“Só sal ek U prys my lewe lank,
in u Naam my hande ophef.”
(Ps. 63:4, OAV)
Die sewende mite rondom eietydse kerkwees handel oor een van die belangrikste attribute van die kerkdiens: formele lofprysing, met stem en instrumente. In hierdie Manna wil ons die mite ontmasker dat georganiseerde lofprysing in die ekklesia van sentrale belang is om God te verheerlik.
Stap in enige kerkdiens in, en jy sal vind dat die musiek ‘n integrale deel van die verrigtinge speel – of dit nou die orrel is wat ‘n voorspel lewer, die koor wat op gegewe tye sing, die gemeente wat deur ‘n groep (semi)professionele musikante gelei word om koortjies of aanbiddingsliedere te sing, die frekwente voorkoms van die bedieningslied, die agtergrondmusiek met die opname van die offergawe, of met die uitnodiging om na vore te kom, of dan met die altar call. Daar is dikwels óf ‘n orrelis, óf ‘n worship leader, of ‘n voorsanger óf ‘n koorleier; soms is dit sommer die pastoor of geestelike leier wat voorgaan. Daar word vooraf besluit wat word gesing; dit word professioneel haarfyn ingeoefen, hulle besluit selfs hoe wanneer gesing word, deur wie. Hulle besluit hoeveel keer word die lied herhaal. Die gemeente word deur die konsertvoorlopers gelei asof dit ‘n spontane gebeurtenis van lofprysing is, terwyl dit eintlik sonder enige allure is van “die wind waai hy wil” (Joh. 3:8).
In ‘n groot mate het die musiek van die eietydse kerke só ‘n kunsmatige geestelik-emosionele atmosfeer van aanbidding geskep. Dit het so ‘n groot inslag gehad dat ‘n mens jouself bykans nie die kerk daarsonder kan indink nie. Die probleem, egter, is dat die fokus toenemend sterk op die aanbidding van aanbidding val, en nie op “die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid” (Rom. 1:25) nie.
Uiteraard is persoonlike en korporatiewe lofprysing in alle tye en verbonde deel van die gelowige se respons tot God. Kom ons speur allereers die spektrum na van lofprysing in die Ou Testament.
So vroeg soos Gen. 4:21 leer ons van ‘n persoon met die naam van Jubal. “Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel”, dit wil sê die vader van lofprysing. Dan lees ons van Mahalálel in Gen. 5:12, die derde geslag van Set af, wie se naam beteken: “giving praise to God”. Ons lees van “vrolikheid en liedere, met tamboeryn en siter” in Gen. 31:27 en in Job 21:12 – “Hulle sing by die tamboeryn en siter en is bly by die klank van die fluit.” Die Israelite het saam met Moses met ‘n lofsang hul oorwinning oor die Egiptenare geproklameer (Eks. 15:1). Miriam en die vroue, met tamboeryne en koordanse, het met intervalle die refrein gesing (Eks. 15:21).
Dit is duidelik dat musiek deur stem en instrument ook deur ander volkere gebruik is in die lofprysing vir hulle gode, asook om hulle oorwinnings te vier. Geperverteerde musiek en vreemde danse het byvoorbeeld Moses begroet toe hy op die Israeliete wat die goue kalf aanbid, afkom: “Dit is nie die geluid van die wat sing van oorwinning nie; dit is ook nie die geluid van die wat sing van neerlaag nie: ek hoor die geluid van beurtgesang. En toe hy naby die laer kom en die kalf en koordanse sien, het die toorn van Moses ontvlam…” (Eks. 32:18-19). ‘n Mens sou maklik die gelykstelling hiermee kon maak met Klaagl. 2:7 waar die geraas van afgodedienaars nou ‘n jammerlike geweeklaag is van die vroeëre “gedruis … in die huis van die HERE soos op ‘n feesdag”. Die instrumente waarmee Koning Nebukadnésar sy beeld se aanbidding geëis het, noem Dan. 3:4 “die geluid … van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente”.
Die profeteskole het musiekopvoeding gehad om die profeteseuns geestelik te oriënteer (1 Sam.10:5; 19:19-20). In 2 Kon. 3:15 lees ons dat Elisa vir ‘n siterspeler gevra het, en “toe die siterspeler op die snare speel, het die hand van die HERE op hom gekom”.
Dawid is miskien die belangrikste prototipe van die lofsanger en –digter wat ons in die Ou Testament het. Ons lees in 2 Sam. 6:5 – “En Dawid en die hele huis van Israel het voor die aangesig van die HERE gespeel met allerhande instrumente van sipreshout, naamlik met siters en harpe en tamboeryne, en bekkens en simbale.”
Neh. 12:46-47 is ‘n ontsaglik belangrike uitspraak oor korporatiewe lofprysing: “Want in die dae van Dawid en Asaf, van die voortyd af, lê die oorsprong van die sangers en leiers van die lofsang en die danksegging aan God. En die hele Israel het in die dae van Serubbábel en in die dae van Nehemía die aandele van die sangers en van die poortwagters gegee, na die eis van elke dag; en hulle het die heilige gawes afgegee aan die Leviete, en die Leviete aan die seuns van Aäron.”
In 1 Kron. 25:1-8 word uitvoerig oor die organisasie daarvan verslag gedoen: “En Dawid en die leërowerstes het vir die diens die seuns van Asaf en Heman en Jedútun afgesonder, wat op siters en op harpe en op simbale besield gespeel het, en die getal van hulle wat die werk volgens hulle diens gedoen het, was— van die seuns van Asaf: Sakkur en Josef en Netánja en Asaréla, die seuns van Asaf; onder leiding van Asaf wat volgens aanwysing van die koning besield gespeel het. Van Jedútun, die seuns van Jedútun was Gedálja en Seri en Jesaja, Hasábja, Símeï en Mattítja, ses, onder leiding van hulle vader Jedútun wat op die siter besield gespeel het by die loof en prys van die HERE; van Heman, die seuns van Heman was Bukkía, Mattánja, Ussiël, Sébuel en Jérimot, Hanánja, Hanáni, Eliáta, Giddálti en Romámti-Eser, Josbekása, Mallóti, Hotir, Mahásiot. Hulle almal was seuns van Heman, die siener van die koning in die woorde van God. Om hom te versterk, het God aan Heman veertien seuns en drie dogters gegee. Hulle almal was onder leiding van hulle vader by die gesang in die huis van die HERE, met simbale, harpe en siters, vir die diens in die huis van God volgens aanwysing van die koning: Asaf en Jedútun en Heman. En hulle getal saam met hulle broers wat geoefend was in die gesang tot eer van die HERE, almal meesters, was twee honderd agt en tagtig. En hulle het die lot gewerp vir die reëling van die diens, die kleinste net soos die grootste, die meester saam met die leerling.”
Kyk ook na wat in 1 Kron. 23:4-5 hieroor gesê word: “Van hulle moet vier en twintig duisend toesig hou oor die werk in die huis van die HERE en ses duisend opsigters en regters wees; en vier duisend poortwagters en vier duisend lofsangers tot eer van die HERE met die instrumente wat ek, het Dawid gesê, gemaak het om lof te sing.”
Georganiseerde lofprysing was dus ‘n legitieme saak in die tyd van Dawid. Soos daar in sy dae “die stem van die sangers en die sangeresse” (2 Sam. 19:35), was, was daar ook by sy seun Salomo (Pred. 2:8). Nes sy vader, was Salomo ‘n produktiewe liriekskrywer: “En hy het drie duisend spreuke uitgespreek, en sy liedere was duisend en vyf.” (1 Kon. 4:32)!
Die International Standard Bible Encyclopedia stel dit besonder mooi: “the spirit of praise is a social spirit calling for social utterance. The man who praises God desires to praise Him in the hearing of other men (Ps. 40:10), and desires also that their praises should be joined with his own (Ps. 34:3). Further, the spirit of praise is a spirit of song.” Die ganse Ou Testament leef volgens die beginsel wat 2 Sam. 22:4 uitspel: “Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is …”
- Sela: Probeer vir jouself uitmaak hoe lofprysing dan in die Nuwe Verbond sal wees.
- Lees: 56; Ps. 120; Ps. 140-142;1 Sam. 25-27
- Memoriseer: 141:2
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Remember your song.