“omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is” (Rom. 8:7, OAV)
Die belangrike proses van selfaanvaarding en die herstel van die liefde vir die self is waarmee ons tans besig is. Die vorige twee Mannas het oor die derde geloofstap gehandel en die pad aangedui om te begin verstaan hoe God werklik oor jou voel en dink, en dat dit gerig word deur Sy brandende, onvoorwaardelike liefde. Ons het tot die slotsom gekom dat die grootste teenstander daarvan om die liefde van God in jou te laat manifesteer, is die feit dat jy jouself nie kan liefhê en aanvaar nie, en jy jouself derhalwe met minagting bejeën. Jy moet jouself as beeld van God (Gen. 1:27) aanvaar en liefhê. Dit stel jou in staat om Hom ken, en dit stel dan sy onoorwinlike liefde in ons vry.
Die J.B. Phillips-vertaling van 2 Kor. 5:2 is ‘n uitstekende samevatting van die slotsom waartoe ons tot dusver gekom het: “For God caused Christ, who himself knew nothing of sin, to be sin for our sakes, so that in Christ we might be made good with the goodness of God.”
Die vierde stap is dan om die ingewortelde oortreding van selfhaat in die lig te bring voor God, sodat Hy dit kan bestraf – “Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig.” (Efes. 5:13). Ruil jou selfveragting en minderwaardigheid vir die ware identiteit wat jy as ‘n seun van God by Hom ontvang het.
Vyfdens: vra God om die Heilige Gees te stuur om herinneringe te genees. Soos geleenthede waarin jy verneder is, of waarin jy skaamte oor jou voel spoel het, of waarin mense iets spesifieks lelik oor jou gesê het, in jou geheue opkom, vergewe die persone wat dit aan jou gedoen het. Mat. 6:14-15: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” Vra God om die herinneringe te genees.
Die sesde stap: bid dat enige onreine of ander gees wat hierdie donkerheid in stand gehou het, uit die tempel van God ( = jý – 1 Kor. 3:16; 1 Kor. 6:19) verwyder word, en verseël deur gebed jouself met die Heilige Gees (Efes. 1:13; 4:30).
Laastens: stap in die ontvouing van die genesing. Leer om die stemme in jou kop/gemoed/binneste te begin herken. Jou eie stem in jou kop sal jou probeer wysmaak hierdie herstel is nie moontlik nie. Of jy sal steeds die stemme hoor van mense wie se menings en veral goedkeuring vir jou belangrik is, en jy sal baie in die versoeking kom om dit te glo wat hulle sê.. Weier die stem as dit wat gekommunikeer word jou bedreig, beledig, slegsê of minag. Weet dit is nie die Heilige Gees se stem nie, maar die stem van die teenstander, die vlees, die Satan (Mat. 16:23). Onthou altyd Rom. 8:7 as riglyn – “omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is” (dit geld vir jou, en ander mense, se vleeslike denke oor jou). Laat Fil. 4:8 altyd vir jou ‘n persoonlike riglyn wees: “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit”. Veral ten opsigte van jouself.
- Sela: Werk hierdie sewe stappe tot selfliefde deur met iemand wat dit nodig het.
- Lees: 119:89-176
- Memoriseer: 119:130
- Delf dieper: Lees Leanne Payne se Restoring the Christian Soul.