Diotrephes, who loves being in charge …”
(3 Joh. 1:9, MSG)
Die vraag tans onder die loep is: Wat is die historiese rede dat die eietydse kerk die dominee of pastoor die spilpunt van die kerk gemaak het en hom/haar so ‘n amper onaantasbare magsposisie laat inneem het? In die vorige Manna is uitgewys dat die tendens by die volk van God gestalte gekry het deur eiesinnigheid, en dat hulle daardeur ook soos ander nasies wou wees (1 Sam. 8:20a).
In ‘n briljante artikel in die geestelike joernaal Concern getiteld: ‘New Presbyter is Old Priest Writ Large’ wys die skrywer uit dat hierdie leiersfiguur in die Nuwe-Testamentiese ‘priesterskap’ steeds in geestelike sake sentraal geplaas word, net soos in die Ou-Testamentiese priesterskap, steeds deur spesiale opleiding, ‘n eiesoortige bekleding, ‘n unieke outoriteit, ‘n eie (teologiese) tongval en ‘n tipe ‘afgesonderde’ lewe. Hierdie Nikolaïete waarteen Open. 2:6 waarsku, wat reeds uitvoerig bespreek is in Dag 170 asook Dag 880, is die strategie waardeur Satan die gemeenskap van die heiliges betree het en ‘n geestelike klassisteem gevestig het waardeur sekere persone met bepaalde geestelike geleerdheid outoriteit oor gewone gelowiges verkry het. Uiteraard is geloofbyeenkomste deur hulle geformaliseer, georganiseer, beheer en gemanipuleer. (Sien ook die volgende twee knap boeke oor hierdie onderwerp: F.W. Grant: Nicolaitanism or the Rise and Growth of Clergy, en Alexander Hay: What’s wrong in the Church?)
Die gees ten grondslag van hierdie werkwyse van ‘n Sataniese priesterskap in die kerk is dié van eiebelang. Diótrefes, waarvan 3 Joh. 1:9 praat, “wat onder hulle die eerste wil wees” is so ‘n voorbeeld. Alhoewel daar in die Nuwe-Testamentiese kerke duidelik “overseers” (Tit.1:7, Darby) moet wees, word dit eksplisiet uitgespel dat hulle veral “nie eiesinnig” moet wees nie.
Die vroeë kerk was gelei deur persone wie se salwing en roeping deur die breë Liggaam van Christus erken is, en het die werk gedoen sonder ‘n betiteling. In Everett Ferguson se navorsing: Early Christians speak: Faith and Life in the First Three Centuries wys hy uit hoe die begrippe “opsieners” (“overseers”), herders en ouderlinge dwarsdeur die Nuwe Testament dieselfde beteken het. Waar Engelse vertalers die woordjie “bishop” kies vir “voorganger”, is dit nie gelaai met die geestelike onaantasbaarheid en kerklike posisie wat ons vandag aan die term heg nie. Die etimologie van die Griekse woord dui op ‘n verantwoordelikheid soortgelyk aan dié van ‘n voog wat homself uitdeel ter wille van die begeleiding van gelowiges ten opsigte van ‘n spesifieke doel. Hierdie Godgegewe (en nié mensgegewe) verantwoordelikheid is soortgelyk aan dié van ‘n dienskneg (Fil. 1:1). Al die kenmerke van die lewe van hierdie voorganger, soos wat soos in 1 Tim. 3:2-7 uitgespel word, is KARAKTERTREKKE van die “goddelike natuur” (2 Pet. 1:4) en nie administratiewe vaardighede, teologiese onderlegging of bestuursvaardighede nie. Dit is veral nie ‘n posisie “hoër” as ander gelowiges nie, maar duidelik ‘n dienende posisie (Fil. 2:3-8), ‘n ingesteldheid om onderdanig aan mekaar te wees (Efes. 5:21).
- Sela: Meet jou geestelike voorlopers aan hierdie Bybelse voorskrifte.
- Lees: 93, 102-104
- Memoriseer: 104:4
- Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.