“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie,
vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die gees.”
(Rom. 8:1, OAV)
In die vorige Manna is uit Rom 8:2 verduidelik dat daar ‘n bepaalde geestelike wet is wat in alle mense werk wat die Beeld van God verloor het, “die wet van die sonde en die dood”. Hierdie dwingende wetmatigheid in elke mens móét vervang word met “die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus”, die enigste wetmatigheid wat jou van die sonde en die dood kan vrymaak, en jou vul met genade en waarheid, met heerlikheid dus, sodat jy kan begin leer om jouself werklik lief te hê.
Om hierdie onderwerp te verken, en die wetmatigheid wat die “dood bewerk” in jou (Rom. 7:13), moet ons die Skrif wat Rom. 8:2, hierbo as masskrif, vasmaak. Let op dat albei verse praat van Christus Jesus en nie Jesus Christus nie. Wanneer Paulus hierdie uitdrukking gebruik, staan Christus voorop (dit word ‘n totaal van 71 keer gebruik, van Handelinge tot Openbaring), binne die betekenis soos dit uitvoerig in Dag 848 verduidelik is. Vir hulle in Christus Jesus is daar géén veroordeling nie – ook nie as ons onsself veroordeel, of ons hart ons veroordeel nie (1 Joh. 3:20).
Twee van die grootste veldslae van die geloof wat gelowiges moet veg, is enersyds dat ons faal om onsself te kan aanvaar en daarom liefhê, en andersyds om onsself te kan vergewe vir wat ons is, wat ons gedoen het, of nié gedoen het nie.
Jou identiteit in Christus is derhalwe ‘n voorwaarde vir die hantering van hierdie geestelike heelheid en voortspruitende geestelike volwassenheid en outoriteit. Onthou die raak beskrywing van John Eldridge in Waking the Dead: “Sin is a mistaken identity.” Hierdie identiteit in Christus is die sentrum van die nuwe mens waaruit jy nou leer leef – “die lewe van Christus (wat) in ons liggaam openbaar kan word” (2 Kor. 4:10).
Maar hoe kom jy los van ‘n dwingende skuldgevoel, minderwaardigheid, skaamte, of selfs ‘n meer ernstige patologiese selfhaat? Richard Lovelace, in sy boek: Dynamics of Spiritual Life: An Evangelical Theology of Renewal plaas hierdie krisis van gelowiges in groter konteks: “It is often said today … that we must love ourselves before we can be set free to love others. This is certainly the release which we must seek to give our people. But no realistic human beings find it easy to love or to forgive themselves, and hence their self-acceptance must be grounded in their awareness that God accepts them in Christ. There is a sense in which the strongest self-love that we can have, in the sense of agape, is merely the mirror image of the lively conviction we have that God loves us. There is endless talk about this in the church, but little apparent belief in it among Christians, although they may have a conscious complacency which conceals the subconscious despair which Kierkegaard calls ‘the sickness unto death’.”
Ons kan net soos Paulus in Rom. 7:24 uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?”
- Sela: Sukkel jy met skuldgevoelens, minderwaardigheid, skaamte, of selfhaat?
- Lees: 1 Kron. 26-29; Ps. 127
- Memoriseer: 127
- Delf dieper: Lees een van die boeke hierbo genoem.