Dag 968-970

 

“Maar voordat die geloof gekom het …”

(Gal. 3:23, OAV)

 

In ons soeke na God se bloudruk vir die genesing van depressie het ons wye paaie geloop, en moes ons spesifiek kyk na God se algemene genade-attribute tot ons lewens as gelowiges, en dit het ‘n totaal nuwe venster oopgemaak op fundamentele begrippe in ons geloofsraamwerk. Ons het tot dusver al drie geestelike wetmatighede wat ín gelowiges werk, onderskei. Tans is ons besig met met die werking van genade in gelowiges, en om dit te kan doen, moes ons ‘n paar basiese begrippe vasmaak wat met genade geassosieer word. Ons het eers begin met ‘hoop’, en is tans besig met ‘geloof’, waarna ons bes moontlik in staat sal wees om ‘genade’ beter te kan omskryf en verstaan.

Die begrip ‘geloof’ is miskien een van die mees frekwent-gebruikte begrippe in die Nuwe Testament. Maar, vreemd genoeg, soos uitgewys, kom dit net ‘n enkele keer profeties voor in die ganse Ou Testament. Tog is dit interessant dat in Heb. 11, waar daar verslag gedoen word oor die geloof van al die Ou-Testamentiese geloofshelde, dit geloof is wat telkens voorop gestel word. In Heb. 11 se uitstip van geloofshelde is daar ‘n paar baie pertinente Nuwe-Testamentiese temas waarvan dié geloofshelde, lank voor Christus, duidelik moes van geweet het!

Nog ‘n mooi bewys hiervan is die verhaal wat in Heb. 3 vertel word van die Israeliete in die woestyn, hul ongehoorsaamheid en dat hul as gevolg van hul ongeloof nie kon ingaan in die beloofde land en die rus van God nie (verse 16-19). Die verhaal word in Heb. 4:1-2 hervat: “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie.”

Moet dit nie mis nie – DIESELFDE evangelie wat ek en jy in die Nuwe Testament ontvang het, het hulle in die Ou Testament ontvang! Daarom sal Gal. 3:8  byvoorbeeld sê: “En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word.”

Veelseggend in dié lig dan dat Paulus in Efes. 4:4-6 eksplisiet uitspel: “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” Judas, die broer van Jesus, knoop in vers 3 van sy sendbrief hierdie “een geloof” aan “ons gemeenskaplike saligheid”, “die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”. Dit alles sou beteken dat as die Skrif in die Nuwe Testament van geloof praat, dit uiteraard uitsluitlik gekoppel word aan “die geloof in onse Here Jesus Christus” (Hand. 20:21). Geen mens, hetsy in die Ou of Nuwe Testament, kan geregverdig en gered word behalwe deur Jesus Christus nie. Lees byvoorbeeld Rom. 3:22 – “die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie”. Sela. Of: Gal. 2:16 – “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie”.

Nou is dit reeds gesê dat geloof as begrip net een enkele keer (en dit dan profeties) in die Ou Testament voorkom, dus konkreet wesentlik ontbreek. Jesus se sterwe en opstanding as die Seun van God was uiteraard tóé nog nie ‘n (geloofs)realiteit nie. Dit is in ooreenstemming met wat Gal. 3:23 eksplisiet uitspel: “Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.”

Die Ou-Testamentiese “geloofshelde” van Heb. 11 het reeds ‘n verstaan, maar duidelik ook spesifiek hoop op Jesus Christus en sy lewe gehad (onthou die drie voorbeelde wat in die vorige Manna uitgewys is, ter illustrasie). Onthou net uit die vorige Mannas: die hartklop van hoop vir die mens is die geleentheid om aan die genealogiese naelstring van Jesus te kan wees, met ander woorde: om uit Hom gebore te kan word. In daardie erfdeel lê die roeping in Christus. Sommige Ou-Testamentiese geloofshelde het dit reeds tóé gehad.

Menigte male in die Nuwe Testament word die ondubbelsinnige uitsprake gemaak dat die Ou Testament oor Jesus die Christus handel. Kyk na die volgende eksplisiete voorbeelde:

  • “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.” (Joh. 5:39)
  • “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Luk. 24:27)
  • “En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.” (Luk. 24:44-45)
  • “Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?” (Joh 5:46-47)
  • “Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret.” (Joh. 1:45)
  • “Om hierdie rede het die Jode my (Paulus) in die tempel gevang en my probeer ombring. Maar omdat ek hulp van God verkry het, staan ek tot vandag toe en getuig aan klein en groot, en spreek niks buiten wat die profete en ook Moses gesê het dat sou gebeur nie: dat die Christus moes ly en die eerste wees uit die opstanding van die dode, en ‘n lig aan die volk en die heidene sou verkondig.” (Hand. 26:21-23)

 

Die dwingende vraag hier is: as die verlossingsplan van Jesus die Christus nie in die tyd van die skrywe van die Ou Testament ‘n historiese realiteit was nie, op welke wyse is die blye boodskap in die “wet en die profete” ingeskryf, geïnskribeer, want dit is/kon nie voor die hand liggend of eksplisiet wees nie?

Die antwoord is van groot belang: die hele ou verbond moet tipologies gelees word, want daarsonder is dit onmoontlik om die geïnskribeerde Christus in die Ou Testament “uit te lees”. 2 Kor. 3:14-16 maak dit absoluut duidelik: “Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem.”

Ons weet uit 2 Kor. 4:3-4 dat as die “evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie”. Kom tot hierdie wonderbaarlike besef – die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus het reeds in die Ou Testament met mense gebeur. Die openbaring wat vlees en bloed nie aan jou kan openbaar nie, nét die Vader wat in die hemele is (Mat. 16:17) was reeds in die tyd vóór Christus ‘n realiteit. Dit kon nie soseer deur geloof plaasvind nie (soos vroeër uitvoerig verduidelik), maar deur hoop! Daarom maak dit sin dat Rom. 8:24 sê: “Want ons is gered in hoop …”

Andrew Jukes, in sy boek, The Names of God, spel dit ingewikkeld, maar baie duidelik uit: “This is the remedy, the only remedy, for … evil. Revelation, that is an unveiling of Him, – for the serpent’s lie and its bitter fruits have almost wholly hidden God from us, – in a word, His shewing Himself to us as we can bear it, – is the means, not only to give us peace and bring us to God, but to change us again into His image … God’s revelation of Himself to His fallen cretures restore in it His likeness.” Jukes vra dan: “But how has God revealed Himself to man?” Die antwoord is eintlik skrikwekkend eenvoudig, maar verreikend: “Man shews himself by his words and works. God in like manner has done this. His Word is the express image of His person and the brightness of His glory; and by that Word, which is perfect truth, He has answered, and still answers, the false word of the serpent, which has been our ruin. By His Word in nature, ‘for the heavens declare His glory’ (Ps. 19:1), through to fallen man there seems ‘no voice or language’ in them; – by His Word spoken through His servants, ‘at sundry times and in diverse manners’ (Heb. 1:1), coming to us from without and in the letter … above all by His ‘Word made flesh,’ (Joh 1:14), in Christ our Lord – God has shewn us what He is …” (pp. 4-5).

Telkens word die Nuwe-Testamentiese leser daarop gewys dat die hele Ou Testament die wesensaard van Christus verhul, “die hoop op heerlikheid”. Die God’s Word-vertaling stel Kol. 1:26b-27 soos volg: “His entire message (is): In the past God hid this mystery, but now he has revealed it to his people. God wanted his people throughout the world to know the glorious riches of this mystery – which is Christ living in you, giving you the hope of glory.” Kyk na hierdie voorbeelde:

 

  • “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.” (Rom. 15:4)
  • “Want in die wet van Moses is geskrywe … Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word.” (1 Kor. 9:9a-10)
  • “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.” (1 Pet. 1:13)

 

Watter “genade” word jou “deel”? James B. Richards, in sy boek: Grace: The Power to change, gee die volgende definisie van genade, wat ek heelhartig onerskryf: “Grace is God’s ability working in man, making him able to do what he cannot do in his own ability.” Sela asseblief.

Om hierdie taamlik ingewikkelde argumente te laat kulmineer, is die Skrif in 1 Pet. 1:13 hierbo essensieel. Die hoop (en by implikasie geloof) van al die Ou-Testamentiese figure wat byvoorbeeld in Heb. 11 genoem word, het te make met die “verheldering” (Efes. 1:18) van hul verstand, en as hul dan die openbaring van Jesus Christus verkry het, verkry hulle boonop genade daardeur, en dan kan hulle deur God se vermoë IN hulle verander tot hulle Sy Beeld deelagtig geword het!

Om net verlaas na ‘geloof’ terug te keer. As Rom. 10:17 kategories stel: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God”, is dit van die allergrootste belang om te weet die woordjie “woord” hier “rhema” is, ofte wel: jou uniek-eie roeping en identiteit in Christus. Hierdie geloof is nie dié van die eerste dimensie, wat gaan oor redding en geloof in God en Jesus se soenoffer en opstaan uit die dood nie. Hierdie geloof is ook nie dié van die tweede dimensie wat vereis word vir die funksionering van genadegawes nie. Hierdie is die derdedimensiegeloof, die “allerheiligste geloof” (Jud. 1:20) – die geloof in jou identiteit in Christus.

Dit is merkwaardig dat elkeen van die drie bekende begrippe: ‘hoop’, ‘geloof’ en ‘genade’, ‘n ander Bybelse grein het as wat ons dit tradisioneel verstaan het.

 

  • Sela: Probeer die begrippe ‘hoop’, ‘geloof’ en ‘genade’ vir iemand kortliks verduidelik.
  • Lees: 1 Kon. 22; 2 Kron. 19-23; Obad. 1; Ps.82-83
  • Memoriseer: 82:6 (veral in die lig van hierdie lering)
  • Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.