“U berei die tafel voor my aangesig” (Ps 23:5, OAV)
In Spr 8 en 9 is die gepersonifieerde Wysheid aan die woord, maar sy is net ‘n Ou-Testamentiese heenwysing na wat 1 Kor 1:24 verduidelik as Christus, wie die “die wysheid van God” is. As sy in Spr 9:5 gesê word: “Kom, eet julle van my brood, en drink van die wyn wat ek gemeng het,“ is dit dus Christus wat die uitnodiging rig om van Sy brood te kom eet en van die wyn te drink wat Hy gemeng het! Hierdie brood is nie maar net gewoonweg brood en die wyn nie net die vrug van die wingerdstok nie, nee – die byeenbring (“menging”) daarvan laat ‘n nuwe verband en betekenis uit die gewone gebruiksartikels voortkom.
Die wyn en die brood kry hul nuwe betekenis in die feit dat hulle op die matriks (in Grieks: trapesium = tafel) van die Here aangebied word. (Die woordjie matriks word spesifiek gebruik – dit beteken in Grieks baarmoeder.) Die eet en drink aan hierdie tafel word ‘n eet en drink van die baarmoeder van God – ons noem Hom Christus (Heb 2:10; Ps 2:7)! In Hebreeus beteken die woord “broer”: iemand wat dieselfde baarmoeder gedeel het. Slegs diegene wat “die wil van God doen”, is my broer (Mark 3:35). Ons mag dus net aan hierdie tafel sit en eet as ons uit dieselfde Baarmoeder gebore is.
Dit is veelseggend dat die begrip tafel die eerste keer in die Woord in Eks 25:23 voorkom as die tafel van die toonbrode. Daarom is dit so van pas dat in Mat 26:20 vertel word van dié besondere aand met die viering van die pasga: “toe dit aand geword het, was Hy met die twaalf aan tafel”. Die twaalf toonbrode was op die tabernakeltafel! Hulle was toon-beeld van die twaalf stamme, van die twaalf dissipels, van die latere twaalf apostels, van die Liggaam wat so sou vermeerder tot 12 x 12 x 1000 generasies (Ps 105:8), wat optel tot 144 000, by wyse van spreke, “governmental perfection” (Bullinger). (Sien ook Open 14.) As Hy as die Brood van die lewe gebreek word aan hierdie tafel, is daar altyd vermenigvuldiging; dit word brokstukke brood wat twaalf mandjies volmaak (Mat 14:20)!
Toe die Koningin van die Skeba besoek om te kom verifieer wat sy van Salomo gehoor het, was daar verskeie dinge wat haar asem weggeslaan het, onder andere “die voedsel van sy tafel” (1 Kon 10:5). Jesus sê in Mat 12:42 dat sy weer “in die oordeel (sal) opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en—meer as Salomo is hier!” Ons het veel meer as die wysheid van Salomo; ons het die Wysheid van God; en ja, ons het veel meer as die tafel van toonbrode!
- Sela: Bedink Mark 16:14 ☺
- Lees: Eks 40; Ps 90; Mark 16
- Memoriseer: Mark 16:16
- Vir dieper delf: Lees hfst 20 in Charles Colson se boek The Body.