“volgehou soos een wat die Onsienlike sien …”
(Heb. 11:27b, OAV)
Ons is steeds besig met met die werking van genade in gelowiges, en om dit te kan doen, moes ons ‘n paar begrippe vasmaak wat met genade geassosieer word. Ons het eers begin met ‘hoop’, en is tans besig met ‘geloof’, waarna ons bes moontlik in staat sal wees om ‘genade’ beter te kan omskryf.
Alhoewel die begrip ‘geloof’ vreemd genoeg net ‘n enkele keer voorkom in die ganse Ou Testament, is dit interessant dat in Heb. 11, waar daar verslag gedoen word oor die geloof van al die Ou-Testamentiese geloofshelde, dit geloof is wat telkens voorop gestel word. Net ‘n paar voorbeelde ter illustrasie:
- “Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain …” (vers 4)
- “Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie …” (vers 5)
- “Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie …” (vers 7) ens.
Die logiese vraag nou bly: waarom is dit nie telkens in die Ou Testament as geloof voorgehou nie? Hoogstens is daar ‘n klompie gevalle waar gesê word dat enkelinge/die volk “geglo het” (bv. Gen. 15:6; Eks. 14:31; Jona 3:5), maar meestal word dit in die uitdrukking gebruik dat hulle NIE geglo het in wat God gesê het nie (bv. Num. 20:12; Deut. 1:32; Ps. 78:22). Die werkwoordaksie van “om te glo” was klaarblyklik algemeen, maar die substans van “geloof” het heeltemal ontbreek. Sela asseblief.
Interessant genoeg lê die antwoord in Heb. 11, wat hierdie lang epog van geloofshelde in oënskou neem, en in die uiteensetting duik daar ‘n paar baie pertinente Nuwe-Testamentiese temas op wat dié geloofshelde van voor Christus van geweet het. Kyk na hierdie eksplisiete merkers van die Nuwe Testament in die volgende tekste:
- “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. … Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” (Heb. 11:8 en 11b). Abraham was op pad na die Nuwe Jerusalem, die Bruid van Christus (Heb.12:22; 28; 13:14; Joh. 14:2; Fil. 3:20; Open. 21:2; 10-27)!
- “Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer … want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek.”(Heb. 11:17-18). Géén woord word in die meesterverhaal van Abraham in die Ou Testament gerep oor die moontlikheid van opstanding uit die dood nie. Hier word dit ‘n duidelike tipologiese toespeling op Jesus.
- “Deur die geloof het Moses … die smaad van Christus groter rykdom geag … as die skatte van Egipte ..” (Heb. 11:24 & 26).
Hierdie geheimenis gaan ‘n onverwagte en verrassende deur vir ons oopmaak om die substans van geloof baie meer konkreet te verstaan. Meer in die volgende Manna.
- Sela: Wat is die implikasies van die laaste Skrifgedeelte?
- Lees: 1 Kon. 20-21
- Memoriseer: 1 Kon. 21:3
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Koninkryk van God is in jou