Dag 956

 

“Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?”  

(1 Kor. 2:11a, OAV)

 

Alvorens ons dieper ingaan op die geestelike hantering van depressie, is dit miskien allereers nodig om ‘n onderskeid te tref tussen die drie breë benaderings ten opsigte van depressie: psigiatries, sielkundig en geestelik.

Psigiaters se hantering van depressie lê op die terrein van die mediese wetenskap en is hoofsaaklik mediese diagnosering van chemiese wanbalanse in die brein en (moontlike) aanverwante geestespatologieë en die behandeling daarvan. Dit is oorwegend chemies van aard.

Sielkundiges se hantering van depressie lê op die terrein van die sosiale en geesteswetenskappe en geskied hoofsaaklik deur verskillende soorte sielkundige terapieë, maar veral vandag kognitiewe gedragsterapie. Die doel van die terapie is gerig op die verkryging van insig in die proses, die verandering van denke en die aankweek van ‘n nuwe lewenshouding of gesindheid. Omdat geestelike berading (dikwels sonder die teoretiese onderbou) tot ‘n groot mate ook op kognitiewe gedragsterapie gebaseer is, sal dit dalk loon om die vier stappe van hierdie terapie uit te spel. (Hierdie is my gesimplifiseerde samevatting gebaseer op die volgende handleidings: Judith S. Beck: Cognitive Therapy: Basics and Beyond; Keith S. Dobson: Cognitive Therapy: Theories of Psychotherapy; Windy Dryden & Michael Neenan: Cognitive Therapy: 100 Key Points and Techniques.):

  1. Die terapeut wys die kliënt die korrelasie tussen negatiewe gedagtes en oortuigings, die emosies wat dit tot gevolg het, en die gepaardgaande gedrag wat daaruit vloei.
  2. Die terapeut leer die kliënt om bewus te word van negatiewe gedagtes of die voorkoms van ‘n verwronge perspektief op (gebeure in) die realiteit.
  3. As sodanige gedagtes of onbehoorlike reaksies tot alledaagse gebeurlikhede voorkom, moet hy/sy dit identifiseer as disfunksioneel.
  4. Die kliënt moet nou op grond van sy verworwe insig besluit om anders as voorheen te dink, te glo en te reageer, en dit doen.

 

Dr. Edmund Bourne se boek: The Anxiety and Phobia Workbook het die Benjamin Franklin Book Award in 1995 vir uitnemendheid in psigologie gewen. Ná die verskyning van die boek het die skrywer en navorser self deur die diepste vlakke van angsneurose gegaan, ten spyte van sy spesialiskennis oor die saak. Dit het gelei tot die skryf van die 1998-boek: Healing Fear, waarin hy al die goeie kwaliteite en gebruikstoepassings van kognitiewe gedragsterapie weer stel, maar dan duidelik uitwys dat daar onteenseglik beperkinge in dié mees-gebruikte sielkundige benadering is. Bourne stel dit onomwonde dat daar duidelik iets in die sielkunde ontbreek. In die volgende Manna kyk ons wat dit kan wees.

 

  • Sela: Verduidelik aan iemand die verskil ussen psigiatriese diagnose, sielkundige konsultasie en Geesbeheerde
  • Lees: 25-26
  • Memoriseer: 25:2
  • Delf dieper: Lees enige boek hierbo genoem.