Dag 94

 

“as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie” (Joh 6:53, OAV)

Nadat Elia die groot oorwinning oor die Baälprofete behaal het, het die vals profetes Isébel aan hom ‘n boodskap gestuur dat sy hulle dood gaan wreek en het hom met soortgelyke teregstelling gedreig (1 Kon 19:1-4). Die wandel in die koninkryk van God is dikwels nie sonder dreigement, bedreiging en verdrukkinge nie. Hand 14:22 sê immers: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.” Elia het as gevolg van hierdie dreigement sy oë afgehaal van God en op sy fisiese omstandighede gefokus, met die gevolg dat ‘n wolk van depressie hom oordek het en hy moedeloos onder ‘n besembos gaan lê het. As jy weet dat Isébel se naam beteken: “Baal is my husband”, dan besef jy dat Elia se oorwinning oor die Baälprofete ‘n demoniese vergelding (“retaliation”) meegebring het waarop Elia nie voorberei was nie. Omdat hy alleen gestaan het (vers 3), sonder die covering van die Liggaam, kon hy maklik oorweldig word. Interessant genoeg is die wortelbetekenis van die besembos in Hebreeus die woorde: bind, attach, yoke. Sien asseblief die prototipiese betekenis hiervan in: ons kan nie sonder die Liggaam funksioneer nie. Jy val dikwels in misleiding en moedeloosheid (vers 4). Daarbenewens: jy word in hierdie geïsoleerde toestand dikwels gebind of in ‘n juk geplaas met iets anders in die demoniese realm – ironies genoeg het  Isébel deur hierdie strategie Elia tog weer gebind aan Baäl, daarom sy versugting om eerder te wil sterf, want “ek is nie beter as my vaders nie”. In ‘n geïsoleerde staat kan jy onmoontlik nie die agenda van God vorentoe vat nie.

As die wolk vir die Israeliete (as Liggaam) beweeg het, moes jy saambeweeg, anders het die Amalekiete (‘n tipe van Satan) jou van agteraf af ingehaal en doodgemaak. Ek vertrou geen bediening wat in isolasie funksioneer nie. Ons is geroep om in ‘n Liggaam te funksioneer (Efes 4:4; Kol 3:15).

God se plan om Elia terug te plaas in sy skeppingsdoel en –opdrag, kry ‘n pragtige prototipiese betetekenis in vers 5-7. ‘n Engel raak hom aan “en sê vir hom: Staan op, eet!” En Elia leer só wat Joh 6:53 hierbo eintlik beteken: “Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent ‘n broodkoek, op warm klippe gebak.” Die Toonbrood word hom aangebied, nog stomend, die gemeenskap met die Liggaam: “Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel.” 

  • Sela:  Bely jou eiesinnigheid om in jou eie rigting, los van ander gelowiges, te wil beweeg. 
  • Lees: Rig 4; Ps 94; Hand 4 
  • Memoriseer: Hand 4:12 
  • Vir dieper delf: Lees ook 1 Sam 15:23 en bring die lyne bymekaar uit.