“[That you may really come] to know [practically,
through experience for yourselves] …”
(Efes. 3:19a, AB)
In die vorige Manna het ons begin om ‘n Woordgefundeerde definisie van die begrip ‘geloof’ te probeer formuleer, om sodoende uit te kom by die werklike agense van verandering in ons as gelowiges se lewe. Die verduidelikende inbring van geloof as ‘n titelakte (uit die Amplified Bible) maak die verstaan daarvan baie duidelik. Uit die Hebreeuse geskiedenis van die begrip het ons die merkwaardige verskynsel gevind dat die woordjie “geloof” eintlik net streng gesproke in een enkele versie in die ganse Ou Testament voorkom, en wel dan in Hab. 2:4b: “die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe”.
Die sentraliteit van hierdie profetiese Skrif in die Ou Testament word verder voorop gestel deurdat dit drie keer verbatim deur die apostels aangehaal word, asook verskeie kere geparafraseerd voorkom. Inderdaad maak dit hierdie Skrif een van die belangrikste fondasieskrifte in die ganse Bybel. Uit die Engelse etimologie van die woord “faith”, is voorts veelseggend bevind, dat dit uit die Sanskritwortel kom wat beteken: “to unite,” “to bind.”
In sy merkwaardige boek: Jesus: A New Vision, Spirit, Culture and the Life of Discipleship, wys Marcus S. Borg uit hoedat daar ‘n misverstand bestaan rakende twee verskillende perspektiewe op die begrip ‘geloof’. Die meeste mense dink geloof het net te doen met die feit dat jy glo aan die bestaan van God en wát jy van Hom glo, met ander woorde dit is in ‘n groot mate blote dogmatiese kopkennis van Hom. In hierdie opsig praat ‘n mens byvoorbeeld van ‘n geloofsbelydenis, wat dan uitspel WAT jy glo.
Geloof, egter, gaan absoluut meer oor die gelowige se verhouding met God, dus geloof as harts- of lewensrespons in vertroue op Hom (“trusting in God”).
Wat dus op die oog af lyk of Jakobus in sy sendbrief radikaal standpunt inneem teenoor Paulus ten opsigte van dié saak (in Jak. 2:14-26), word duideliker uit hierdie perspektief. Kyk hoe teenstrydig lyk dit as die twee apostels se uitsprake naasmekaar geplaas word:
- Paulus: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof …” (Efes. 2:8a);
- Jakobus: “Dié geloof kan hom tog nie red nie?” (Jak. 2:14b)
Daarmee saam is dit absoluut so dat Jesus self eerder die Pauliniese frase deurlopend gebruik: “jou geloof het jou gered” (Mat. 9:22; Mark. 5:34; 10:52; Luk. 7:50; 8:48; 17:19; 18:42). Maar wat Jakobus eintlik na verwys, is nie geloof as kennis soseer nie, maar aktiewe geloof in die werkinge van God. Daarom sal die Amplified Bible deurgaans die aktiewe werkwoord van geloof (‘om te glo’ – “to believe”) omskryf as “trust in and rely on Him and adhere to Him”. Jakobus gebruik een van die grootste teologiese feite om sy argument mee te voer. In sy verwysing na Deut. 6:4 – “’Hear, O Israel: The LORD our God, the LORD is one.’” sê hy die volgende: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.” (Jak. 2:19).
Geloof is in die allereerste primêre betekenis nie noodwendig WAT jy glo nie, maar DAT jy aktief glo en sodoende ‘n geïntegeerde medewerker van God word van die praktiese geloof wat jou inbind in alles wat God in en deur jou gestalte wil gee. Dit word mooi gestel deur Efes. 3:19 (AB): “[That you may really come] to know [practically, through experience for yourselves] the love of Christ, which far surpasses mere knowledge [without experience]; that you may be filled [through all your being] unto all the fullness of God [may have the richest measure of the divine Presence, and become a body wholly filled and flooded with God Himself]!” Onthou nou dat die woord ‘geloof’ uit die Sanskritwortel kom wat beteken “to unite,” “to bind.”
Hierdie is nie blote geloofskennis nie, maar geloofservaring – dit bind jou aan en verenig jou met God, en dit stel die werkinge van geloof dan vry. Dít bring ons by ‘n volgende wetmatigheid wat IN ons werk, te wete: “die geloof wat deur die liefde werk” (Gal. 5:6).
Ons het tot dusver al drie geestelike wetmatighede WAT IN GELOWIGES WERK, gevind:
- die werking van die Woord
- die werking van genade
- die werking van die geloof
[Net ‘n terloopse opmerking: Dit is belangrik om te beklemtoon dat “die werking van die geloof” nét deur die medium van liefde werk. Ons het reeds daarop gewys dat twee van die terme onder die loep, te wete geloof en hoop, saam met liefde, die drie ankerstene van die Christelike geloof is (1 Kor. 13:13). Ons word telkens gemaan dat die liefde van God IN ons moet wees, byvoorbeeld in die volgende passasies:
- 5:42 – “Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie.”
- 15:9 – “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.”
- 15:10a – “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly …”
- 17:26 – “En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.”
- 3:17 – “sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is …”
- 1 Joh. 4:12b – “As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.”
- 1 Joh. 4:16b – “hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom”.
- Jud 1:20-21 – “Maar julle, geliefdes, moet … julleself in die liefde van God bewaar”.
Dit is uiteraard net moontlik op grond van Rom. 5:5 – “die liefde van God (is) in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is”. Let wel: die liefde van God is rééds uitgestort in volheid toe jy met die Heilige Gees gedoop is. Jy as wedergeborene het dus volle toegang tot die volheid van Hom wat gedefinieer is en bestaan in liefde, soos 1 Joh. 4:8 en 16 dit stel. Die feit dat dit dalk nie manifesteer in jou lewe nie, beteken bloot dat daar ‘n vleeslikheid is in jou wat dit terughou. Sela asseblief. Ons kom later hierna terug.]
Moet asseblief nie die groter samehang van ons gesprek tot dusver verloor nie – ons is steeds besig met met die werking van genade in gelowiges, en om dit te kan doen, moes ons ‘n paar begrippe vasmaak wat met genade geassosieer word. Ons het eers begin met “hoop”, en is tans besig met “geloof”, toe ons uitvind dat geloof ook ‘n wetmatigheid is wat in ons werk. Die doel is om uit te kom by al die werklike agense van verandering in die lewens van gelowiges.
- Sela: Verduidelik aan iemand wat beteken die woordjie ‘hoop’.
- Lees: 1 Kon. 15:25 – 1 Kon. 19, en 2 Kron. 17
- Memoriseer: 1 Kon. 19:11-12
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Beloftes van God wat sterf in die geboortekanaal