“Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat
gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem.
Maar so moet julle nie wees nie …”
(Luk. 22:25b-26a, OAV)
Op ons ondersoektafel is steeds die historiese vestiging van die mite dat die dominee/pastoor die ‘sentrum’ van die ekkleasia is.
Michael Grant, in sy boek oor kerkgeskiedenis en die sosiologiese invloed daarop op die onmiddellike gemeenskap: Early Christianity and Society, wys uit hoe sedert Konstantijn die wêreldregering as ‘t ware aan die begin van die vierde eeu oorgeneem het, dit ‘n direkte rol ook op die kerkleierskap uitgeoefen het. Omdat die regering in ‘n enkele persoon of despoot gesetel was, en van daar hiërargies afgewentel het, was dit maklik om ander strukture ook te bou waar die gesag in ‘n enkele persoon gesentreer was. “The organization of the church adapted itself to the political and geographical divisions of the Empire.” (Philip Schaff: History of the Christian Church). Mettertyd “the church became a full-fledged, top-down, hierarchically organized society” (Viola & Barna: Pagan Christianity).
In sy boek, Ceaser and Christ, stel Will Durant dit onomwonde: “When Christianity conquered Rome the ecclesiastical structure of the pagan church, the title and vestments of the pontifex maximus … and the pageantry of immemorial ceremony, passed like maternal blood into the new religion, and captive Rome captured her conqueror.”
Hierdie stand van sake was duidelik teen die grein van die aanslag van Jesus. In reliëf met die politieke hiërargie stel Jesus die werkinge van outoriteit in die koninkryk van God in ‘n totaal ander sisteem: “Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Mat. 20:25-28).
Dis belangrik om daarop te let dat Jesus (ook Paulus later) ‘n nuwe orde ten opsigte van leierskap voorstel. Vir die nuwe Israel is daar net een hoof, en dit is Jesus (Kol. 1:18).
Binne hierdie Romeinse sisteem het die clergy (wat nou al ‘n hele hiërgiese sisteem van dienswerkers geword het) dieselfde outoriteit gedra as die hoë gesagsfigure in die Romeinse Ryk. Die priesters en geestelike leierskap het baie ander voorregte ook geniet. Hulle hoef byvoorbeeld nie plaaslike diens in die gemeenskap te verrig nie; hulle kon nie gedagvaar word om in die hof te verskyn nie; en hulle hoef ook nie weermagopleiding te ondergaan nie (Collins & Price: The Story of Christianity).
As erkenning vir hul werk, asook om hul statuur daardeur te vestig, het Konstantijn een van die grootste euwels van die Christelike kerk gevestig – elkeen van hierdie godsgeleerde presbieters het jaarliks ‘n ministeriële salaris ontvang. In 313 n.C. het hierdie salaris dan ook blastingvry geword (Richard Hanson: The Christian Priesthood Examined).
- Sela: Sien jy die eietydse kerkorganisasie in hierdie historiese oorsig?
- Lees: 106-107
- Memoriseer: 106:15 (pas ook toe op hierdie studiestuk)
- Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.