Dag 923-925

 

“Hy moet meer word, maar ek minder.”

(Joh. 3:30, OAV)

In die vorige Mannas het ons geleer dit was ‘n wet dat ‘n deel van die tiendes wat die Israeliete moes gee, spesifiek na die Levitiese priesterdom moes gaan. Bestaan hierdie priesterdom dan nog in die Nuwe Testament?

Ons het in Mannadag 683-684 hierdie saak deeglik deurgetrap. Net ‘n paar sake om jou geheue te verfris:

 

  • Die eerste verbond moes mee weggedoen word, sodat die laaste verbond ‘n aanvang kon neem. Heb. 7:12 (Ampl) stel dit só: “For when there is a change in the priesthood, there is of necessity an alteration of the law [concerning the priesthood] as well.”
  • In die eindtydtempel, wat nie meer ‘n fisiese gebou is nie (Hand. 17:24), maar ‘n groepering mense (1 Kor. 3:17; Open. 21:9), sal die uit- en afgesonderde seuns van Sadok bedien, en nié meer die seuns van Levi nie.
  • In die laaste boek van die Ou Verbond, Maleági, word die saak rondom die Levitiese    priesterdom op die spits gedryf.
  • Vanaf Adam tot en met nou, sê Jesus, was daar niemand groter van geestelike statuur en belangrikheid as Johannes die Doper nie. Uit Mat. 11:7-12 is dit duidelik dat hy uiteraard ook groter is as Aäron, die hoëpriester. Hierdie vergelyking word doelbewus gemaak, want Aäron is die prototipiese hoëpriester uit wie die priesterdom, en dan ook die seuns van Lévi, voortgekom het. En Johannes die Doper was uit die direkte genealogiese bloedlyn van Aäron! Luk. 1:5 verduidelik dit soos volg: “Daar was …‘n sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet.”
  • Johannes die Doper is nie net groter as sy grootse oupgrootjie-hoëpriester Aäron nie; hy is ook groter as die totale Levitiese priesterdom oor wie Maleági geprofeteer het. Dis die einste Maleági wat voorts geprofeteer het dat die gees van Elia hierdie nuwe bedeling sal inlei.

 

As Jesus dan na Johannes die Doper kom om gedoop te word, verloop die gesprek soos volg:  “Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Toe het Jesus …  na Johannes gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.” (Mat.3:11, 12b-15).

Wat ‘n mens gewoonlik hier mis, is dat dit nie net die twee nefies is wat bymekaar kom nie (Luk. 1:36), maar twee priesterskappe. Uit vorige Mannas is uitvoerig gewys hoe Johannes die Doper en sy pa, die priester Sagaria (Luk. 1:5), die priesterdom van Lévi verteenwoordig. Jesus, weer, kom uit die koninklike bloedlyn van Dawid, die stam van Juda (Mat. 1:1). Twee dinge wat tussen Johannes (as verteenwoordiger van die Levitiese priesterdom) en Jesus (as verteenwoordiger van die koninklike bloedlyn) in die aangehaalde gedeelte hierbo gesê word, is van groot belang:

  • dat Johannes voel hy nie werd is om Jesus se skoenriem los te maak nie (Mark. 1:7);  en;
  • dat Jesus sê dat Johannes Hom wel moet doop, “want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul” (Mat. 3:15).

 

Kom ons begin by die tweede uitspraak eerste. Onthou dat die priesterdom van Lévi by God in onguns verval het deur hul gebrek aan geregtigheid:

  • Jéremia sê byvoorbeeld: “Dit was oor die sondes van haar profete, die        ongeregtighede van haar priesters wat daar binne-in die bloed van die           regverdiges vergiet het.” (Klaagl. 4:13). In Jer. 23:11 sê hy: “Want profeet           sowel as priester is goddeloos …”
  • Eségiël (22:26) stel dit onomwonde: “Sy priesters verkrag my wet en ontheilig       my  heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en         die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie; daarby maak hulle          hul oë toe vir my sabbatte; ja, Ek word onder hulle ontheilig.”
  • Séfanja (3:4) stel dit baie skerp: “priesters verontreinig wat heilig is, hulle   verkrag die wet”.
  • En dan natuurlik Maléagi (2:7-8) se doodskoot: “Want die lippe van ‘n priester      moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ‘n    boodskapper van die HERE van die leërskare. Maar júlle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond            met Levi verbreek, sê die HERE van die leërskare.”

 

In hierdie dramatiese opbou van gebeurtenisse word die verteenwoordiger van die priesterdom van Lévi en sy vrou op ‘n baie spesifieke manier voorgehou in Luk. 1:6 – “En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel.” Dis van die allergrootste belang dat hierdie twee nasate van Aäron en Lévi as geregtig voorgehou word.

Die eerste uitspraak waarvan hierbo gepraat is, klink op die oor af na ‘n idioom: nie werd om ‘n skoenriem los te maak nie (Mark..1:7). Dié woordjie “skoenriem” kom drie keer rondom dieselfde gebeure in die evangelies voor (ook in Luk. 3:16 en Joh. 1:27). Dus, kom dit eintlik streng gesproke net een keer as verwysing voor. En dan die interessante ander waarneming – dit kom net een keer in die Ou Testament voor, en wel in Gen. 14. Die konteks van hierdie gebeurtenis is absoluut veelseggend – “En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles. En die koning van Sodom sê vir Abram: Gee my die mense, maar neem die goed vir uself. Toe antwoord Abram die koning van Sodom: Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde, dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak.” (Gen. 14:18-23).

Abram se epogmakende ontmoeting met Melgisédek vind hier plaas. The Complete WordStudy Dictionary verklaar die naam van Melgisédek soos volg: “Melchi-zedek, the king and high priest of Salem (Jerusalem). The name means ‘king of righteousness’ or ‘the king is righteous’.”

Net na hul “brood en wyn” – die Nuwe-Testamentiese verbondsmaal (Mat. 26:26-29) – geniet het, en Melgisédek vir Abram geseën het, gee Abram aan Melgisédek “die tiende van alles”. Dis so geweldig aangrypend dat dit spesifiek só gesê word, want hierdie verduideliking van Abram se offer aan die Nuwe Priesterdom (lank voor die priesterdom van Lévi bestaan het, met ander woorde deel van die “ewige verbond”, sien Jes. 55:3, 61:8 en Eseg. 37:26), sê eintlik: die tiende van die Nuwe Verbond, in die Priesterskap van Melgisédek, is ALLES. Die New King James Version-vertaling vertaal dit korrek: “And Abram gave him the tithe of all.” (So ook The Complete Apostles’ Bible, die 1899 Douay-Rheims Bible, Luther se Geneva Bible, The Literal Translation of the Holy Bible, die Brenton-vertaling én die VW-Edition!) THE TITHE OF ALL! Dis nie ‘n tiende van wat Abram besit het nie; dit is nie ‘n tiende van sy “spoils of war” nie; dit is nie “tithes” nie – dit is die offergawe van alles!

Die hoëpriesterlike seëning wat aan Abram oorgedra het, het die totale volheid van seëning ingehou waarvan ons in die vorige Manna, Dag 922, geskryf het. Dis ‘n allesomvattende seëning soos 2 Kor. 9:8 (Ampl.) dit raakvat: “And God is able to make all grace (every favor and earthly blessing) come to you in abundance, so that you may always and under all circumstances and whatever the need be self-sufficient [possessing enough to require no aid or support and furnished in abundance …”

Maar net daarna vind daar eweneens ‘n belangrike gebeurtenis plaas: Die wêreldlike koning van Sodom probeer onmiddellik hierna met Abram ‘n bepaalde ooreenkoms sluit: “Gee my die mense, maar neem die goed vir uself.” Abram se “spoils of war” was na regte die koning s’n, “which he was very willing Abram should have as his right, according to the laws of war, and as a reward of his labours” (John Gill’s Exposition of the Entire Bible). Hierdie is belangrik, want dit beteken Abram kon streng gesproke nié aan Melgisédek iets aangebied het wat eintlik nog aan die koning van Sodom behoort nie!

Maar Abram se keuse rondom sy verbond met Melgisédek het hom verlos van die aardse en vleeslike aanspraak van die wêreldlike koning. Abram antwoord dan die koning van Sodom: “Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde, dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak.”

Albei die items waarna Abram verwys, is voorbeelde van iets wat bykans waardeloos is: ‘n garingdraad en ‘n skoenriem. In sigself dra skoenroem dan hier die betekenis van iets wat in waarde presies staan teenoor die “rykdom” waarvan Abram praat. Sy woorde aan die koning van Sodom is dat daar niks is, nie eens ‘n skoenriem, wat hy van die koning sal ontvang nie, want hy weet hy het volkome voorsiening in Melgisédek!

Duidelik slaan “skoenriem” hier op die minste, in vergelyking met die meeste wat jy kan kry. Interessant dan dat die gematria van “skoenriem” in Hebreeus 526 is, en van die ander woorde in die Bybel wat dieselfde gematria het, is: “give; posess; bless; receive”!

Die ander merkwaardige aspek is dat God se eerste seëning wat Hy op Abram in Gen. 12:3 gegee het, die totaal se gematria óók presies 526 is: “En Ek sal seën diegene wat jou seën …”

Binne hierdie konteks is dit te verstane wat Johannes die Doper bedoel met “Hy moet meer word, maar ek minder.” (Joh. 3:30) – hy verteenwoordig ‘n ganse priesterskap en verbond. Heb. 10:9 (Murdock) stel dit só: “He abolished the former, that he might establish the latter.” Maar binne hierdie nuwe priesterskap van Melgisédek lê die totale voorsiening.

Die Hebreeuse tradisie was dat die slaaf die skoene van die heer uittrek om sodoende sy voete te kan was, en hy moes dan allereers die skoenriem losmaak. Dit word ‘n mooi beeld van die Ou Verbond wat moet kom kniel en die minste van die Nuwe Verbond (ook tipologies) nie werd is nie.

 

  • Sela: Probeer verstaan wat die lering voorhou oor “tithing” en Melgisédek?
  • Lees: 2 Sam. 13-18; Ps.3-4; 12-13; 28 & 55.
  • Memoriseer: 3:8
  • Delf dieper: Luister na Izak van der Merwe se cd-lering: Die Ewige Verbond