Dag 893-894

 

“Die een wat dank offer, eer My …”

(Ps. 50:23, OAV)

Ons is tans besig met die sewende mite rondom eietydse kerkwees: die mite dat georganiseerde lofprysing in die ekklesia van sentrale belang is om God te verheerlik. In die vorige lering was die slotsom dat lofprysing in die ou verbond altyd óf individueel tot God gerig was, óf korporatief inklusief was. Ons het veral gekyk na die ontstaan en historiese ontwikkeling van stem en snaar dwarsdeur die eerste 4000 jaar van die mens se bestaan op aarde.

In hierdie Manna wil ons probeer om ‘n kensketsing te gee van die inslag en doel van lofprysing in die Ou Testament. Dit is so ‘n omvangryke onderwerp dat ons dit net oorsigtelik kan doen. Kyk na die volgende voorbeelde:

  • Lofprysing is ‘n opdrag van God: “Psalmsing tot eer van die HERE, o sy gunsgenote …” (Ps. 30:4); en Ps.33:1 – “o Regverdiges, jubel in die HERE! ‘n Loflied betaam die opregtes.”  (Sien ook Ps. 147:1.) In  Ps. 81:1-4 word dit ‘n verordening van God genoem: “Vir die musiekleier; op die Gittiet. ‘n Psalm van Asaf. Jubel tot eer van God, ons sterkte! Juig tot eer van die God van Jakob! Hef aan ‘n lied en laat die tamboeryn klink, die lieflike siter saam met die harp. Blaas die basuin op nuwemaan, op volmaan vir ons feesdag. Want dit is ‘n insetting vir Israel, ‘n verordening van die God van Jakob.”
  • Lofprysing is ‘n spesifieke opdrag vir die “volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig” (Jes. 43:21), maar ook is dit ‘n opdrag vir alle volke en nasies – “Loof die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke!” (Ps. 117:1).
  • Lofprysing is ‘n spontane uiting van persoonlike dankbaarheid oor God se voorsiening en sorg: “Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.” (Ps. 104:33).
  • Lofprysing, volgens Ps. 105:2, vestig God se eer en spreek van al sy wonders. Ps. 33:2 – “Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp.” Ook Ps. 33:3 – “Sing tot sy eer ‘n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank.” (Sien ook Ps. 95:1.) Tog is sy Naam “bo alle lof en prys verhewe” (Neh. 9:5).
  • Lofprysing is ‘n getuienis vir/teen wat ons spreek: “Skryf dan nou vir julle hierdie lied op, en leer dit aan die kinders van Israel; lê dit in hulle mond, dat hierdie lied vir My ‘n getuie teen die kinders van Israel kan wees.” (Deut. 31:9).
  • Lofprysing is dikwels ‘n profetiese ploklamasie. “Laat my tog sing van my Beminde; ‘n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel.” (Jes. 5:1). (Sien byvoorbeeld ook Debora se lied in Rigters 5; Hanna se lied in 1 Sam. 2; Sagaria se lied in Luk. 1.)
  • Lofprysing kan ook ‘n onderwysing/lering wees. “Vir die musiekleier; op die wysie van: ‘Lelies.’ Van die kinders van Korag. ‘n Onderwysing. ‘n Lied van die liefde. My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ‘n Koning; my tong is die pen van ‘n vaardige skrywer.” (Ps. 45:1-2). (Sien ook byvoorbeeld Ps. 47:7.)
  • Lofprysing, volgens Jes. 51:3 is die kenmerk van die woonplek van God, Sion: “Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.” Interessant dat Jes. 61:3  bevestigend profeteer “om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking.” Die Nuwe Jerusalem, die Bruid, se poorte is Lof (Jes. 60:18)!
  • Lofprysing is ‘n offerhande aan God: “En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die HERE.” (Ps. 27:6). In die nuwe verbond word dit eksplisiet in Heb. 13:15 ‘n “lofoffer” genoem.

 

Ware aanbidding in gees en waarheid (Joh. 4:24), wat onderskei word van vals aanbidding (Jes. 29:13), is allereers ‘n ingesteldheid van die hart. (Ps. 4:7; Ps. 33:21), ‘n vreugdevolle vermenging van die musiek van die siel en die gees (1 Sam. 2:1; Ps. 103:1), wat amper in geen taal na behore gestalte kan vind nie (Ps. 40:5; Ps. 71:15). Daarom bid Dawid in Ps. 51:15 – “Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.” Maar wanneer die mens ten diepste geraak is deur wie God is, volg dit natuurlikerwys dat hy tot lofprysing oorgaan: “Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys. Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef. Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe …” (Ps. 63:3-5).

Die gees van lofprysing noop die individuele gelowige om nie net op sy eie God te prys nie (Ps. 34:4), maar om ander te roep om saam met Hom God se goedheid te besing: “Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef!” (Ps. 34:3). “U goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie.” (Ps. 40:10).

As God jou hart vul met lofprysing, sit Hy dikwels ‘n nuwe lied in jou mond (Ps. 40:3). (Sien ook Ps. 33:3 en Ps. 144:9.) Hierdie word later in die nuwe verbond ‘n belangrike faset van lofprysing. Later meer daaroor.

Al die voorafgaande voorbeelde uit die Ou Testament (wat strek tot en met Jesus se opstanding uit die dood) dui op individue se persoonlike lofprysing, maar dikwels met ‘n korporatiewe doel. Tog beteken dit nie dat in die Ou Testament daar nie georganiseerde lofprysing was nie.

Ons lees selfs in Mat. 26:30 dat dit ‘n praktyk was van Jesus en sy dissipels: “En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.” Hierdie was bes moontlik ‘n Hebreeuse psalm, dalk Ps. 113-118, wat gewoonlik tydens die pasga gesing is.

Wat egter deurgaans opval van die rol van lofprysing in die ou verbond is dat dit óf individueel tot God gerig is, óf korporatief inklusief was. Onthou dat die priesterskap, wat die verantwoordelikheid van korporatiewe lofprysing gedra het, in die nuwe testament verruim is tot al die gelowiges. Lofprysing sal dan in hierdie bedeling ‘n ander inslag moet hê. Die priesterskap van die Ou Verbond, wat die verantwoordelikheid van korporatiewe lofprysing gedra het, is in die nuwe testament verruim om op alle gelowiges van toepassing te wees. Lofprysing moet in hierdie nuwe testamentiese bedeling duidelik ‘n ander, meer korporatiewe inslag moet hê.

 

  • Sela: Ondersoek jou “gewaad van lof” aan die hand van die die Bybelse riglyne daaroor.
  • Lees: 17; Ps. 35; Ps. 54; Ps. 63; Ps; 18; 1 Sam. 28-31
  • Memoriseer: 34:7
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: God se Nuwe Wynsak vir Kerkwees