“Die geloof is …”
(Rom. 10:17, OAV)
Ons het in die vorige Manna ‘n Woordgefundeerde definisie van die begrip ‘hoop’ gebied om sodoende uit te kom by die werklike agense van verandering in ons lewe. Volgens Heb. 11:1, seker dié standaard definisie oor geloof, word geloof onlosmaakbaar aan hoop gekoppel. Alles wat dus in die vorige Mannas gesé is, is eweneens hier van toepassing.
Die Amplified Bible se vertaling van Heb. 11:1 is besonder insigryk: “Now faith is the assurance (the confirmation, the title deed) of the things [we] hope for, being the proof of things [we] do not see and the conviction of their reality [faith perceiving as real fact what is not revealed to the senses].” Die verduidelikende inbring van geloof as ‘n titelakte maak die verstaan daarvan baie duidelik. Maar voor ons dit in groter detail kan verduidelik, moet ons eers weer die Hebreeuse geskiedenis van die begrip gaan ondersoek.
Waar geloof in die Nuwe Tesament verhef word tot een van die drie swaartepunte van die Christelike geloof (1 Kor. 13:13), is dit totáál anders in die Ou Testament. Dit is amper ongelooflik om agter te kom die woord “geloof” kom net twee keer in die totale Ou Testament voor, en die een geval moet die vertaling streng gesproke eintlik eerder “getrouheid” (“faithfulness”) wees, in Deut. 32:20 – “En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ‘n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie.” Die woordjie “trou” word in die KJV vertaal as “faith”, alhoewel die RV in die kantlyn eintlik “faithfulness” aanbeveel.
Wat dan die belangrikheid van die enkele ander Skrif waarin die woordjie “geloof” in die ou verbond voorkom, op die keper stel: “die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe” (Hab. 2:4b). Die sentraliteit van hierdie profetiese Skrif in die Ou Testament word verder voorop gestel deurdat dit drie keer verbatim deur die apostels aangehaal word, asook verskeie kere geparafraseerd. Inderdaad maak dit hierdie Skrif een van die belangrikste fondasieskrifte in die ganse Bybel. Die drie Nuwe-Testamentiese aanhalings is die volgende:
- 1:17 – “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”
- 3:11 – “En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.”
- 10:38 – “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.”
Laat ons dalk net gou ook kyk na die verhelderende rigtngwyser van die etimologie van die Engelse woordjie “faith”. Die International Standard Bible Encyclopedia gee die volgende agtergrond: “it occurs in the form ‘feyth,’ … that it is akin to fides and this again to the Sanskrit root bhidh, ‘to unite,’ ‘to bind.’ Met hierdie interessante historiese aspekte rondom die woordjie “geloof”, sal ons in die volgende Manna dit dieper ontgin.
- Sela: Waarom, dink jy, kom die woordjie “geloof” net een enkele keer in die Ou Testament voor?.
- Lees: 2 Kron.13-16 – 1 Kon. 15:1-24
- Memoriseer: 2 Kron. 15:2b
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: “’n Mens soos Elia: Leer bid die ‘gebed van die geloof’”