“Aan hom wat jou op die wang slaan,
moet jy ook die ander een aanbied …”
(Luk. 6:29a, OAV)
In die vorige paar Mannas het ons die gees van perversie se werking in die gelowige, wat lei tot selfhaat, minagting van die self, en ‘n gebrek aan selfliefde, ondersoek. Die belangrike terapeuties proses van selfaanvaarding en die herstel van die liefde vir die self is voorgehou.
Een van die stappe in die genesingsproses wat spesifiek genoem is, is die vergewing van ander. Dít op sigself kan ook ‘n spesifieke probleem vir ‘n gelowige wees. As die gees van perversie werksaam is in ‘n mens, is een van die gevolge eiegeregtigheid. In hierdie geval is dit so ‘n diep verwonding deur ander wat jou as die slagoffer laat voel jy het die volste reg om nóóit te vergewe nie. Daar is dikwels baie goeie redes waarom iemand wat werklik te na gekom is, kan aanvoer waarom hy/sy die skuldige persoon nie kan vergewe nie, maar dit plaas hierdie persoon helaas in ‘n posisie van eiegeregtigheid. Al is jou redes vir onvergifnis hoe groot, dit is nie vir God aanvaarbaar nie. Eiegeregtigheid in hierdie konteks is die jammerlike gevolg van iemand wat só geweldig seergekry het deur die toedoen van iemand anders, dat die wond as reg tot onvergewingsgesindheid lei. Dit is, uit Bybelse perspektief, die gevolg van die gees van perversie.
Jesus is een van die beste voorbeelde van Iemand wat dwarsdeur sy lewe belaster, seergemaak, verneder, beskinder, onregverdig veroordeel, en so meer, is, maar nooit iets daaraan gedoen het nie. Hy het hoogstens gesê: “U sê dit.” (Luk. 23:3). In Mat. 27:12-14 lees ons: “En terwyl Hy deur die owerpriesters en die ouderlinge beskuldig word, het Hy niks geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Hom: Hoor U nie hoe baie dinge hulle teen U getuig nie? En Hy het hom op geen enkele woord geantwoord nie, sodat die goewerneur hom baie verwonder het.”
Selfs aan die kruis, waar Hy onskuldig gehang het (Mat. 27:24), het Hy die ontsaglike marteling, die hoon en spot verdra, en gebid: “En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk. 23:34).
Jes. 53:7 profeteer ekstensief oor hierdie karaktereienskap en algemene gesindheid van Jesus: “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.” Vroeg in Hand. 8:32-33 is die verhaal van die hofdienaar van Ethiópië waarin hierdie spesifieke getuienis van Jesus reeds in die Ou Testament geprofeteer word: “Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem …” Later, in 1 Pet. 2:23, spel die apostel Jesus se selfloosheid pragtig uit: “wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel …”
Dit herinner baie aan Dawid se posisie in Ps. 38:13-15: “Maar ek is soos ‘n dowe: ek hoor nie, en soos ‘n stomme wat sy mond nie oopmaak nie. Ja, ek is soos ‘n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie; want op U, HERE, wag ek; U sal verhoor, Here my God!” In baie praktiese terme het Jesus die volgende riglyn gebied: “Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.” (Luk. 6:29).
As ek en jy in dit wat ons verkeerd aangedoen word, soos Petrus dit hierbo mooi stel, dit nie self probeer hanteer in eiegeregtigheid nie, maar “oorgee aan Hom wat regverdig oordeel”, gebeur 1 Pet. 2:19-21: “Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly—dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg …”
Die gelowige wat telkemale self “genade op genade” (Joh. 1:16) van God ontvang het, mág dus nie ‘n posisie van onvergewingsgesindheid inneem nie: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” (Mat. 16:14-15). Sela asseblief hieroor – dit behels enigiets wat iemand anders jou aangedoen het. Kol. 3:13 spel dit in geen onseker terme uit nie: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”
Die onvermoë om te vergeef is die mees beslissende tekortkoming in jou persoonlike proses van heelwording.
Vir baie gelowiges verstaan hulle die teorie van wat hierbo gesê is, maar daar is ‘n onoorkombare berg van wrok, bitterheid en pyn wat hulle net nie kan laat vergewe nie. Selfs al kry hulle so ‘n gebed van vergifnis oor die lippe, is die aaklige werklikheid van ‘n onvermoë om te vergewe sterk voorop in hulle gemoed. Wat doen ‘n mens in so geval?
In die eerste plek: jy kan die terapiesessie net onder leiding van die Gees van God doen. Bid Hand. 1:8 en vra vir die krag om dit te doen, en die begeleiding deur die Gees (Joh. 16:13a). Vra allereers vir “die gawe van die genade van God” (Efes. 3:7). Maak aanspraak op die genade van God vir jou en almal wat jy nie wil vergewe nie oorvloedig sal word (Rom. 5:15). Vra dat jy “die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie” (2 Kor. 6:1). Proklameer dat jy nie die genade van God verwerp nie (Gal. 2:21), en dat jy “die genade van God in waarheid (sal) leer ken” (Kol.1:16).
Tweedens: skep ‘n geleentheid waar jy alleen in jou binnekamer kan wees. Kry ‘n beeld van die persoon in jou geestesoë, en spreek hom/haar aan soos jy hom/haar nog altyd aangespreek het: byvoorbeeld as Pa/ tannie Marie/ meneer Van Zyl/ pastoor Weideman/ Sussie, of in die geval van ‘n onbekende persoon: Jy wat my gemolesteer het/ Jy wat dronk en roekeloos bestuur het, ens.. (Dit sluit mense in wat reeds gesterf het in.) Noem elke saak op sy naam, sonder om doekies om te draai. Wees snydend eerlik. Dis natuurlik dat jy in hierdie tyd baie emosioneel kan word, of ontsteld, of kwaad, maar dis alles deel van die proses om die gif te laat uitkom – “laat trane afloop soos ‘n stroom” (Klaagl. 2:18c). Doen dit alles hardop. Weet: die “droefheid sal in blydskap verander” (Joh. 16:20).
Derdens: sê vir hulle dat dit vir jou moeilik is om te vergewe, maar dat jy KIES om dit te doen, dat dit nie langer steeds jou lewe gaan beheer of beïnvloed nie. “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe …” (Deut. 30:19).
Alles wat hierbo teoreties uit die Woord voorgehou is, moet jou beweeg tot die punt dat jy kies om te wil vergewe, al is dit moeilik, of al voel jy dat die persoon wat jou dit aangedoen het, nie vergewe behoort te word nie. In die Beeld vanoggend (9 November 2012) sê die ma van die grusaam vermoorde Michael van Eck: “Ek is geruïneer. Michael se wrede dood het my bitter gemaak. Ek sal nou moet besluit of ek ‘n slagoffer gaan wees en of ek met my lewe gaan voortgaan.” Dis ook jou vraag vandag.
Die belangrike beginsel ten grondslag hiervan is nie dat jy die oortreder soseer ter wille van hom-/haarself vergeef nie, maar ter wille van jouself. Die haat, verwyt en pyn wat jou onvergewingsgesindheid rig, is op die duur veel meer toksies en skadelik vir jóú. Dit kan selfs lei tot allerhande fisiese en psigiese siektes lei (soos die navorsing van Henry Wright, in A More Excellent Way, dan ook duidelik aangetoon het).
Vierdens: Spreek hom/haar vry deur elke ding waaroor jy verwyt koester. Gaan in die detail in oor wat jou verwond het, of verneder het, hoe jy voel oor wat gebeur het. Onthou: vryspraak is gebaseer op die uitnemende voorbeeld van Jesus: “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie …” (2 Kor. 5:18-19). Ervaar die teenwoordigheid van die Heilige Gees as Fasiliteerder tydens die vryspraak en ervaar veral dat Hy jou troos (Jes. 12:1).
In die vyfde plek: Vra dat God die wortel van bitterheid sal verwyder – “en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Heb. 12:15). Bid deur hierdie Skrif, en vra God om die onrus te verwyder wat met hierdie gebeurtenisse gestalte in jou gevind het. Een van die wortelwoorde van die Griekse woordjie “onrus” is ‘om deur ‘n menigte geteister te word’. Dit bring mee dat jy mettertyd “geen kalmte en geen stilte en geen rus nie” (Job 3:26) sal hê nie. Jy word letterlik “sat van onrus” (Job 14:1). Onderliggend emosioneel is dit soos Dawid wat in Ps. 55:2 bely: ”in my onrus dwaal ek rond en is verward”. Bring hierdie emosionele gevolge van jou trauma of ervaring voor God, en laat Hy daar ‘n ruilhandel in die gees plaasvind: “om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees” (Jes. 61:3). Vra God ook vir Ps. 30:11 – “U het my weeklag vir my verander in ‘n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord …”
In die sesde plek: vra God om enige demoniese werking rondom hierdie saak te termineer, en jou van enige onrein geeste wat op die innerlike wonde gevoed het, te reinig. Omdat sulke verwonding nie deur die balsem van die Heilige Gees gesond gemaak is nie, het die wond die inkubasieruimte van demoniese neerslag geword. Nadat jy gebid het vir hulle verwydering, vra dat die Heilige Gees jou sal verseël (2 Kor. 1:22; Efes. 1:13; 4:30).
Laastens: Analoog aan Sag. 3:3-5, vra God om met jou soos met Josua te handel: “En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan. Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere. Daarop sê ek: Laat hulle ‘n rein tulband op sy hoof sit. En hulle het die rein tulband op sy hoof gesit en hom die klere aangetrek, terwyl die Engel van die HERE daarby staan.” Ervaar hoe hierdie bekleding met Christus (Gal. 3:27) plaasvind, soos wat Eseg. 16:8-13 grafies-beeldend uitspel: “En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was die tyd van liefde. Toe het Ek my vleuel oor jou uitgesprei en jou naaktheid toegedek. Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou ‘n verbond aangegaan, spreek die Here HERE, en jy het myne geword. Daarop het Ek jou met water gewas en jou bloed van jou afgespoel en jou met olie gesalf. Ook het Ek jou beklee met veelkleurige klere en vir jou skoene van robbevel gemaak, en Ek het jou gehul in fyn linne en jou oordek met sy. Verder het Ek jou met sierade versier en armbande aan jou hande gesit en ‘n ketting om jou hals. En Ek het ‘n ring aan jou neus gesit en oorringe aan jou ore en ‘n pragtige kroon op jou hoof.”
Fil 4:7 (Msg) gee die slotsom van hierdie proses: “Before you know it, a sense of God’s wholeness, everything coming together for good, will come and settle you down …”
- Sela: Maak seker dat jy alle persone vergewe het.
- Lees: 1-8; Spr. 1-6
- Memoriseer: 4:12
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering Die Vangstrik van Satan – to take offense