Dag 914-916

 

“Unlike so many, we do not peddle the word of God for profit. On the contrary,

in Christ we speak before God with sincerity, like men sent from God.”

2 Kor. 2:17 (NIV)

In die vorige Mannas is duidelik uitgewys die salaris van die dominee/pastoor is nie ‘n Nuwe-Testamentiese beginsel nie. Trouens, die Woord waarsku eksplisiet daarteen. Met die onBybelse gebruik van salarisse van voltydse bedienaars as argument nou uit die weg geruim, is dit tog van groot belang om wel net enkele aanmerkings oor die finansiële verantwoordelikheid van gelowiges te maak.

Eeue se manipulasie en emosionele druk van Godsgeleerde kerkleiers op hulle skape om “God nie te beroof” nie, á la Mal. 3:8, veroorsaak by die meeste gelowiges ‘n allergiese reaksie as jy kerk en geld in een asem noem. Nié dat die bloedgeld uiteindelik na God toe gaan nie – Hy het dit trouens nie nodig nie: “Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die HERE van die leërskare.” (Hag. 2:8). Die “hele tiende (wat) na die skathuis” gebring moet word, word eietyds summier geïnterpreteer as dat die geld na die geestelike voorlopers toe moet kom. Ons is so gekondisioneer deur skuldgevoel dat God ons net kan seën as ons ons (volle) tiende gee. Dikwels sal mense dan ook by die pastoor wil weet: bereken vóór of ná belasting? (Waarop die pastoor gewoonlik gemaklik antwoord – “Dit hang af of jy God wil toelaat om jou op die bruto of die netto te wil seën.” I kid you not.)

Waarheen gaan die tiende? Miskien ‘n deel vir die evangelisasie van die ongeredde wêreld; dalk ‘n klein bietjie vir die wees, minder vir die weduwees; dalk vir mense wat swaar kry in die kerk (maar beperk, hoor – ‘n mens moet hulle leer om vis te vang …) Statistiek wys uit dat die gemiddelde kerk 2,6% van hul inkomste na tydelike fisiese nood, sending, kerkplanting en hulpbehoewendes gaan. Die oorgrote meerderheid van die lidmate se geld (97,4%) word opgeslurp deur die salarisse van die voltydse persone en die kerk se uitgawes rondom die gebou, albei helaas onderskryf deur onskriftuurlike mites.

Selfs ‘n nuwe denker oor kerkwees, soos byvoorbeeld Donald Miller, in sy boek Blue Like Jazz, skryf ‘n hele hoofstuk oor hoe skuldig hy gevoel het oor hy nie sy tiende aan die kerk gegee het nie, en hoe hy toe deur sy gewete en ‘n nonchalante “tither” aangespreek is – natuurlik op grond van Mal. 3:8-11 – en hoe hy dit begin doen het, en hoe sy lewe totaal verander het. Too blessed to be stressed! Die boek in in ‘n hupse eietydse taal geskryf, maar die misleiding ten grondslag daarvan is baie oud.

Die tiende wat deur die kerk afgedwing word, is ‘n Ou-Testamentiese beginsel, met ‘n verkeerde eietydse verstaan daarvan, én verkeerde motief ten grondslag.

In sy boek Beyond Tithing wys Stuart Murray uit hoe die beginsel in die Christelike era inslag gevind het deurdat die Europese landpagters grond gehuur het en ‘n tiende van die opbrengs betaal het aan die landhere. Met die kerk se toenemende integrasie met die staat het die tien persent huur geskuif van die sekulêre grondbaronne na die ampsdraers van die kerk toe. “And the tithe became the ecclesiastical tax.” (Viola & Barna: Pagan Christianity). Met die verloop van tyd is dit deur die kerkleiers geregverdig deur die gelykstelling daarvan met die Ou-Testamentiese sisteem van tiendes. Dit het egter geen grondslag in die Nuwe Testament nie, alhoewel dit deurgaans streng so voorgehou word. Die navorser Alan Kreider, in sy boek, Worship and Evangelism in Pre-Christendom, wys uit dat die kiemsel van hierdie bewussyn beslag gekry het rondom die sinode van Tours in 576 n.C, sterker beklemtoon deur die sinode van Macon in 585 n.C., wat lidmate selfs met ekskommunikasie gedreig het indien hul tiendes nie betaal is nie.

Dis dan belangrik om te weet dat die enigste “sinode” waarvan die Bybel praat, as ons dit enigsins so kan noem, en waarvan ons in Hand. 15 lees, hierdie spesifieke Ou-Testamentiese beginsel geensins uitlig uit die wet en as ‘n Nuwe-Testamentiese wetmatigheid voorhou nie. Vier ander wette of riglyne (vers 29) word ter wille van die gewete van Jode voorgehou, maar die gee van tiendes is baie beslis nie een daarvan nie. Trouens, in sy argument maak Petrus ‘n stelling wat in die gees van die hele gesprek vandag nog vir my seker die geldigste maatataf is (ook) rondom tiendes: “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?” (vers 10).

God se wesensaard is liefde (1 Joh. 4:16), en liefde behels altyd keuse. En God wil glad nie keuse uit dwang of straf (of ewenwel seëning of voorspoed) afdwing nie, maar uit ‘n blymoedige hart. Daarom is 2 Kor. 9:7 een van die belangrikste rigtinggewers rondom finansies uit God se perspektief: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.” Hierdie Skrif maak dit absoluut duidelik dat die Nuwe Testament glad nie werk met die tiende as vaste wet nie.

Die voorafgaande konteks wat lei tot hierdie Skrif is baie insiggewend (my uitheffing): “Want wat die diensbetoning aan die heiliges betref, is dit vir my oorbodig om aan julle te skrywe … Ek het dit dus noodsaaklik geag om die broeders te versoek om vooruit te gaan na julle toe en julle vroeër aangekondigde dankoffer vooraf in orde te bring, sodat dit gereed kan wees as ‘n dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie. Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.  Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.” ( 2 Kor. 9:1-2, 5-7).

Eenvoudiger kan dit nie gestel word nie! God werk met jou blymoedige vrywilligheid van keuse, soos die CEV-vertaling dit mooi noem: “Then you will have the chance to give because you want to, and not because you feel forced to.”

Hiermee saam word geen vasgestelde riglyn vir ‘n vaste persentasie van jou verdienste vereis nie. Hand. 11:29 spel dit uit: “En die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon.”

In 2 Kor. 8;1-5 (Message) vertel Paulus dan van ‘n ander groep huisgemeentes wat hierdie beginsel ten volle begryp en uitgeleef het: “Now, friends, I want to report on the surprising and generous ways in which God is working in the churches in Macedonia province. Fierce troubles came down on the people of those churches, pushing them to the very limit. The trial exposed their true colors: They were incredibly happy, though desperately poor. The pressure triggered something totally unexpected: an outpouring of pure and generous gifts. I was there and saw it for myself. They gave offerings of whatever they could–far more than they could afford!– pleading for the privilege of helping out in the relief of poor Christians. This was totally spontaneous, entirely their own idea, and caught us completely off guard. What explains it was that they had first given themselves unreservedly to God and to us. The other giving simply flowed out of the purposes of God working in their lives.”

Daarom dan hierdie duidelike algemene riglyn van Paulus bietjie verder aan: “Let the eagerness you showed in the beginning be matched now by your giving. Give in proportion to what you have. Whatever you give is acceptable if you give it eagerly. And give according to what you have, not what you don’t have.” (2 Kor. 8:11-12, NLT).

Die oorvloedige Skrifbewyse hierbo dui onteenseglik daarop dat daar wel voorsien moet word vir twee spesifieke groepe: enersyds aan die heiliges, die wees, die weduwee, en die vreemdeling wat in jou poorte is (sela, asseblief spesifiek hieroor), en andersyds vir hulle wat “in diens van die heiliges” (Rom. 15:25) is.

Die gee van geld en middele aan die hulpbehoewendes en armes (Gal. 2:10) word ook deur bepaalde Skriftuurlike beginsels gereguleer, maar dit is nie nou soseer ter sake nie. Net ter wille van ‘n ontvouende argument, wil ek net een van hierdie beginsels voorhou, uit 2 Thes. 3:10 – “Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Hierteenoor gebruik Paulus in 1 Kor. 9:13 dieselfde metafoor: “om te eet” as hy praat van diegene wat geroep is om hul lewe uit te giet vir die verkondiging van die evangelie: “– “Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie?” In Heb. 6:10 word dit duidelik gemaak waarom dit die geval is: “Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien.”

As ons dan nie hoef salarisse te betaal aan bedienaars nie, het gewone gelowiges wat deur hulle bedien word dan wel ‘n bepaalde finansiële verantwoordelikheid teenoor hulle? Ons het vroeër 1 Kor. 9:13 as Nuwe-Testamentiese maatstaf voorgehou, maar lees nou vers 14 daarmee saam: “Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.”

1Tim. 5:18 is ‘n ondubbelsinnige riglyn: “Want die Skrif sê: Jy mag ‘n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.” ‘n Geslag lesers wat nie die landboumetafoor ken wat hier gebruik word nie, sal dalk baat vind by die ‘n meer konstekstuele verklaring van die eerste deel van die vers: “”When an ox is working in the grain, do not cover its mouth to keep it from eating,” and “A worker should be given his pay.” (NCV).

Die opdrag is dus eksplisiet – geen voltydse salarisse of vergoeding vir dié wat deur God geroep is en wat deur Hom “getrou geag en in die bediening gestel” (1 Tim. 1:12) is nie, maar Rom 12:13 stel dit duidelik: “Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges …” Hierdie argument word volledig aangebied in 1 Kor. 9:7-11: “ Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ‘n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai?”

Kortom: 1 Kor. 9:14 (NLT): “In the same way, the Lord ordered that those who preach the Good News should be supported by those who benefit from it.”

In die volgende Manna sal ons in detail kyk na die Ou-Testamentiese tiende, die rol wat die Leviete in die ontvangs daarvan gespeel het, en wat die implikasies is vir die priesterdom van “hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook ‘n tiende deel van alles gegee het” (Heb. 7:1-2).

 

  • Sela: Hoe oop is jou hart en jou hand teenoor hulle wat jou met die Woord bedien?
  • Lees: 89, 96, 100, 101, 105, 132, 2 Sam.7, 1 Kron. 17; Ps. 25, 29, 33, 36 & 39.
  • Memoriseer: 100
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Bybelse verstaan van tiendes