”, wat ons bekende tydkontekste van ‘n 24-uur siklus van die opeenvolging van nag (oorheersend donker) met dag (oorheersend lig). Ons verstaan van tyd is geskoei op die astroficisi se gebruik van die siklus van die son in bepaalde tydseenhede wat ons “jare, maande, weke, dae, ure, minute en sekondes” noem, en dit is totaal gebaseer op die siklus van die son. Ons praat ook daarvan dat ons ‘n sonkalender volg.

Duidelik kon die eerste drie dae nie elkeen ‘n 24-uurdag gewees het nie; die begrip ‘dag’ is bloot ‘n tydseenheid. ‘n Letterlike lesing van die skeppingsproses in ons menslike tydsterme is derhalwe heeltemal onvanpas. Gerald L. Schroeder, in sy uitstekende boek: The Science of God: The Convergence of Scientific and Biblical Wisdom, verduidelik die tydsaspek in Gen. 1 soos volg: “The opening chapter of Genesis acts like the zoom lens of a camera. Day by day it focuses with increasing detail on less and less time and space. The first day of Genesis encompasses the entire universe. By the third day, only earth is discussed. After day six, only that line of humanity leading to the partriarch Abraham is in biblical view. The Bible realizes the entire universe still exists. But its interest now rests solely on one line of humanity. This narrowing of perspective, in which each succesive day presents in greater detail a smaller scope of time and space, finds a parallel in scientific notation.” (p. 62).

Hierdie nosie van die begrip “dag” as ‘n eenheid word baie sinryk verduidelik deur Fausset’s Bible Dictionary: “The meaning therefore of Gen 2:3 is, God having divided His creative work into six portions sanctified the seventh as that on which He rested from His creative work. The divine rest was not one of 24 hours; the divine sabbath still continues. There has been no creation since man’s. After six periods of creative activity, answering to our literal days analogously, God entered on that sabbath in which His work is preservation and redemption, no longer creation. He ordained man for labour, yet graciously appointed one seventh of his time for bodily and mental rest, and for spiritual refreshment in his Maker’s worship.”

Die sewe “dae” van die skeppingweek word dan in die res van die Bybel ANALOOG gebruik vir die 24-uurtydperke van ons sonnedag. ‘n Mens sien dit spesifiek dan in die uitsondering van hierdie sewende dag as die Sabbat. (Dit word baie duidelik, selfs voor die wet geproklameer is, dat die Sabbatsdag elke week op ‘n spesifieke dag plaasgevind het, veral as jy kyk na hoe die manna in ‘n dubbele porsie op die sesde dag geval het, sodat die Israeliete nie op die Sabbat dit hoef opgetel het nie. Lees Eks. 16:21-30.)

In die tydperk van Moses is dit as ‘n wet geproklameer, en in die uitspel van die belangrikheid van die Sabbat word die tydvakke van die sewe sonnedae as maatstaf gebruik: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Eks. 20:8-11).

In Eks. 31:13-17 word die Sabbat egter meer as net ‘n dag om te “onthou” – dit word voorgehou as ‘n teken van ‘n ewige verbond: “Spreek jy met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig. Onderhou dan die sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat daarop werk verrig, dié siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit. Ses dae lank kan werk verrig word, maar op die sewende dag moet dit wees ‘n dag van volkome rus, heilig aan die HERE. Elkeen wat op die sabbatdag werk doen, moet sekerlik gedood word. En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.”

Maar let asseblief op die riglyn – die sewende dag, in ons sonkalenderkalibrering, is Saterdag, nie Sondag nie.

[Interessant dat die dae in die antieke tye bekend gestaan het as die eerste dag, of die tweede dag, en so meer. Dit was eers tydens die heerskappy van Konstantijn I wat vyf van die weeksdae vernoem is na Romeinse en Griekse mitologiese gode en twee na hemelligame (solis dies = Sondag en lunae dies = Maandag). Laasgenoemde twee Latynse frases is in Oud-Engels vervorm na sunnandœg (Sondag) en monandœg (Maandag), volgens Michael Sims: Apollo’s Fire: A Day on Earth in Nature and Imagination (p. 55). Lew White, in sy alarmistiese boek, Fossilized Customs, beweer dat Konstantijn nie bloot die son vernoem het nie, maar dat dit eintlik Sol Invictus Mithras genoem is: “the day of the unconquerable sun, Mithras” (p. 7), as deel van sy aanbidding van Mithras as ‘n songod. Dis bes moontlik waar.]

Dwarsdeur die tydperk van die evangelies asook die tyd van Handelinge word gemeld dat daar tydens die Sabbat (= Saterdag) wel georganiseerde byeenkomste was in die sinagoges:

  • “en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys. Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig …” (Luk. 4:15-17).
  • Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit. En ná die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê …” (Hand. 13:14-15)
  • “Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes het Hom nie geken nie, en deur Hom te veroordeel, het hulle die woorde van die profete vervul wat elke sabbat gelees word.” (Hand. 13:27).
  • “Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.” (Hand. 15:22)

 

Benewens die Sabbat, het die Nuwe-Testamentiese gelowiges ook die eerste dag van die week (ons Sondag) gevier as “die dag van die Here” (Open. 1:10). Daar is wyd deur Katolieke en Protestante geargumenteer dat met die feit dat Jesus op die eerste dag van die week opgestaan het uit die dode, die klem geskuif het na Sondag (die eerste dag van die week) as die Sabbat en dat dit toe die dag van geestelike byeenkomste was. Die volgende twee Skrifte word aangevoer as rede:

  • “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe.” (Hand. 20:7)
  • “Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.” (1 Kor. 16:3).

 

Dit is egter nie ‘n korrekte aanname nie. Die twee dae kan nie gelyk gestel word nie. Albert Barnes’ Notes on the Bible probeer dit soos volg verklaar: “At first both days were kept. But when Judaizing Christians wished to bring Christians under the bondage of the law, and the Jews became open antagonists of the church, the observance of the Jewish Sabbath was tacitly laid aside, and the Lord’s day alone was kept …”

Hierdie mag bes moontlik ‘n taktiese rede gewees het, maar Christene wat in gees en waarheid aanbid, sou nie ‘n verordening van God sommer so opsy skuif nie. Hand. 5:42  sê eksplisiet: “En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.”

Die antwoord op hierdie kontroversie lê in Jesus se eksplisiete uitspraak in Mark. 2:27-28: “En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.” Die Lewende Bybel vat Jesus se sentiment besonder raak vas: “Ek, die Redder, het ook oor die sabbat die volle seggenskap.”

Ook die Sabbat as ‘n Ou-Testamentiese verordening moet in die Nuwe Verbond tipologies verstaan word. Heb. 4:1-11 spel dit onteenseglik duidelik uit wat dié Sabbatsrus behels. Vers 3 sê: “Want ons wat geglo het, gaan die rus in, …” Vers 6 maak dit duidelik dat wie gehoorsaam is aan die stem van God, vandag, is in die Sabbatsrus van God. Dáárom word nie een dag bo die ander uitgesonder nie – “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God.” (Rom. 14:5-6). En in Kol. 2:16-17 verwyder Paulus alle wettiese aspekte rondom die Sabbat eweneens in geen onseker terme nie: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” Hiermee ontmitologiseer hy die mite van Sondag as die Sabbat, “die dag van die Here” en derhalwe die dag waarop gelowiges meen hulle moet kerk toe gaan.

 

  • Sela: Is jy in die sabbatsrus van God?
  • Lees: 1 Sam. 15-17; Ps. 11;1 Sam. 18-20; Ps. 59; 1 Sam. 21-24
  • Memoriseer: 1 Sam. 15:22-23 (let op die sinchronisasie met die lering! Sela!)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Leer leef in die Kairos-tyd: the time of God’s manifest purpose