Dag 902

 

“En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?”

(Rom. 10:14c, OAV)

Die agtste mite rondom eietydse kerkwees kan op die oor af vreemd klink, maar binne die regte konteks sal lesers sien dit het Bybelse legitiemheid. Die mite is: die preek is die kern van die gemeentelike byeenkoms.

In hul opspraakwekkende boek, Pagan Christianity, probeer Viola & Barna ‘n saak uitmaak rondom hierdie kwessie. Myns insiens slaag hulle gedeeltelik daarin met goeie argumente, maar hul siening is té bevooroordeeld rondom die voorkoms van die preek as instrument in die bediening van die evangelie, en gaan daarom mank aan ‘n gebalanseerde perspektief.

Prediking is sedert Ou-Testamentiese tye ‘n normatiewe praktyk wanneer gelowiges byeenkom:  “Ek het ‘n blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering verkondig; kyk, my lippe bedwing ek nie. HERE, U weet dit.” (Ps. 40:9). Dit is hierdie selfde  “blye boodskap” waarvan Jesaja ook geprofeteer het: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges …” (Jes. 61:1), wat Jesus later net so herhaal het in Luk. 4:18-19. Alhoewel Jona se mandaat uiteraard meer profeties-evangelisties van aard is, was dit ‘n baie duidelike predikingsmandaat: Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé, en verkondig daar die boodskap wat Ek jou sal sê.” (Jona 3:2)

As die Nuwe Testament ‘n aanvang neem, spel Jesus ondubbelsinnig die predikings-opdrag in Luk. 9:60 uit: “Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.” Dwarsdeur die nuwe bedeling staan prediking sentraal, soos wat Paulus dit byvoorbeeld ook in Kol. 1:28 voorhou: “Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig …”

Viola & Barna se pleidooi om minder prediking in die gemeente kan nie staande bly teen byvoorbeeld  die sterk uitspraak in 2 Tim. 4:2 nie: “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering …” Die grondslag hiervan is die gedeelte in Rom. 10:13-15 wat die verspreiding van die blye boodskap in reliëf plaas met prediking en lering gee: “Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?  En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo? Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”

In die lig hiervan is dit noodsaaklik om te kyk na wat dan wel die rol van prediking in die erediens moet wees.

 

  • Sela: Hoeveel het prediking jou geloofsgroei gebaat?
  • Lees: 43-45; 49; 84-85; 87
  • Memoriseer: 49:15
  • Delf dieper: Luister na Tom Gous se cd-lering: Lering as “measuring the Pattern”.