Dag 899-900

 

“Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid

weer oprig, en wat daarvan verwoes is,

sal Ek weer oprig en dit herstel …”

(Hand. 15:16, OAV)

Ons is steeds besig met die manifestasie van die gees van perversie in die eietydse kerk, en fokus tans op die sewende mite wat ons ondersoek, naamlik die mite dat georganiseerde lofprysing in die ekklesia van sentrale belang is om God te verheerlik.

In die vorige manna het ons die totale misverstaan van die konsep van die Tabernakel van Dawid ten opsigte van die vestiging van hierdie beskouing uitgewys. Die beskouing van Charismate, waaroor Michael Moriarity, in sy boek The New Charismatics berig, is werklik onrusbarend: “Believers will approach God in new ways such as singing in tongues to activate revelations, prophesying in song, dancing rhythmically in the Spirit and all the traditional charismatic methods (hand clapping, raising of hands etc.). Those who resist this restoration of worship will fall short of God’s standard and will continue to operate in a faulty form of worship and will be in danger of the glory of God departing from their churches.”

Die miskonseptualisering van wat met die herstel van die tabernakel van Dawid bedoel word, en dat dit nie net op singery, lofprysing en musiek dui nie, maar veel wyer strek, blyk baie duidelik uit die Nuwe-Testamentiese konteks van Hand. 15:16. Die voorstanders van die 24/7-lofprysingskonsep baseer hul beskouing op 1 Kron. 25 waar daar sprake is van al die Leviete wat besield gespeel het op hul instrumente, “in die huis van die HERE, met simbale, harpe en siters, vir die diens in die huis van God” (vers 6). Die musiek-aspek van die eerste tabernakel van Dawid, IN DIE HUIS VAN GOD, word dan ewe onkrities oorgedra na die laaste tabernakel van Dawid, eweneens 24/7-lofprysingsentrums, sonder om die veranderende aard van die tabernakel te verreken. In die nuwe verbond is die tabernakel/huis van God NOOIT MEER  ‘n gebou van God nie, maar ‘n gelowige mens (Hand. 7:48; 17:24; 1 Kor. 3:16; 6:19).

Daarbenewens: die gebruik van die woordjie ‘tabernakel’ verwys in hierdie konteks duidelik na die “huis van Dawid” (sien Jes. 22:22; Luk. 69), wat gebruik word om die heerskappy van die troon van Dawid simbolies voor te stel – dit blyk onteenseglik duidelik uit Jes. 16:5 – “En opgerig is deur goedgunstigheid ‘n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, ‘n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid.” Hier is daar géén sprake van lofprysing nie.

Om te verstaan waarom Jakobus uit Amos 9:11 aanhaal tydens die apostoliese byeenkoms in Jerusalem, is die historiese konteks van die uiterste belang. Die saak ter tafel was dat die Joodse bekeerdes aangedring het daarop dat heidene wat tot geloof kom, soos hulle besny moes word, volgens die wet van Moses (vers 1). Paulus en Barnabas het gekom na hierdie beraad en het steun onder die ander apostels probeer werf vir hul verstaan dat besnydenis nou in die hart is, en nie meer fisies of uiterlik nie (verse 4 en 6; Rom. 2:29). Petrus verduidelik weer aan die gehoor dat verlossing deur genade en geloof in Jeus Christus is. Paul en Bamabas getuig hoe wonderbaarlik God gewerk het onder die heidene op hulle eerste sendingreis. Jakobus stem dan saam met sy broers en spreek sy slotsom uit, naamlik dat die heidene as deel van die ekklesia verwelkom moet word, al is hulle nie besny nie, want hulle harte is deur die geloof in Jesus gereinig (Hand. 15:9-12, 19).

Om legitimiteit aan hulle argument te verleen, haal Jakobus dan Amos 9:11 aan. Hierdie dodelike argumentspunt het dié kontensieuse saak vir eens en altyd hanteer. Duidelik argumenteer Jakobus nie hier vir die vestiging van ‘n herstel van die tipe lofprysing in die tyd van Dawid nie. Nee – die onderwerp handel oor die integrering van Joodse en nie-Joodse gelowiges, soos Gal. 3:28 dit bedoel. Jakobus gebruik die verwysing na die tabernakel van Dawid as ‘n heenwysing na die profetiese belofte van die Bruid wat uit alle stamme, nasies en volkere (Open. 5:9) sal kom. Dit is duidelik uit Jakobus se verwysing na die tabernakel van Dawid dat dit histories verstaan is dat die heidene deur ‘n genadegreep van God in verhouding met Hom gebring is. Dit is Yahweh se begeerte dat “alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:4). Dat dit ook ‘n Ou-Testamentiese verwagting was, is duidelik uit Skrifte soos Jes. 45:22 en 49:6, onder andere.

Maar hierdie ‘verruiming’ van God se agenda om nie net op die Jode as uitverkore nasie te fokus nie, het ‘n aanvang geneem met God se belofte aan Dawid, spesifiek as Hy aan Hom die belofte maak dat Hy vir die “huis van Dawid” ‘n ewige troon en koningskap sal vestig: “And your house and your kingdom shall be made sure forever before you; your throne shall be established forever … Then King David went in and sat before the Lord, and said, Who am I, O Lord God, and what is my house, that You have brought me this far?  Then as if this were a little thing in Your eyes, O Lord God, You have spoken also of Your servant’s house in the far distant future. And this is the law for man, O Lord God!” (2 Sam. 16, 18-19, AB)

In sy uitstekende artikel: The Great Commission in the Old Testament maak Walter C. Kaiser, Jr. die volgende belangrike opmerkings: “It is at this point where one of the most sensational texts of Scripture appears, but unfortunately it also happens to be one of the places where most translations go just plain haywire. Literally translated, David exclaims: ‘And this (which God had just declared about David’s house and future) is (or will be) the charter for humanity, O LORD God!’ David instinctively knew what many modern readers of the text have a great deal of difficulty seeing: the son born to David would be one that God personally would be a Father to (II Sam. 7:14) and that this son would be the means of blessing all the nations and families of the earth. This son of David would have a dynasty, a throne and a kingdom that would last forever (II Sam. 7:16). It is this kingdom that would embrace all peoples, including all the Gentiles, if they would only call upon the name of that Man of Promise who was to come.”

David’s house and future will be the charter for all humanity! Duidelik is dit die konteks waarbinne Jakobus in Hand. 15:16 die verwysing na die “tabernakel van Dawid” maak, met geen ondertoon van voortdurende lofprysing nie. Jakobus se aanhaling uit Amos demonstreer aan die Jode die geestelike inenting van die heidene in die ekklesia. Hy gee bloot ‘n korrelasie van die historiese konsep van “die tabernakel van Dawid” met wat Paulus in Gal. 6:16 noem “die Israel van God”, wat Jood en nie-Jood insluit. (Sien ook Rom. 9:6-8.)

Die Charismate se aanspraak op die herstel van die tabernakel van Dawid as durende, georganiseerde lofprysing is ‘n mistasting en hou helaas nie Bybels stand nie.

 

  • Sela: Verduidelik aan iemand die begrip: ‘die tabernakel van Dawid’.
  • Lees: 2 Sam. 1-4; Ps. 6; 8-10; 14; 16; 19; 21
  • Memoriseer: 19:1-5
  • Delf dieper: Lees Walter C. Kaiser, Jr se artikel: The Great Commission in the Old Testament

(beskikbaar op die internet).