Dag 903-904

 

“en my rede en my prediking was nie in oorredende

woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag …”

(1 Kor. 2:4, OAV)

 

In sy boek, The Empty Pulpit, slaan Clyde H. Reid die spyker op die kop met sy stelling dat die eietydse preek in die gemeente die harte kan verwarm, die intellek kan uitdaag en strek, die emosies kan aanwakker, en die luisteraar se wil en keuses kan aanspreek, maar dat dit  hoogstens die doeltreffendheid van ‘n stimulant het – die langtermyneffekte daarvan is selde te sien. Ons almal wat ons broeke blink gesit het op kerkbanke kan getuig hoe klein die retensie van die preekinhoude was, hoe kort die duur van die invloed daarvan was, en hoeveel saad van die Woord met die loop van tyd geaborteer is. “Much is preached, but little ever lands. Most of it is aimed at the frontal lob. Contemporary pulpiteerism generally fails to get beyond disseminating information and on to equipping believers to experience and use that which theyn have heard.” (Viola & Barna, p. 99).

In die lig hiervan is dit noodsaaklik om te kyk na wat dan die rol van prediking en lering in die byeenkoms van die ekklesia moet wees.

Jesus word, interessant genoeg, ook voorgehou as “’n leraar … van God” (Joh. 3:2), en vroeg al kry ons Hom “in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra” (Luk. 2:46). Ook in die eerste Handelingekerke was hierdie roeping uitgeoefen, want daar word spesifiek verwys na die voorkoms van leraars “in die plaaslike gemeente in Antiochíë”   (Hand. 13:1). Paulus noem dat hy deur God “aangestel is as prediker en apostel en leraar” (2 Tim. 1:11).

In die Nuwe-Testamentiese ekklesia speel die leraar en die evangelis as deel van die vyfvoudige bediening (Efes. 4:11) ‘n sentrale rol. MAAR geformaliseerde lering, veral die preektradisie soos ons dit vandag ken, was nie wat deur die Bybel bedoel word met die Woordverkondiging in die gemeentes nie. Ons preektradisie kom uit die Grieks-Romeinse kultuur, wat ‘n baie hoë premie op die welsprekendheid en dramatiese vertolkingskrag van oratore geplaas het (Hatch: Influence of Greek Ideas and Usages; Brilioth: Brief History of Preaching). Die manipulasiewaarde van die voordrag was veel belangriker as die waarheid van die boodskap (Norrington: To Preach or Not). Die toehoorders het nie deelgeneem nie, maar is monologies toe-gespreek (Oates: Protestant Pastoral Counseling). Die klem het geval op die preek as artefak, en hoe welsprekend en geïnspireerd die kunstenaar (hier die prediker) dan ook is (Soccio: Archetypes of Wisdom: An Introduction to Philosophy).

[In navolging van hierdie tradisie is dit vandag steeds die geval dat mense swymelend ná ‘n preek vir die prediker sal sê: Dit was nou so ‘n mooi preek, Pastoor! Wat sou dit beteken? Mooi? Verdien dit applous? As dit ‘n estetiese ontroering uitgelok het, deurspek met allerlei stembuigings, gedigte, mooi woorde, en so meer, het dit bes moontlik sy primêre doel verloor.]

Deur die geweldige invloed van Aristotles se filosofiese handleiding, Oor Poëtika, het die drieledigheidstruktuur van die retoriek ‘n sterk  inslag in die konstruksie van die preek gevind. Elke preek het dus ‘n Begin, Middel en Einde gehad, en die Middelgedeelte het gewoonlik drie hoofpunte gehad. Die aard van die prediking wat vroeër spontaan in die gemeentes gevloei het, en deurgaans onderbreek is deur vrae en deelname, het plek gemaak vir ‘n geformaliseerde teks deur ‘n professionele voorganger. Dis nie moeilik om te sien dat dit die oorsprong was van die Godsgeleerdes (of dan clergy) nie, want hulle moes ook formele opleiding begin kry in hierdie veld. Die wetenskaplike veld wat so ontwikkel het, word vandag nog aan universitiete en kweekskole aangebied: die homiletiek. Douglas se New Twentieth Century Encyclopedia of Religious Knowledge definieer dit dan ook gepas soos volg: “(a) science, applying rules of rhetoric, which go back to Greece and Rome” (p. 405).

Daar het dus noodwendig algaande al hoe meer liturgiese tradisies in gebruik gekom, en dit het die hele aard van die diens na ‘n teatersituasie verander. Niemand, veral nie die gewone gelowiges (of dan die laity), het meer die vrymoedigheid gehad om tydens die erediens te praat nie. Die gemeente het ten opsigte van lering, asook die uitoefening van geestelike gawes en gemeenskaplike fellowship, stil geword. Interessant dat Martin Luther die kerk ‘n “Mundhaus” (‘n mondhuis) genoem het, want die elokusiespraak uit die orator se mond was die kern van die aktiwiteit (Niebuhr & Williams: Ministry in Historical Perspective). Johannes Calvyn, weer, het sy voorbekering-navorsingstyl oor die sekulêre literêre werke van Seneca presies nét so oorgeplaas in sy bestudering van die Bybel, ‘n styl wat veral deur die Puriteine nougeset nagevolg is, en vandag nog groot inslag het in die kerk (White: Protestant Worship). Die metodiese sistematiek van die gebruik van ‘n perikoop-gedeelte wat ‘n vers-tot-vers-uitleg gevolg het, was aan die orde van die dag (Allen C. Guelzo, in sy artikel: ‘When the sermon reigned’, in Christian History, 1994).

In navolging van die Groot Ontwaking het die Methodiste, en later veral die evangeliste, ook die swawel-en-vuursteen-predikers, asook veral die Pinksterbeweging hul oratoriese aanbieding met ‘n groot geskree, sterk emosionele wisseling en dramatiese appél ingeklee (Pearse & Matthews: We Must Stop Meeting Like This). Hierdie styl is byvoorbeeld duidelik nie wat ‘n groot leraar soos Paulus voorgehou het nie, al was hy deeglik geskool in die Griekse oratorika (Hand. 22:3), was daar geen “fancy mental or emotional footwork by me or anyone else” (1 Kor. 2:5, Msg), ook met geen “voortreflikheid van woorde of van wysheid nie” (1 Kor. 2:1). Paulus het geweet “die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag” (1 Kor. 4:20).

Die gestileerde aard van die boodskap mag nooit die aard van lering of die prediking kortwiek nie, en moet altyd die Liggaam behels. Dit moet ‘n tyd wees waarin die leraar/evangelis voorgaan met wat God op sy hart gelê het, maar met definitiewe deelname en meelewing van alle gelowiges. In Heb. 5:12 word dié appél tot alle lidmate gemaak: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer …” Duideliker as wat Paulus dit in 1 Kor. 14:26 stel, kan dit nie: “Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging—laat alles tot stigting geskied.” Sodoende sal die volgende gebeur: “jou leraars sal hulle nie langer verberg nie—maar jou oë sal jou leraars sien” (Jes. 30:20), en sodoende sal “die leraar tot geregtigheid … op julle (laat) neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns” (Joël 2:23). En sodoende sal die mite dat die preek die kern is van die gemeentelike byeenkoms, ten koste van gemeentelike deelname en ware opbou van alle gelowiges, verwyder word.

 

  • Sela: Hoe moet groot gemeentes dan hierdie saak hanteer? Of setel die probleem juis daarin?
  • Lees: 1 Kron. 3-5; Ps. 116; 77-78.
  • Memoriseer: 78:2

          Delf dieper:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: Word ‘n Leraar van Geregtigheid