“Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?”
(1 Kor. 2:11a, OAV)
Wat ‘n geestelike benadering tot transformasie in ‘n persoon se lewe anders maak as byvoorbeeld ‘n sielkundige benadering, is dat die Heilige Gees die proses fasiliteer.
In Joh. 16:13 waarborg Jesus: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.” Die woordjie in Grieks vir die frase “die toekomstige dinge” is in Afrikaans effens misleidend – dis veel meer omvattend as bloot informasie oor die toekoms. Die woordjie “erchomai” beteken volgens Thayer onder andere: “to come from one place to another, and used … of persons arriving; to appear, make one’s appearance, come before the public; to come into being, arise, come forth, show itself, find place or influence; be established, become known”. Dit beskryf netjies die verwagte uitkomste van wat ‘n mens deur terapie van watter aard kan bereik. Let wel: dit is net deur die Heilige Gees se werking moontlik. “Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?” (1 Kor. 2:11).
Ons het die vorige Manna afgesluit met 1 Thes. 2:13 – dat die Heilige Gees “die woord van God (in jou laat) werk”, “which is also inwardly working itself in you” (Rotherham). Baie gelowiges weet egter nie hoe om dit te laat gebeur nie. Die logos-woord van God is saad (Luk. 8:11) en sál ‘n oes meebring. Die saad van die Woord moet geplant word, natgemaak word en God sal dit laat groei (1 Kor. 3:6) – dis ‘n geestelike wetmatigheid.
Die logos-woord van God kan egter nie in jou werk as dit nie toegang in jou gevind het nie. God kan kwalik werk met iets wat nié daar is nie. Daarom beveel Paulus aan in Kol. 3:16 – “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid.” Hierdie woord, logos, is ook die Woord van God (= Bybel), wat Petrus só beskryf: “the word of God, which liveth and abideth” (1 Pet. 1:23, ASV). Dit moet soos moedersmelk ingeneem word – “There’s nothing like the written Word of God for showing you the way to salvation through faith in Christ Jesus.” (2 Tim. 3:15, Message).
Die rede hiervoor is dat die woord die inherente vermoë het wat Heb. 4:12 uitspel: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” Die NJB se vertaling maak die funksiewerking van die Woord nog meer helder: “The word of God is something alive and active: it cuts more incisively than any two-edged sword: it can seek out the place where soul is divided from spirit, or joints from marrow; it can pass judgement on secret emotions and thoughts.”
‘n Gelowige moet dus die Woord van God as ‘t ware eet (Jer. 15:16; Eseg. 3:1-3; Open. 10:9). In die volgende Manna is daar meer praktiese riglyne oor die saak.
- Sela: Eet jy die Woord van God?
- Lees: 1-6
- Memoriseer: 3:11 in ‘n Engelse vertaling. (EN BEGIN DIT NOU DOEN J!)
- Delf dieper: Lees Janet Pope se boek: His Word in My Heart: Memorizing Scripture