“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder
die juk van diensbaarheid bring nie.”
(Gal. 5:1, OAV)
Daar is in die vorige Manna belowe ons gaan kyk na die Ou-Testamentiese tiende, die rol wat die Leviete in die ontvangs daarvan gespeel het, en wat die implikasies is vir die gelowiges van die nuwe verbond, en dan veral vir die priesterdom van Melgisédek.
In die Ou Testament is die begrip ‘tiende’ nooit as ‘n godsdienstige begrip gebruik nie, maar as ‘n finansiële of wiskundige begrip. Die woordjie in Hebreeus (“maaser”) en in Grieks (“dekate”) beteken bloot “’n tiende deel van die geheel”.
Interessant genoeg is daar streng gesproke glad nie net ‘n tiende van die Israeliete gevra nie! Drie soorte tiendes word in die Ou Testament onderskei:
- Volgens Lev. 27:30-33 en Num. 18:21-31 moes ‘n tiende van die opbrengs van jou land aan die Leviete gegee word, want hulle het nie ‘n fisiese erfdeel in die beloofde land gehad nie.
- Volgens Deut. 14:22-27 moes daar ook ‘n tiende van die opbrengs van jou land geneem word na Jerusalem vir die feeste. Daar moes die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is saam met jou dit geniet.
- En dan, volgens Deut. 14:28-29 en 26:12-13, was daar ook ‘n driejaarlikse tiende vir al die plaaslike Leviete, wees, weduwees en vreemdelinge in jou poorte.
Dus moes elke wetsgetroue Israeliet nie net tien persent van sy inkomste gee nie, maar ‘n groottotaal van 23,3% daarvan, elke jaar! Volgens Neh. 12:44, Mal. 3:8-12 en Heb. 7:5 het God streng al drie hierdie offerhandes vereis. Dit was die opbrengs van die land, wat in gevalle waar dit nie fisies na Jerusalem vervoer kon word nie, wel tot geld omgesit kon word, maar dit was nie allereers ‘n geldwaarde nie. ‘n Mens sou dit gemaklik kan vergelyk met die moderne belastingsisteem.
Dit is dus baie interessant dat die konsep van die tiende GEENSINS gekoppel word daaraan om die “clergy”, of “Christian professionals” te onderhou nie, inteendeel. Een van die spesifieke tiendes was bedoel om as ‘t ware partytjie te hou! Die noukeurige opdrag hier rondom vind ons in Deut. 14:22-29. Maak jou gereed vir ‘n verskriklike skok: “Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad—wat jaar vir jaar uit die land uitspruit—vertien. En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees. En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, as die HERE jou God jou sal seën, dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek gaan wat die HERE jou God sal uitkies. Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE jou God en vrolik wees, jy en jou huis. Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie. Aan die einde van drie jaar moet jy uitbring al die tiendes van jou opbrings in dié jaar en dit in jou poorte wegsit; dan moet die Leviet kom—omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie—en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet eet en versadig word, sodat die HERE jou God jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen.”
Deut. 14:26 in die Message stel dit onomwonde: “Use the money to buy anything you want: cattle, sheep, wine, or beer–anything that looks good to you. You and your family can then feast in the Presence of GOD, your God, and have a good time.” Vreemd genoeg klink dié Ou-Testamentiese riglyn van die tiende baie soos die hart van Jesus: “Maar wanneer jy ‘n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie …” (Luk 14:13-14a)
Hoe ver verwyderd is dit nie van die tiendes wat eietydse Nuwe-Testamentiese predikers afdreig van gelowiges nie! Hulle klink soos dié wat in Luk. 5:39 sê: “En niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: Die oue is beter.” Die ou wyn van die tiende is helaas geen borg van iets beters nie, maar hou ons in teendeel onder die vloek van die wet: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” (Gal 5:4). Sela.
Ten spyte van die skrywer R. Johnston, in sy haelgeweerbenaderingboek Lie of the Tithe, se swak skryf- en publikasiestyl, wys hy op vermaaklike wyse die belaglikhede van moderne predikers se aanspraak op die tiende as ‘n wet. Ons hoef nie ook daarop in te gaan nie, maar dit is duidelik dat die konsep van die tiende op ‘n onskriftuurlike wyse aangegryp is deur bedienaars om hulle van ‘n vaste salaris te verseker.
Ter afsluiting oor tiendes: die Nuwe Testament is veel meer radikaal oor ons kompromislose oop hand onder leiding van die Heilige Gees as wat die Ou Testamentiese wet oor tiendes ooit kan wees. As ons in alles van die Heilige Gees se leiding afhanklik is, waarom nie ook oor dit wat ons moet saai nie?
Die mees skrikwekkende verhaal oor hoe finansies en die gee/nie-gee daarvan verreikende gevolge kan hê vir gelowiges, is in Hand. 5, die verhaal oor Ananías en Saffíra: “Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop, en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe. En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het. En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel. En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra. Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het … En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer.” (Hand. 5:1-11 & 13).
Lees weer die Skrifgedeelte oor die tiende hierbo in Deut. 14, veral vers 23, wat die rede voorhou hoekom God die tiende in die Ou Testament geëis het: “dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees”. Ons weet uit Rom. 15:4 (NIV): “For everything that was written in the past was written to teach us …” en binne die nuweverbondse beginsels leer die verhaal van Ananías en Saffíra ons geweldig baie:
- Ananías en Saffíra het VRYWILLIG besluit om ‘n deel van hul inkomste te saai in die Koninkryk van God. Tereg sê Petrus vir hulle: “While you still owned the land, wasn’t it yours to keep, and after you had sold it wasn’t the money yours to do with as you liked?” (vers 4, NJB). Daar was geen verpligitng op hulle om te gee nie.
- As hy voorts sê: “Satan (het) jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg”, beteken dit die Heilige Gees eksplisiet aan Ananías en Saffíra gesê het wat om wél te gee.
- Hulle ongehoorsaamheid beteken letterlik dat hulle aan die Heilige Gees, wat saam met hul gewete getuig het van wat God vereis het, ongehoorsaam was. Paulus verwoord dit só in Rom. 9:1 – “Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie – my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees.” Hier roep Paulus die volle getuienis van die Christus op om as die “wolk van getuies” (Heb. 12:1) namens hom te getuig. Hierdie in aggenome, word oneerlikheid in die gees ‘n kompromittering van die Hoof Jesus, en sy volle gesalfde Liggaam, die Bruid van Christus. Die volle Liggaam word hierdeur beklad en besoedel (Heb. 12:15; 1 Kor. 12:26a).
- Die kans is groot dat Ananías en Saffíra, al word dit nie eksplisiet gesê nie, hul gawe aan God aan die groot klok gehang het. Hulle wou bes moontlik hê hul medegelowiges moes weet dat hulle hand oop is vir die werk van die Here. In Mat. 6:1-4 spreek Jesus Hom baie sterk hieroor uit: “Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie. Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ‘n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.”
- Die kruks van gee vir God lê geensins by mense nie, maar by “waarheid in die binneste”, dít waaroor God ‘n welgevalle het (Ps. 51:6). Ons lieg dus nie vir mense, of vir onsself nie, maar vir God.”
- Dit is veral baie insiggewend dat toe Saffíra haar kant van die storie moes vertel, Petrus vir haar sê: “Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” Om die Gees van die Here te versoek, het geweldig baie implikasies, wat vra vir ‘n ondersoek op sigself (ons gaan dit in die volgende Manna hanteer).
- Die mees skrikwekkende ding is dat Ananías en Saffíra fisies sterf as gevolg van hierdie saak. Verstaan jy dalk nou beter hoekom tiendes in die Ou Testament ons moes geleer het om die Here te vrees?
Ananias se naam beteken, ironies genoeg: “whom Jehovah has graciously given”. Die kruks van dankoffers lê in Rom. 8:32 – “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”
- Sela: Ondersoek die diepgang van die implikasies van die laaste paragraaf.
- Lees: 2 Sam. 8-10; 1 Kron. 18-19; Ps. 50, 53, 60, 75 & 20;
- Memoriseer: 50:5 (en let op die sinchronisasie!)
- Delf dieper: Lees R. Johnston se boek: Lie of the Tithe