Dag 91

 

“Want al die tafels is vol walglike uitbraaksel” (Jes 28:8, OAV)

Die gebruik van nagmaal is streng net vir hulle wat deel is van die Liggaam, dié wat uit dieselfde Baarmoeder gebore is. Dit is nié vir diegene wat bloot godsdienstig is, deel is van ‘n kerk, as babatjies gedoop is, en so meer nie. Omdat gelowiges dikwels nie die Liggaam onderskei nie, deel hul die nagmaalstafel met heidene (hoe godsdienstig hulle ook al mag voorkom)! Skrik!

In 1 Kor 10:18-21 spreek Paulus hom baie skerp uit oor hierdie naiëwiteit in die gebruik van die nagmaal. Hy wys duidelik uit dat die nagmaaltafel ‘n verbondstafel en derhalwe ‘n altaar word. As jy saam met nie-wedergeborenes nagmaal gebruik, hou jy as deel van die “liggaam” met duiwels gemeenskap (vers 20)! Vers 21 sê: “Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.”

  In Jud 1:12 word hierdie nie-wedergeborenes “skandvlekke in julle liefdemaaltye” (“warts” – Message) genoem, “wat sonder vrees saam fees hou en hulleself voer, waterlose wolke deur winde rondgedrywe, bome in die nasomer, wat sonder vrugte is, twee maal gestorwe, ontworteld”. Onthou: dit is goeie kerkmense van wie hier gepraat word, maar diegene wat godsdiens beoefen, en nie verhouding met die Hoof het nie – hul is dus nie Liggaam nie. Die woordjie “skandvlek” in die aanhaling hiervoor is eintlik nie ‘n goeie vertaling nie. Dit dui letterlik op ‘n ongesiene rots in die see, “metaphorically of men who by their conduct damage others morally, wreck them as it were” (Thayer). As die see in die Skrif ‘n duiding is van vleeslikheid, “humanity”, dan word hierdie rots ‘n gevaar vir enige vaartuig van God – dit laat jou op die rotse loop.

Paulus waarsku derhalwe dringend in 1 Kor 11: 29 dat ons “die liggaam van die Here” moet “onderskei”/ discern. Omdat ons dit nie doen nie, sê hy: “is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap” (vers 30). Baie van die krag van gelowiges wat deur vreemdes verteer word, gebeur sonder dat hulle dit bemerk (Hos 7:9); baie deel in ander se siektes bloot deurdat hulle nagmaal gebruik het; daar is selfs mense wat daardeur gesterf het!

Ek en my gesin gebruik net nagmaal met diegene wat ons onteenseglik weet wedergebore is. Die gebruik van nagmaal in die massakerk waar mense mekaar nie eens ken nie, is duidelik ‘n geweldige probleem – moet nooit nagmaal gebruik as jy nie seker is van diegene met wie jy aan die tafel sit nie. Té dikwels is hierdie tafels vol walglike uitbraaksel. 

  • Sela:  Vra vergifnis dat jy nie voorheen die Liggaam van Christus onderskei het nie. Bid vir losmaking van enigiets 

wat sodoende ongevraagd jou deel geword het.

  • Lees: Rigt 1; Ps 91; Hand 1 
  • Memoriseer: Hand 1:8
  • Vir dieper delf: Lees hfst 11 in Charles Colson se boek The Body.