Dag 950

 

“Want is my huis nie so by God nie? Want Hy het ‘n ewige verbond vir my daargestel wat in alles gereël en

verseker is; want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie?”

(2 Sam. 23:5, OAV)

 

Ons is tans besig om depressie as patologiese toestand te ondersoek. Uit die vorige Manna is aangehaal uit verskeie bronne wat breedweg agt redes vir depressie onderskei. Ons wil ‘n ander benadering en taksering van depressie aanbied, veral met die oog op die hantering en genesing daarvan.

Daar is net twee groot oorsake van depressie: die een is medies van aard, spesifiek dan chemiese wanbalanse in die brein, en die ander een is psigologiese faktore.

Dit is altyd van die uiterste belang dat ‘n persoon wat dink dat hy/sy aan depressie lei (nié neerslagtigheid nie) deeglike mediese hulp vir die siektetoestand kry. Die gevaar is egter dat as die psigologiese redes vir die depressie nie grondig hanteer word nie, jy nét van chemiese medikasie afhanklik is, en sal daar nie op die lang termyn genesing uitspruit (Jes. 58:8) nie. Alreeds nou is my gebed vir jou 3 Joh. 1:2 – “Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan …”

Die woordjie “uitspruit” word hierbo spesifiek gebruik, want dit dui daarop dat genesing nie van buite-af kan kom nie, maar uit die genesing van die innerlike. Dit dui ook op die proses van genesing, en dat dit nie ‘n quick fix is nie, maar ‘n ingrypende diepgang van behandeling vra, wat met verloop van tyd eers die goeie vrug van genesing sal begin vertoon. Inaggenome dat een van Jesus se profetiese name Spruit is (Sag. 3:8) en dat Hy ‘n spesifieke mandaat het rondom jou liggaam as tempel (1 Kor. 6:19), en dit is jou totale genesing: “en sê vir hom dit: So spreek die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom ‘n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die HERE bou.” (Sag. 6:12). Die werkwoorde ‘uitspruit’ en ‘herbou’ dui albei op ‘n bepaalde proses en voortdurende bemoeienis, maar veral dat daar ‘n pertinente “vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” langsamerhand sal gestalte kry, en om te weet: “Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” (Jes. 9:7).

Die masskrif uit 2 Sam. 23:5 praat met groot stelligheid oor hierdie genesing – let op na die benadrukte woorde daarin: “Want Hy het ‘n ewige verbond vir my daargestel wat in alles gereël en verseker is; want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie?” Met sulke welwillendheid van Jehova Rapha, die God wat genees (Eks. 15:26), sal jy genees.

Alvorens die Spruit in jou tempel uitspruit, moet die fondament skoongemaak word en alle valse persepsies en oorleweringe en blatante leuens oor hierdie siektetoestand verwyder word. Ons begin in die volgende Mannas daarmee.

 

  • Sela: Bid en maak die masskrif hierbo vas in jou lewe.
  • Lees: 2 Kron. 2-3; 1 Kon. 5-6
  • Memoriseer: 2 Kron. 2:6 (Let die duidelike sinchronisasie!)
  • Delf dieper: Lees I.L. de Villiers se boek: Depressie – die siekte van ons tyd.