Dag 926

 

“Their lives are perpetual fashion shows …”

(Mat. 23:5, MSG)

In die vorige Mannas het ons ekstensief gekyk na die tiende mite rondom die eietydse kerk: Geld (veral tiendes) is ‘n baie belangrike aspek van die sukses en bestaan van kerke. Ons het ook geleer wat die ware Bybelse alternatief is van hierdie geldgierigheid, wat volgens 1 Tim. 6:10 “‘n wortel van alle euwels” is; en “omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof”.

Die elfde mite mag met die eerste opslag taamlik onbenullig klink, maar dit het ‘n diepgewortelde godsdienstige tradisie ten grondslag. In hierdie saak word die meeste gelowiges gelei “volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie” (Kol. 2:8) nie. Die mite is: Gelowiges se kleredrag in die kerk vertoon hul respek vir God – net die beste is goed genoeg.

Die meeste van ons wat in die kerk grootgeword het, is ingeboelie in Sondagklere. Dit het vir mans beteken dat hulle Sondags vir kerk en Woensdag vir biduur ‘n donker pak klere met ‘n wurgdas sal dra. In my tyd het ook die onderbaadjie ook weer sy weg oopbaklei tot die verwagte sakrale lyflike lap waarmee die sondige vlees voor God toegedoek moes word, dit alles ten spyte van die woedende Wes-Transvaalse son.

Vir mans was dit deel van die heilige straf wat kerktoegaan vereis het. Maar vir baie vroue was die kerk ‘n geleentheid vir die ydele vertoning van die nuutste skeppings, hul deftigste en beste vir die Here.  Jes. 3:16-24 beskryf hierdie ingesteldheid op die liggaam van die dogters van Sion besonder beeldend: “Omdat die dogters van Sion trots is en loop met uitgerekte nek en met die oë lok, wegstap met trippelgang en hulle voetringe laat rinkel, daarom sal die HERE die skedel van die dogters van Sion skurf maak, en die HERE sal hulle skaamte ontbloot. In dié dag sal die HERE wegneem die sieraad van die voetringe en die sonnetjies en die maantjies; die oorversiersels en die armbande en die sluiers; die hoofversiersels en die voetkettinkies en die pronkgordels en die reukflessies en die towermiddels; die vingerringe en die neusringe; die feesklere en die manteltjies en die tjalies en die handsakkies; die handspieëltjies en die hemde en die tulbande en die wye mantels. Dan sal daar in plaas van balsemgeur mufheid wees, en in plaas van ‘n gordel ‘n tou, en in plaas van gevlegte hare kaalheid, en in plaas van ‘n pronkgewaad ‘n roukleed, brandmerk in plaas van skoonheid.”

Duidelik is Rom. 12:2 (EMTV) nie ‘n sinspeling op “mode” nie, maar dit is ‘n dubbel-sinnige wins ten opsigte van die riglyn uit die Woord: “And do not fashion yourselves after this world, but be transformed by the renewing of your mind …”

 

  • Sela: Is jy deur die kerkmode en –voorskrifte gereguleer?
  • Lees: 26, 40, 58, 61-62 & 64
  • Memoriseer: 62:7
  • Delf dieper: Lees Frank C. Senn se boek: Christian Worship and Its Cultural Setting