“En hy het die goue altaar in die tent van samekoms
neergesit, voor die voorhangsel …” (Eks. 40:26, OAV)
Ons is steeds besig om die sewende mite rondom eietydse kerkwees te ontgin: die mite dat – georganiseerde lofprysing in die ekklesia van sentrale belang is om God te verheerlik.
In die vorige Manna het ons tot die slotsom gekom dat die mandaat van die Ou-Testamentiese lofprysing nie net so oorgegaan het op die Nuwe Testament nie. Die belangrikheid van lofprysing word dus deurgaans in die nuwe verbond onderstreep, maar dat dit totaal nié georganiseerd is nie, is deur vyf kernskrifte hieroor onteenseglik uitgewys.
Ons het in vorige Mannas oorsigtelik verwys na die goue reukofferaltaar wat die tipologiese simbool van onder andere lofprysing in die tweede dimensie van die tabernakel is. Ons lees van die konstruksie daarvan in Eks. 30:1-6, 37:25-29.
In Eks. 40:26-27 lees ons oor die plasing daarvan: “En hy het die goue altaar in die tent van samekoms neergesit, voor die voorhangsel, en reukwerk van speserye daarop aan die brand gesteek, soos die HERE Moses beveel het.” Soos ons lesers teen hierdie stadium al baie goed weet, dui hierdie dimensie op die Pinkster-of Charismatiese Geesbelewenis, waar lofprysing ‘n absolute sentrale rol speel. (Ons gaan nie die altaar nou behandel nie – dit kom eers later aan bod. Dit word hier net ter toeligting gebruik. In Manna 146 is daar ontvouend gevorder tot by die reukofferaltaar, maar voor ons dit kan behandel, is toe verduidelik, moes ons teruggaan eerste dimensie toe en in meer detail na die meublement gaan kyk – waarmee ons steeds besig is.)
Dit is duidelik uit alle Ou-Testamentiese Skrifte dat die reukofferaltaar in die Heilige, die tweede dimensie, gestaan het, net voor die voorhangsel. Maar in Heb. 9:4-5 word eksplisiet gesê hierdie altaar staan saam met “die ark van die verbond, rondom heeltemal met goud oortrek, waarin die goue kruik met die manna was en die staf van Aäron wat gebloei het, en die tafels van die verbond; en daar bo-op die gérubs van die heerlikheid wat die versoendeksel oorskadu het”! In die transisie van Ou na Nuwe Testament moet daar uiteraard ook ander dinge verander – “met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering” (Heb. 7:12). In die transisie van verbonde skuif die reukofferaltaar van die tweede dimensie na die derde dimensie.
Die tipologie hiervan is dan baie duidelik – terwyl jy in die tweede dimensie is, is lofprysing ‘n individuele, maar ook korporatiewe ervaring. Maar as jy in die derde dimensie is, is dit TERSELFDERTYD ‘n persoonlike én ‘n korporatiewe aksie. Soos die hoëpriester alleen die Allerheiligste ingegaan het en niemand anders daar saam met hom kon funksioneer nie,
funksioneer die gelowige in die derde dimensie alleen (Ps. 87:5), maar verteenwoordig dáár die
korporatiewe Liggaam; in sy totale een-heid verteenwoordig hy die ganse veel-heid van die volk
(Lev. 16:32-34)! Hierdie geheimenis verduidelik die skuif óók ten opsigte van die goue altaar.
- Sela: Hoe sal lofprysing en erediens dan verskil van tweede tot derde dimensie?
- Lees: Ps. 17; Ps. 35; Ps. 54; Ps. 63
- Memoriseer: Ps. 62:2-4 (en let op die sinkronisasie!)
- Delf dieper: Lees N.T. Wright se boek: Worship and the Spirit in the New Testament