“Hierom het ons hart krank geword, hierom is ons oë verduister …” (Klaagl. 5:17, OAV)
In Manna 954-955 het ons gesê dat alvorens ons ingaan op die geestelike hantering van depressie, ons eers moet kyk na God se algemene genade-attribute tot ons lewens as gelowiges. Dit het meegebring dat ons die fundamentele begrippe in ons geloofsraamwerk: ‘hoop’, ‘geloof’ en ‘genade’ moes ondersoek, en toe uitgevind het daar is drie geestelike wetmatighede wat ín gelowiges werk, te wete:
- die werking van die Woord
- die werking van genade
- die werking van die geloof
Ons het boonop uitgevind dat al drie die wetmatighede nie net in die Nuwe-Testamentiese era gewerk het nie, maar selfs in die Ou-Testamentiese era! En die goeie nuus: dit is totaal verniet. Jy moet dit net met geloof verenig, dan word dit “wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet” (Jak. 1:12) werksaam in jou lewe. Vir die geestlike persoon wat aan depressie ly, is dit van groot belang om te weet, en aktief dié werkinge in jou te laat werk.
Indien jy dan die moontlike fisiese oorsake en die moontlike chemiese wanbalanse in jou brein professioneel hanteer het, en die depressietoestand nog voortduur, is dit belangrik om hulp te kry om die moontlike psigologiese worteloorsake van depressie te hanteer.
Schwartz. & Schwartz. se standaardbron: Depression: Theories & treatments, maak dit duidelik dat depressie primêr ‘n effek op die gemoed het: “Depression is an affective, or mood disorder. It is an illness that immerses its sufferers in a world of self-blame, confusion, and hopelessness.” ‘n Geestelike benadering tot depressie sal dus nié probeer om dit net op ‘n sielsvlak (waar die emosies setel) te hanteer nie, maar die dieperliggende wortel(s) daarvoor probeer vind. Freud se psigodinamiese werking het veel daartoe bygedra dat ons geleer het dat alle ongehanteerde trauma onderbewustelik geberg word, en resulteer in allerlei emosionele reaksies (Lowry, M. E.: Major Depression: Prevention & treatment).
Uit ‘n geestelike oogpunt verstaan ons dit egter ‘n bietjie wyer, en wil ek voorhou dat depressie eerder gesien moet word as ‘n boodskapper van onverwerkte trauma. In plaas daarvan om dit as ‘n siekte te sien, moet dit veel eerder voorgestel word as ‘n boodskapper wat die persoon deur intense gevoelens wil attent maak daarop dat daar onverwerkte sake in die onderbewussyn is wat die persoon se optimale funksionering, heelwording en integrasie verhinder, en derhalwe ook die gees siek maak. Klaagl. 5:17 stel dit mooi: depressie maak die hart krank en verduister die oë. Solank daar nie ‘n ingryping is om die onverwerkte dieptes van die trauma in die lig te bring nie, kan daar nie genesing uitspruit nie, en sal die donker boodskapper die persoon bly herinner aan die noodsaaklikheid om die toksisiteit van ongehanteerde sake te hanteer.
- Sela: Maak die waarheid vas oor die werkig van die Woord, genade en geloof in jou lewe.
- Lees: 2 Kon. 1-4
- Memoriseer: 2 Kon. 2:12
- Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.