Dag 961

 

“En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”     

    (Fil. 4:19, OAV)

Tot en met Manna 957 was ons besig om te gesels oor die verskil tussen sielkundige terapie en geestelike terapie. Die groot ooreenkoms daartussen is dat albei leer dat jy beheer moet neem  oor jou gedagtes (“set your mind”), en dan spesifiek sekere konstruktiewe gedagtes moet bedink, en ander negatiewe of dekonstruktiewe gedagtes bewustelik moet verwyder.

As deel van die geestelike inspraak in gelowiges is daar vir die laaste drie Mannas ‘n geestelike wetmatigheid verduidelik wat van ontsaglike hulp in die genesingsproses is, naamlik dat “die woord van God … werk in julle wat glo” (1 Thes. 2:13). Ons het toe op ‘n legitieme afdraaipaadjie gegaan om ons lesers te leer hóé om die Woord IN jou te kry sodat dit IN jou kan werk.

Hierdie is egter ‘n geestlike wetmatigheid wat vir alle gelowiges geld, selfs dié wat nie sielkundige, of sielsdimensie- of selfs dan geestelike probleme het om te hanteer nie. Dit ontsluit die wonderbaarlike rykdom van wie God is IN ons as dit in ons werk. Fil. 4:19  verduidelik dan dat God hierdeur “elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus”.

Hierdie geestelike wetmatigheid is egter een van ‘n tweeling. Daar is ‘n ander geestelike wetmatigheid wat hiermee saam loop, naamlik die werking van genade. Soos wat die eerste wetmatigheid niks van jou vra behalwe om die Woord in jou te laat woon nie, vra hierdie wetmatigheid eweneens ook niks van jou nie, behalwe geloof. Dus: die agens wat die eerste wetmatigheid in jou laat werk, is jou bereidheid om die Woord in jou te akkommodeer, dit te bedink en dit te integreer in jou denkprosesse. Die agens wat die tweede wetmatigheid laat werk, is geloof.

Maar kom ons klaar net eers die twee begrippe: ‘genade’ en ‘geloof’ uit. Dit word so wyd en dikwels so verkeerd gebruik dat dit absoluut nodig is om die wesensaard van albei vir onsself te moet vasmaak.

Kom ons begin met die begrip ‘geloof’. Die meeste mense misverstaan die Bybel se primêre definisie van geloof in Heb. 11:1, want uit die meeste vertalings lyk dit asof ek maar willekeurig op enigiets kan hoop en God sal dit deur hierdie geloof in wat ek wil hê, my dit laat verkry. Sien byvoorbeeld die NLT se weergawe: “the confident assurance that what we hope for is going to happen”. Ek noem dit blinde geloof, en dit is NIE wat die Bybel daaroor sê nie. Hoop het spesifieke determinasies, veral in die lig van Jak. 4:3 – “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” Die Message se parafrase van vers 4 stel dit hard en duidelik: “And why not? Because you know you’d be asking for what you have no right to. You’re spoiled children, each wanting your own way.”

In die volgende Manna kom ons uit by God se definisie van genade, geloof en hoop.

 

  • Sela: Probeer jy ‘n definisie vind van genade, geloof en hoop
  • Lees: 30-31
  • Memoriseer: 31:25
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Gekorrupteerde genade