“`This is my body, that for you is being given, this do ye – to remembrance of me.’ ” (Luk 22:19, YLT)
As jy deel het aan die nagmaal, is jy besig met re-membering. Dit beteken dat jy die sterfte van Christus in herinnering bring, maar dit beteken terselfdertyd dat jy jou as deel van sy Liggaam invoeg, making a member of. Daarom sê Paulus in 1 Kor 10:16b-17: “Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.”
Baie hardloop die wedren, maar net een kry die prys (1 Kor 9:24) – die Liggaam. Ons is mekaar se lede (Efes 4:25), “so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar” (Rom 12:5).
As ons dus deel is van die Liggaam, is die nagmaal dit wat ons gebruik om Hom én mekaar te “onthou”! Dis daarom baie belangrik dat ons hierdie heilige maal onsself ondersoek, want as ons onsself beoordeel het, sal ons nie geoordeel word nie (1 Kor 11:31). Paulus vermaan elkeen dus dat as ons “op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here” (vers 27). Skrik! In Psa 78:29-31 word gebeeld wat gebeur met diegene wat op onwaardige wyse van God se voorsiening eet: “Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig. Hulle was nie weg van hul begeerte nie—hulle voedsel was nog in hulle mond— toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy ‘n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het.”
In 1 Kor 11:28 sê hy dat ons moet onsself “beproef”. Die Engels noem dit “examine”, of “discern”. Thayer verklaar dit as: “to see whether a thing is genuine or not”. Deur jou te onderwerp aan die Heilige Gees, wat alleen kan oortuig van sonde (Joh 16:8), sal Hy jou wys wat jy moet regmaak alvorens jy nagmaal mag gebruik. 1Kor 11:29: “Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself.” Én die gemeenskap van gelowiges word so besoedel deur hierdie “skandvlekke in julle liefdemaaltye, wat sonder vrees saam fees hou” (Jud 1:12).
2 Kor 13:5: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef.”
- Sela: Wat sou die praktiese implikasies vir jou wees van 2 Kor 13:5. Lees Ps 24 hiermee saam.
- Lees: Rig 5; Ps 95; Hand 5 (Maak ‘n nuwe lied van Ps 95.)
- Memoriseer: Hand 5:13
- Vir dieper delf: Lees AJ van Staden se boek getiteld Nagmaal. Baie verouderd en sonder openbaringskennis, maar hy dek al die fundamentele aspekte van die sakrament.