“Tot vandag toe handel hulle volgens die vroeëre gebruike …”
(2 Kon. 17:43, OAV)
Die twaalfde mite van die eietydse kerk mag ‘n baie kontroversiële een vir die meeste gelowiges wees, en handel oor sakramente. Dit is nie moontlik om die mite te formuleer sonder om eers ‘n paar kwalifiserings en gespreksvoorwaardes te maak nie.
Die woordjie sakrament kom nie in die Bybel voor nie. (Hierdie woord is die eerste keer formeel kerklik gebruik in die Raad van Nicaea in 325 n.C.) Die woord beteken oorspronklik in die Latyn: sacramentum, “used in two chief senses: (1) as a legal term to denote the sum of money deposited by two parties to a suit which was forfeited by the loser and appropriated to sacred uses; (2) as a military term to designate the oath of obedience taken by newly enlisted soldiers” (International Standard Bible Encyclopedia). Ver verwyderd van die betekenis van die woord, is daar in die ganse Nuwe Testament geen begrip wat naastenby beslag aan hierdie konsep gee nie, “nor does the earliest history of Christianity afford any trace of the application of the term to certain rites of the church” (Ibid.).
Tog, in Die Gerformeerde Kerk se evangelisasieblad: Quo Vadis? (nr 217, Aug. 1987), verduidelik Ds. Nico Ligthelm dit in die lig van die wortelbetekenis van die woord soos volg: “Ons benoem die doop en nagmaal onder ‘n versamelnaam, sakramente. – Dis ‘n woord uit die Latyn, wat letterlik beteken: ‘heilige middel’ of ‘toewydingsmiddel’. In die Romeinse tyd is ‘n soldaat wat vir krygsdiens aanmeld, ‘gesakramentuur’; dus ingelyf — daardeur is hy as integrale en onskeibare deel van die leër beskou. In die doop en die nagmaal vind ons dieselfde gedagte, nl. dat ‘n lidmaat wat in sakramente deel, ‘n integrale en onskeibare deel van Jesus Christus is.”
‘n Mens kan die gevaartekens rondom hierdie definisie reeds sien flikker in Ds. Ligthelm se verdere verduideliking: “Want in die sakramente kom prakties en konkreet na vore die beloftes van God in Christus, en die beliggaming van christenskap DUS die sakramente is sigbare Woordverkondiging — dis voelbaar en proebaar — ja, nie net hoorbaar nie. Daarom wil die sakramente God se Woord teken, en afbeeld. En jy as gebruiker daarvan, word deel van Jesus Christus …”
Hierdie siening van sakrament word geweldig problematies – dit is maklik om deur ‘n rite te gaan (selfs onwetend, soos met die babadoop, of wanneer ‘n ongelowige uit bygeloof deel het aan die nagmaal) sonder dat dit enigsins ‘n waarheid is vir die persoon wat dit ondergaan. Is die gedoopte baba deel van die Liggaam van Christus op grond van sy ouers se besluit, selfs al word hy later in sy lewe ‘n ateïs? Word die ongelowige wat aan die ritueel van nagmaal meedoen, deel van die Liggaam van Christus? Onmoontlik.
In enkele klassieke Bybelvertalings (soos die 1899 Douay-Rheims Bible) word die woordjie “verborgenheid” in Efes. 5:32 interessant genoeg as “sacrament” vertaal, maar in ander plekke (soos 1 Tim. 3:16; Open. 1:20; 17:7) glad nie. En ons eietydse verstaan van “sakrament” is eweneens baie ver verwyderd van die begrip “verborgenheid” (misterie, of geheimenis). Tog lê daarin ‘n verduideliking van die mities-mistieke bejeëning van verskeie sakramente – dat tydens die ontvangs daarvan daar iets bonatuurliks met die ontvanger gebeur. Dit word primêr as ‘n werk van God gesien, onafhanklik van die ontvanger. Daarom dat Hexam’s Concise Dictionary of Religion ‘n sakrament soos volg definieer: “a Rite in which GOD (or Gods) is (are) uniquely active.”
Die vraag wat hieruit volg, is eweneens geldig – is dit net deur die sakramente waarin God Homself duidelik manifesteer? Duidelik nie. Die doeke of voorskote wat aan Paulus se lyf was en wat op die siekes gelê is, dat die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het (Hand. 19:12), was magtige dade van God (vers 11), maar dit het nie sakramentstatus verkry nie.
Die Raad van Trent se belangrike formulering in 1563 van wat ‘n sakrament is, hou dus ook nie in hierdie lig stand nie: “A Sacrament is a visible sign of an invisible grace.” Johannes Calvyn, vader van die Reformasie, het dit óók as uitgangspunt gebruik, ten spyte daarvan dat daar breë konsensus is onder kundiges dat dit eintlik ‘n omskrywing is wat gemunt is deur St. Augustinus (354 – 430 n.C.)
Sommige geloofsgroeperinge knoop die werking van sakramente nie net aan God nie, maar spesifiek aan Jesus. The Anglican Book of Common Prayer definieer insgelyks dan ‘n sakrament as “an outward and visible sign of an inward and spiritual grace given unto us, ordained by Christ himself, as a means whereby we receive the same, and a pledge to assure us thereof”. Gros, Best & Fuchs (reds.) formuleer die Baptiste se standpunt oor sakramente nog meer definitief in hul boek Growth in Agreement III: International Dialogue Texts and Agreed Statements: “practices ordained by Christ to be permanently observed by the church”.
As gevolg van hierdie wye onsekerheid binne kerkgroeperinge oor wat presies sakrament is, het bykans elke denominasie ander sakramente. Die nagmaal is oorwegend die enigste gemeenskaplike sakrament. Dan word die doop ook as sakrament gereken, maar baie duidelik verskillend in Rooms-Katolieke, Ortodokse, Methodiste en Protestantistiese teologie enersyds en Baptiste, Pinkster- en Charismatiese teologie andersyds. Die besprenkeling van babas teenoor die doop van gelowiges is twee totaal verskillende rituele.
Waar die meeste denominasies net twee sakramente voorhou, het die Roomse kerk volgens hulle Kategismus van die Rooms-Katolieke Kerk byvoorbeeld sewe: die doop van babas; die bevestiging van gelowiges (na katksasie); nagmaal (die sg. Eucharist); die voltrekking van die huwelik; die ordinasie (in kerklike posisies); belydenis, boetedoening en skuldvergifnis; asook die salwing (van siekes, vir spesifieke kerkposisies of laaste rites).
Maar ander denominasies het nog ander. Die was van mekaar se voete word deur die Anabaptiste, die Schwarzenau Brethren en die Duitse Baptiste as ‘n sakrament hanteer, terwyl byvoorbeeld die Poolse Nasionale Katolieke Kerk van Amerika die prediking van die Woord as ‘n sakrament beskou. The Church of Jesus Christ of Latter-day Saints (of meer bekend as die Mormone) het benewens hierdie sakramente ook nog ander: die bediening van siekes; die naamgewing en seëning van ‘n kind; die toewyding van ‘n graf; vaderlike seëninge en verskeie ander seëninge van troos en raadgewing. (Ons gaan nie eens in op die rêrige vreemde sakramente, byvoorbeeld die ordinasie tot die Aäronse en Melgisédek-priesterskappe vir mans, die tempelgeskenke en die hemelse/geestelike huwelike nie.)
Dit verbaas mens dan nie dat die Oosterse Ortodokse tradisie géén beperking plaas op die aantal sakramente nie – “anything the Church does as Church is in some sense sacramental”.
Só ‘n beskouing is op sigself ook problematies, soos die volgende praktiese illustrasie duidelik sal maak. Op hul webwerf www.parkkruin.co.za kry jy die volgende inligting van die NG Kerk Parkkruin Johannesburg oor die doop van babas: “Die sakrament van die Doop word op feestelike wyse in Parkkruin gevier. Dat die Here God Homself aan kindertjies verbind is telkens ‘n hoogtepunt vir die gemeente. Ons beywer ons daarvoor dat die doop vir die ouers, die kindertjies en vir die hele gemeente ‘n onvergeetlike gebeurtenis is. Ons stel die ouers voor aan die gemeente op die tradisionele manier, maar volg ook drie belangrike meegaande simboliese gebruike wat eie is aan Parkkruin. Die kind se voetafdruk in klei. Kindertjies se voetjies word voor die erediens in klei afgedruk. Hierdie afdrukke word in die ingangsportaal van die kerk aangebring met die kind se naam en doopdatum daarby. Op hierdie wyse word elke dopeling deel van die storie – en genadige geskiedenis van die gemeente. Die Alfa-oomblik. Die Alfa-oomblik is daardie geleentheid wanneer ons die kindjie as dooplidmaat in die kerk verwelkom. Hierdie verwelkoming word met musiek gevier. Ons maak van ‘n hele verskeidenheid instrumente gebruik om die Alfa oomblik baie spesiaal te maak. Die doopkers. Ons oorhandig ‘n doopkers na afloop van die doop aan die ouerpaar. Die ouers steek die kers in die erediens aan. Die doopkers sal daarna vir 16 ure brand. Die eerste uur is in die kerk, tydens die doop. Daarna moet die ouer dit elke jaar vir ’n uur aansteek op die herdenking van die kind se doop. Ná 16 jaar is die kers uitgebrand, en is die kind op ’n plek in sy geloofsreis waar hy of sy belydenis van geloof kan aflê.” En dan is daar ‘n maklike opsie: Klik hier om die doopaansoekvorm af te laai.
Op sigelf is daar seker nie fout met sulke tere herinneringe aan ‘n groot rituele daad rondom ‘n onskriftuurlike doop nie, maar die probleem word geskep as hierdie tradisie met die loop van tyd duidelik sakramentele belangrikheid verkry. DIT IS HOE DIE MEESTE SAKRAMENTE TOT STAND KOM – DIT WORD GEVORM UIT MENSLIKE TRADISIE EN VLEESLIKE ORDINASIES, SONDER ENIGE BYBELSE GRONDE.
Die twaalde mite van die eitydse kerk is dus: sakramente is ‘n Bybelse verordening.
Ons het duidelik uit die voorafgaande studie gesien hoe wyd die begrip sakrament gebruik word, en dan is dit boonop nie eens ‘n Bybelse begrip nie. Daarbenewens, deur dit so ‘n verhewe konnotasie te gee, is die gewone opdragte wat Jesus aan sy volgelinge gegee het, dikwels verwyderd van die “priesthood of all believers”, en moet net Godsgeordende persone soos dominees, priesters of pastore dit hanteer. Dit word bykans as norm gehef dat net “clergy” die sakramente mag bedien. Dis geensins Bybels nie.
Hoe moet ons dan na duidelike Bybelse opdragte, soos byvoorbeeld die doop van gelowiges, die oplegging van hande, nagmaal, die was van voete (vir die agterdogtiges: Joh. 13:8; 1 Tim. 5:10), en so meer. kyk? Nie as sakramente nie, maar as opdragte van Jesus aan sy volgelinge.Die mandaat van Jesus aan sy Liggaam is duidelik, en dwarsdeur die evangelies weerklink die ondubbelsinnige opdrag:
- “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” (Joh. 20:21)
- “Kyk, Ek stuur julle … “ (Mat. 10:16)
- “Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe …” (Mat. 23:34)
- “kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe” (Luk. 10:3)
- “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.” ( 13:20)
- “Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.” (Joh. 17:18)
- “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo— dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Joh. 17:20-21).
Die mite is duidelik – daar is nie sakramente nie; dit is ‘n konkoksie wat deur die godsgeleerdes uitgedink is om steeds beheer in die kerksisteem uit te oefen. Die twaalde mite van die eietydse kerk is duidelik: sakramente is ‘n Bybelse verordening.
- Sela: Verduidelik aan iemand die begrip ‘sakrament’ en die argument daarteen.
- Lees: 2 Sam.22-23; Ps. 57; 95; 97-99; 1 Kron. 21-22; 2 Sam..24; Ps. 30
- Memoriseer: 42:1
- Delf dieper: Lees enige van die boeke of atrikels hierbo genoem.