
“All this time and money wasted on fashion–do you think it makes that much difference? Instead of looking at the fashions, walk out into the fields and look at the wildflowers. They never primp or shop …”
(Mat. 6:28, MSG)
Ons is besig met die mite: Gelowiges se kleredrag in die kerk vertoon hul respek vir God – net die beste is goed genoeg. In die vorige Manna het ons stilgestaan by die gekondisioneerde funksionering van gelowiges ten opsigte van die kerktradisie van kleredrag.
Alhoewel die Bybelse riglyn rondom kleredrag (binne en buite kerk) altyd met sindelikheid (modesty) gepaardgaan (1 Tim. 2:9), behoort die ongeskrewe kulturele voorskrifte oor wat kerklik aanvaarbaar is, of nie, geensins deel te wees van die gemeenskap van die gelowiges nie. Mat. 6:25 (MSG) : “If you decide for God, living a life of God-worship, it follows that you don’t fuss about what’s on the table at mealtimes or whether the clothes in your closet are in fashion. There is far more to your life than the food you put in your stomach, more to your outer appearance than the clothes you hang on your body.”
Ons oorgeërfde tradisie van “dressing up” kom ‘n lang pad. Clement van Alexandria het reeds in die derde eeu n.C. in sy The Instructor oor kerktoegaan uitgestip: “Woman and men need to go to church decently attired … Let her be entirely covered …” In sy oorsigtelike artikel in die joernaal Church History getiteld “A Church Going People is a Dress-loving People” (‘n term van William Henry Foote, gemunt in 1846) gee Leigh Eric Schmidt ‘n goeie historiese beeld oor hoe die kerklike bewussyn van tóé af gerig is deur spesifieke voorskrifte oor uiterlike drag. Ten spyte van sporadiese teenstand deur invloedryke leiers soos John Wesley téén duur of “flashy clothing”, het ekonomiese klasverskille hoofsaaklik gelei tot die vestiging van ‘n groepering wat die toon aangegee het rondom spesifieke klere vir kerkgeleenthede.
Robert Bushman, in sy fassinerende studie oor akkulturasie: The Refinement of America, lê egter die tendens van spesiale kerkklere voor die deur van ‘n invloedryke skrywe van Horace Bushnell wat in 1843 (let op hoe onlangs eers!) getiteld: “Taste and Fashion”, waarin hy beweer goeie smaak in kleredrag eer God omdat sofistikasie ‘n karaktereienskap van God is. Hieruit het die groeiende bewussyn baie gou posgevat, naamlik dat ‘n mens in jou allerbeste klere kerk toe moet gaan, want Hy het word daardeur geëer. In net drie jaar het hierdie ‘n sterk Amerikaanse, en daarna, ‘n wêreldtendens, geword.
Miskien sal die leser vra – maar is hierdie enigsins ‘n belangrike saak? In die groter skema van dinge miskien nie, maar soos baie oorgelewerde dinge wat kritiekloos in die kerk aanvaar word, het dit belangrike implikasies.
Die belangrikste implikasie is dat die uiterlike groter klem kry as die innerlike. Kyk na dié vooropstelling daarvan in die volgende Skrifte:
- 16:7 – “Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”
- 11:39 – “Maar die Here sê vir hom: Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid.”
- 1 Pet. 3:3-4 – “Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.”
Hierdie misplaaste belangrikheid wat mense verkry as gevolg van hul uiterlike, in die gemeenskap van gelowiges, bring noodwendig mee dat mense grootliks uiterlik getakseer word. In Jak. 2:1-4 word die hele saak eksplisiet voorgehou: “My broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie. Want as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit— het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie?”
Vers 4 in die New Living Translation spel die problematiek uit: “this discrimination show that you are guided by wrong motives”, en sterker deur die New Jerusalem Bible: “In making this distinction among yourselves have you not used a corrupt standard?” Om mense op grond van klere te beoordeel, of op grond van geleerdheid, of rykdom, of sosiale status, of wat ook al, toon dat ons met ‘n ander maat as Jesus meet (Mat. 7:2). Klere is miskien net die gemene saak waarbinne alle mense verlei word om op ‘n sekere manier oor ander te dink.
En dit bring mens uit by die tweede implikasie – dit verlei jou ook om anders oor jouself te dink. Die uitdos vir kerk spesifiek sinjaleer die vals bewussyn dat die kerk ‘n heilige ruimte is en vra vir ‘n bepaalde sakrale dragkode, wat anders is as die dragkode vir die sekulêre wêreld. In eksteme gevalle kan dit selfs dui op ‘n bepaalde “cover-up”.
Derdens: omdat die kerk ‘n publieke arena geword het, het dit ‘n kleredragkode begin vereis. As dit was soos die eerste gelowiges wat in huise byeengekom het, sou meer mense bloot alledaagse en gemaklike leefdrag gedra het. Die aantrek vir die uitgaan het ‘n belangrike onderliggende motief geword.
Vierdens – ek sou nie so ver gaan soos sekere uitgesproke kritici om die geaantrekkery vir kerk te koppel aan die elemente van ‘n verhoogvertoning nie, maar met die dominees en pastore se vreemde togas, gespesifiseerde kleredrag, grimering, oordrewe gordyne, beligting, plekaanwysers, seremoniemeesters, bepaalde programme, props, spesiale gas-optredes, die deurlopende dramatiese appél, en so meer, het hulle dalk ‘n punt beet.
Dit is onnodig om die lang geskiedenisse van die ontwikkeling van die dominee of pastoor se kleredrag op die kansel (en party selfs in die publieke lewe) na te speur, behalwe miskien om te sê dat kerke al hier te lande geskeur het omdat een van die dominees geweier het om ‘n wit das te dra. (Sonder om te weet dat dit gegrond is op onchristelike Plato se verklaring dat wit die kleur van die gode is, en Clement en Tertullianus se bisarre oortuiging dat gekleurde stowwe nie God eer nie (Janet Mayo: A History of Ecclesiastical Dress.) Die Here help ons.
Die totale onbenulligheid en die vleeslikheid hiervan spreek vanself, en ‘n mens behoort nie eens na die geskiedenis van die gekkighede deur die eeue te kyk om te besef dit is in stryd met die eenvoudige beginsels van die Woord van God en die Christelike etos nie. Gelowiges se kleredrag in die kerk vertoon hul respek vir God – net die beste is goed genoeg is ‘n mite, en duidelik nie ‘n Bybelse waarheid nie.
- Sela: Beoordeel jy mense op grond van hul kleredrag?
- Lees: 2 Sam. 19-21; Ps. 5, 38, & 41-42
- Memoriseer: 42:1
- Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.