Dag 96

 

“Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”  (1 Kor 11:26, OAV)

Daar is drie belangrike aspekte van die nagmaal vervat in hierdie enkele vers. 

Eerstens: anders as in baie kerktradisies, is die gebruik van die nagmaal nie iets wat net op geskeduleerde tye deur geordende bedienaars gebruik kan word nie. Die Woord stel dit duidelik dat dit moet “dikwels” gebeur. Om hierdie rede is die nagmaal in die Handelingetyd dikwels as deel van etes of liefdesmaaltye gevier (Hand 2:46; 20:7 & 11; 27:35).- dis waar die uitdrukking “brood breek” vandaan kom. As Joh 6:53 ‘n realiteit vir jou word, dan is die gebruik van nagmaal ‘n wonderbaarlike manier om die Christuslewe in jou vry te stel. Jy kan derhalwe bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood …” (Mat 6:11), of soos die dissipels sê: “Gee ons altyd hierdie brood!” (Joh 6:34) en dit menigvuldige kere kan ontvang!

Ten tweede: die gebruik van die nagmaal “verkondig die dood” van Christus. Die dood van Christus beteken veral een ding: die lewe vir wie Hy gesterf het. In vergelyking met Adam, deur wie ons die geskenk van die dood ontvang het, kontrasteer Rom 5:17 dit met die lewe wat die dood van Christus bring in die Message se tintelende vertaling: “If death got the upper hand through one man’s wrongdoing, can you imagine the breathtaking recovery life makes, sovereign life, in those who grasp with both hands this wildly extravagant life-gift, this grand setting-everything-right, that the one man Jesus Christ provides?” Elke gebruik van nagmaal is ‘n konkretisering van hierdie lewe!

In die derde plek is die nagmaal telkens ‘n proklamering (letterlik: showing) van die wederkoms. As jy Mat 26:29 hiermee saamlees, wat Christus gesê het: “Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader,” dan is die nagmaal telkens ook ‘n (moontlike) heenwysing na die Bruilofsmaal van die Lam (Open 19:9). 

  • Sela:  Maak sover dit kan nagmaal ‘n daaglikse praktyk.
  • Lees: Rig 6; Ps 96; Hand 6 
  • Memoriseer: Hand 6:2 
  • Vir dieper delf: Bestudeer Keith Intrater se boek Covenant relationships om te sien hoe alle fasette van Liggaam-wees deur verbondverhoudings gerig word.