Dag 933-934

 

“Ek walg van my lewe …”

(Job 1:10, OAV)

 

In Dag 840 het ons begin om die omvang van die gees van perversiteit te ondersoek. Alhoewel ons met die afgelope subreeks spesifiek gekonsentreer het op die manifestasie van hierdie gees in die eietydse kerk, strek die werking van hierdie gees baie verder in die gewone lewe van gelowiges.

Ons het gesê die gees van perversiteit beroof enige saak, terrein of aksie van sy bedoelde (“reguit”) aard, en verdraai dit, voeg valse waarde, betekenis of konnotasie daaraan. Dit ontneem dinge en mense sy bedoelde skeppingsdoel. Hierdie gees roof die waarheidskarakter en die bedoelde wesensaard van die bestaan van dinge en mense. Dit maak alles binne sy korruptering los van oorspronklike eienaarskap en gebruiksvoorskrifte. Die gees van perversie beïnvloed die manier van dink deur verwarring, valse argumente, hiperbole (vergroting), om belangrike dinge as onbelangrik af te maak, misinterpretasie, inuendo’s – dus ‘n gerigte poging om jou manier van dink en kommunikasie te laat ontspoor.

In die subreeks wat volg, wil ons spesifiek fokus op daardie pervertering van die gelowige, dit wat hul geloofsfunksionering besoedel, “severing by your own perversity all connection with the One who forgives” (Mat. 12:32, Msg).

In 1 Pet. 1:9 fokus Petrus hierdie sendbrief rondom een van die belangrikste aspekte van ons geloofswandel wanneer hy verduidelik die einddoel van die gelowige se geloof is die saligheid sy siel. Uiteraard, deur die wedergeboorte word die mens se gees volmaak voor God, “gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Tit. 3:5), maar die sieldimensie is steeds onveranderd. Die menslike natuur, beliggaam in die siel, moet “salig” word. Rom. 6:22 – “Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.” Van die Engelse vertalings noem die proses tereg die “deliverance” (ABP) van die siel. ‘n Paar verse later verduidelik Petrus die proses van hierdie heiligmaking: “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Pet. 1: 13-16).

Jare se berading het my gewys dat een van die belangrikste oorsake dat mense nie in die volheid van hul identiteit in Christus kan beweeg nie, is die onvermoë om jouself lief te hê. Dis interessant dat wanneer Jesus deur ‘n wetsgeleerde ‘n strikvraag gevra word oor die belangrikste van alle gebooie, hy eintlik ‘n antwoord bied wat nie uit die hoofstroom-argumente van die Ou Testament voorkom, maar uit ‘n taamlik obskure gedeelte in Lev. 19 wat handel oor die verwerwing van die Goddelike natuur. In Thru the Bible with J. Vernon McGee kenskets hy die hoofstuk soos volg: “God gives these instructions to Moses the lawgiver, and they amplify a portion of the Ten Commandments. God exacts holy conduct on the basis that He is holy.” Dis hier, in die riglyne vir algemeen leef: “Laws Promoting Practical Holiness Before God and Man” (soos dit in The Bible Knowledge commentary getakseer word), dat daar twee keer uitgespel word, in verse18 en 34: “jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.

Dus, as Jesus die wetgeleerde se vraag antwoord wat vra “wat is die groot gebod in die wet?”, sê Hy: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” (Mat. 22:35-40)

Toe God die mens geskape het, is hy geskep “na die Beeld van God”. Ons leer uit Gen. 1:27 – “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape …”

Met die sondeval het die mens die beeld waarin hy geskape is, die karakter- en wesensaard van God, verloor. Omdat almal in Adam gesondig het, ontbreek dit alle mense aan God se heerlikheid (Rom. 3:23), dit wil sê dit ontbreek ons aan alle “genade en waarheid” (Joh. 1:14). Ons het geen natuurlike behoefte aan “waarheid in die binneste” (Ps. 51:6) nie, en ons het geen natuurlike genade nie – “sy naaste vind in sy oë geen genade nie” (Spr. 21:10).

Die gevalle mens het as gevolg van die gees van perversiteit in hom ook vir homself nie genade nie. Ons moet elkeen “die genade van God in waarheid leer ken” (Kol. 1:6), die “evangelie van die genade van God” (Hand. 20:24). Daarsonder sal ons altyd “die Gees van genade” (Heb. 10:29) smaad. Onthou: “A perverse heart is abominable to the Lord (Spr.11:20,  DRB); en ook: “For there will be no mercy for you if you have not been merciful to others.” (Jak. 2:13, NLT)

Met die sondeval reeds het “die god van hierdie wêreld” die mens se manier van dink, kyk en reageer geperverteer “sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:4). Hierin lê ‘n ontsettende belangrike sleutel ten opsigte van die noodsaaklike liefde vir die self. Eers as jy “die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus” (1 Pet. 1:13) ontvang, kan jy met genade na ander mense kyk, én na jouself! Eers dán kan jy ‘n bedienaar word “van die veelvuldige genade van God” (1 Pet. 4:10).

Moet asseblief nie die diepgang van die betekenis mis van 2 Kor. 4:4 in die paragraaf hierbo nie. Jy kry eers die “beeld van God” terug as jou geestelike oë oopgaan om “die evangelie van die heerlikheid van Christus” verstaan. Sela asseblief: die evangelie van die heerlikheid van Christus = die beeld van God. Sorg dus, soos 2 Pet. 3:18 sê: dat jy “toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus”.

In haar boek: Restoring the Christian soul, skryf Leanne Payne die volgende: “Today, there is a multitude of Christians whose failure to accept themselves is accompanied by a needless and ongoing sense of guilt and shame, or even more critically, an intense and even pathological self-hatred.” Hierdie is die oerperversiteit van die mens. Ons kollektiewe verwonding toe Adam uit die paradys gedryf is, het ons almal onherroepelik aan die self laat walg, en sedertdien is ons eindeloos besig om onsself (as aarde) te ‘bewerk’: “So GOD expelled them from the Garden of Eden and sent them to work the ground, the same dirt out of which they’d been made.” (Gen. 3:23, Msg). Dis hoekom die ongeregenereerde mens soos Job (1:10) sê: “Ek walg van my lewe …”

Rom 8:2 verduidelik vir ons daar is ‘n bepaalde wet wat in alle mense werk wat die Beeld van God verloor het: “die wet van die sonde en die dood”. Hierdie dwingende wetmatigheid in elke mens moet vervang word met “die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus” , die enigste wetmatigheid wat jou van die sonde en die dood kan vrymaak, en jou vul met genade en waarheid, met heerlikheid dus, sodat jy kan begin leer om jouself werklik lief te hê. Meer in die volgende Manna hieroor.

 

  • Sela: Het jy jouself waarlik lief?
  • Lees: 1 Kron. 23-25; Ps. 131, 138, 139, 143-145
  • Memoriseer: 139:14 (let op die sinchronisasie!)
  • Delf dieper: Lees Leanne Payne se boek. Restoring the Christian soul