Dag 901

 

“Verwyder van My die geraas van jou liedere!

En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie.”

(Amos 5:23, OAV)

 

Die Charismatiese aanspraak op die herstel van die tabernakel van Dawid as durende, georganiseerde lofprysing is ‘n mistasting en hou helaas nie Bybels stand nie, het ons in die vorige Manna bevind. John Gill, in sy Exposition of the Entire Bible, maak ten opsigte van hierdie saak dan hierdie uiters belangrike gelykstelling, dat die tabernakel van Dawid IS “the dead body of the Messiah to be raised”. En gegewe dan dat die Bruid van Christus ook die Liggaam van Christus genoem word (1 Kor. 12:27), beteken hierdie “tabernakel van Dawid” is dan tipologies spesifiek “die Liggaam van Christus”! Lofprysing moet deur die totale Liggaam bedryf word, nie deur ‘n musiekgroep of ‘n musiekvoorganger nie. 1 Kor. 14:26 – “Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm …

Die miskonsepsie van alles is dat “worship”, of dan lofprysing, net met musiek, sang en instrumente te doen het. Paulus leer deurgaans dat lofprysing gestalte behoort te vind in alle areas van die gelowige se lewe. In Rom. 12: 1 (NJB) word dit uitgespel: “offer your bodies as a living sacrifice, dedicated and acceptable to God; that is the kind of worship for you, as sensible people”. Die Message-vertaling maak dit parafraserend nog meer duidelik: Take your everyday, ordinary life–your sleeping, eating, going-to-work, and walking-around life—and place it before God as an offering.” Die gelowige se “spiritual service of worship” (NASB) is duidelik nie net met musiek en sang nie, maar enige ekspressie van aanbidding. Lofprysing is ‘n kondisie van die hart, wat nie noodwendig ‘n medium (soos musiek) nodig het om gestalte te vind nie. Dawid vat in Ps. 141:2 die essensie van worship vas: “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.” Let wel – dit is sonder musiek.

In Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put maak Jesus hierdie belangrike opmerking: “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Joh. 4:23-24). Die Engelse vertalings gebruik die woordjie “worship” vir die Afrikaanse “aanbid”. Hieruit volg duidelik: die voorwaarde vir ware aanbidding/”worship” is iemand wat in gees en waarheid tot God nader.

Ons sluit dan hiermee hierdie sewende mite rondom eietydse kerkwees af, naamlik: die mite dat georganiseerde lofprysing in die ekklesia van sentrale belang is om God te verheerlik.

 

  • Sela: Kan jy God sonder musiekinstrumente loof?
  • Lees: 1 Kron. 1-2
  • Memoriseer: 1 Kron. 2:1-2
  • Delf dieper: Probeer God op ander wyses verheerlik as deur musiek.