Dag 953

 

“ … jou verbrokenheid is so groot soos die see—

wie kan jou gesond maak?”

(Klaagl. 2:13c, OAV)

 

Die breër tema waarmee ons tans besig is, handel oor die gees van perversie. Hierdie gees trek dinge as ‘t ware krom, sodat gelowiges ten spyte van die vrymakende krag van die evangelie van Jesus Christus nog steeds nie in ‘n lewe van oorwinning en oorvloed kan stap nie (Joh. 10:10; Rom. 8:37; 1 Joh. 5:4-5; Open. 21:7). Sodoende word hul deel van “a crooked and perverted generation” (Mat. 17:17; Fil. 2:15).

Die meer spesifieke subtema waarmee ons tans besig is, is die omvangryke tema van depressie. Al is dit nie noodwendig iets waarmee jy sukkel nie, is dit noodsaaklik dat ons God se perspektief op hierdie baie misverstane siektetoestand moet verkry om daadwerklik diegene wat wél daaraan ly, te kan help.

In die vorige Manna is bevind daar is twee groot oorsake van depressie – die een is medies van aard, en die ander een word veroorsaak deur psigologiese faktore. Henry Wright maak in sy boek A More Excellent Way die volgende stelling: “depression, by definition, is no more and no less than a chemical imbalance in the body induced externally or internally” (p. 234). Ons het die mediese aspekte oorsigtelik behandel, maar gemaan dit is van groot belang om te sorg dat al die moontlike natuurlike oorsake hanteer moet word alvorens die medikasieweg gevolg word. Daarmee saam is dit van groot belang dat die moontlike bydraende psigologiese faktore hanteer word.

Daar is duidelik gemaak dat as depressie nié deur ‘n chemiese wanbalans in die brein veroorsaak word nie, is daar ander faktore wat dit veroorsaak. In Manna Dag 949 is uit die literatuurstudie agt sulke faktore genoem. Ons het toe gesê ons kom later hierna toe terug. Die eerste een op die lysie: biologiese faktore, is reeds afgehandel. Twee van die faktore wat voorts op die lysie was, sou geklassifiseer kon word as huidige eksterne faktore: aangeleerde hooploosheid (wat soos volg omskryf word: “the sense of being trapped and unable to remedy an intolerable situation”) en volgehoue stres. Drie ander wat op die lysie is, is eintlik vrugte van depressie, en nie die wortel nie: negatiewe gedagtes, (onderdrukte) woede en ‘n diepgesetelde skuldgevoel. Al drie hierdie is/kan simptome wees van ‘n depressietoestand, maar is nie die oorsaak daarvan nie. Ons gaan derhalwe dan ook nie nou kyk na hulle nie.

Op die lysie bly twee faktore van die lysie oor: verwerping en mishandeling. Hierdie twee faktore kan bepaald ‘n wortelwond wees, maar dit strek tog wyer ook as dit.          ‘n Mens sou by die lysie enige vorm van trauma kan plaas, of molestasie/verkragting, en so meer. Trauma as sodanig is só wyd interpreteerbaar dat al die moontlike oorsake daarvan moeilik gelys sou kon word. Myns insiens moet ‘n mens ‘n wortelwond as simbolies-generies met verskeie moontlike oorspronge sien. Die gemeenskaplike kenmerk van al die oorspronge is dat dit emosionele wonde is wat onderdruk of gerepresseer is en waarvoor die persoon nie heling ontvang het nie.

 

  • Sela: Is daar onderdrukte trauma in jou lewe waarvan jy weet?
  • Lees: 2 Kron. 6-7; Ps. 136
  • Memoriseer: 136:1 (en maak dit ‘n credo van jou lewe).
  • Delf dieper: Lees C.S. Lewis se The Problem of Pain.