“Waarom het julle … die Here … versoek?”
(Hand. 5:9, OAV)
As deel van ons ondersoek na die Ou-Testamentiese tiende, die rol wat die Leviete in die ontvangs daarvan gespeel het, en wat die implikasies is vir die gelowiges van die nuwe verbond, het ons die vorige Manna geëindig met die verhaal van Ananías en Saffíra in Hand. 5, en spesifiek Petrus se woorde aan Saffíra in vers 9: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek?” Ons moet vir ‘n wyle hier stilstaan om die belangrikheid van hierdie saak vir ons te agterhaal.
In 1 Kor.10:9 skryf Paulus hierdie skrikwekkende woorde: “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom.”
Die konserwatiewe Young’s Literal Translation vertaal dit soos volg: “neither may we tempt the Christ, as also certain of them did tempt, and by the serpents did perish”.
Die uitdrukking: “the Christ” vra om geïnterpreteer te word binne die verstaan van “Jesus en sy Christus”, soos Open. 11:15 dit noem, wat ons in verskeie Mannas al verduidelik het. Dit is uitsonderlik opvallend dat Paulus, “(who) weighs his words throughout … because the gospel of Jesus Christ is so vitally important” (bible.com), hier eksplisiet ons aandag wil vestig op die aanwesigheid van die korporatiefheid van die term. Christus is die versamelterm van die Gesalfde = Jesus die gesalfde Hoof + sy gesalfde Liggaam, die Bruid. Hierdie Bruid, sê Efes. 1:4, het “Hy … in Hom uitverkies … voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees”. As die Bruid dus voor die grondlegging van die wêreld bestaan het, het sy duidelik bestaan in die Ou Testament! Daarom is dit die kohesiewe eenheid van Jesus en sy Bruid, die Christus, waarteen die volk in die woestyn opgestaan het!
Die Ou-Testamentiese verwysing in 1 Kor. 10:9 is na Num. 21:5-6: “En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos. Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe.”
Interessant dan – die volk het teen God en teen Moses (en Aäron – Num. 20) – hier tipologies dan van die Christus – in opstand gekom en dus versoek.
Om Christus te versoek, beteken dan duidelik nie net om God, of Jesus, of die Heilige Gees te versoek nie, maar oor ook om die Bruid te versoek! Alles wat die Amplified-vertaling in sy uitgebreide parafrase oor “the Lord” sê, is ook van toepassing op gelowiges se versoeking van die Bruid: “We should not tempt the Lord [try His patience, become a trial to Him, critically appraise Him, and exploit His goodness] as some of them did–and were killed by poisonous serpents …”
Duidelik is dit wat die skrikwekkende geskiedenis van Ananías en Saffíra vir ons kommunikeer – God het nie hul vrywillige offer nodig gehad nie, ook nie soseer die Liggaam nie. Maar hulle het hulle skuldig gemaak aan die kernprobleem ten grondslag van Num. 21:5-6, wat Eks. 17:7 raak weergee: “omdat hulle die HERE versoek het deur te sê: Is die HERE in ons midde of nie?”
Ananías en Saffíra het nie die werklikheid van God se teenwoordigheid in sy Christus erken nie, en het daarom “nie vir mense gelieg nie, maar vir God” (Hand. 5:4). Al is hulle Christene, werk die gees van die antichris deur hulle: “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.” (1 Joh.4:2-3).
Om die groter omvang hiervan te verstaan, lees hiermee 1 Kor. 6:13b-20 saam, en begin dit in alles in hierdie nuwe lig verstaan: “En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here; en die Here vir die liggaam. En God het ook die Here opgewek en sal ons opwek deur sy krag. Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? Sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van ‘n hoer maak? Nee, stellig nie! Of weet julle nie dat hy wat ‘n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie? Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees. Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom. Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam. Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
Ons versoek God dus wanneer ons nie die Christus in ander (h)erken nie. Die rede hiervoor is dikwels eiesinnigheid, geestelike narcissisme, selfsugtigheid. Daarom is te verstane dat God eksplisiet in 1 Sam. 15:3 (HCSB) waarsku: “For rebellion is like the sin of divination, and defiance is like wickedness and idolatry.” [Webster verklaar “defiance” as: “A daring; a challenge to fight; invitation to combat; a call to an adversary to encounter …”]
Ananías en Saffíra het ook veral die Liggaam versoek. Jesus waarsku ernstig daarteen in Mat. 18:6 – “maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see”. In ‘n lering van Matzie Lee bring sy “meulsteen” in verband met die Christus (volgens Thayer se definisie van “millstone” – “metaphorically of Christ”) en kom tot die insig dat dit Christus wat in die gees om die nek van eiesinniges gehang word wat ander laat struikel, om hulle te dwing tot versoen.
Die belangrikheid van die Bruid as korporatief lê alles ten grondslag – die een stad (Open. 21), dis een wat die prys verkry (1 Kor. 9:24), dis een brood (1 Kor. 10:17), dis een Liggaam: “so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar” (Rom. 12:5).
Kol. 3:15 bring die kruks rondom hierdie saak van ‘om die Here te versoek’ en geestelike eiesinnigheid: “En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.” Die Message vertaal dit soos volg: “Let the peace of Christ keep you in tune with each other, in step with each other. None of this going off and doing your own thing. And cultivate thankfulness.”
Dis om hierdie rede dat Jesus aan die ryk, jong man die (ongewone) opdrag gee om alles wat hy het, te gaan verkoop en uit te deel. (Mark. 10:19-22). Dis nie ‘n generiese opdrag vir alle gelowiges nie, maar vir hom spesifiek, omdat hy (eiesinnig) deur sy geld en besittings beheer is (Mat. 6:21). Interessant dan dat sy ongehoorsaamheid rondom geld die res van die Liggaam (hier die dissipels) bepaald laat struikel: “En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word?” (Mark. 10:26).
Finansiële eiesinnigheid versoek God, en laat die Liggaam struikel.
- Sela: Vra God of jy finansiële eiesinnig is.
- Lees: 65-67; 69-70; 2 Sam. 11-12; 1 Kron. 20
- Memoriseer: 66:15 (translitereer dit in nuweverbondsterme, en sela).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Vlieë in die Heilige Salfolie