
“Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig.”
(Efes. 5:13, OAV)
Manna 953 het bevind dat die psigologiese oorsaak van depressie terug te herlei is na ‘n wortelwond, maar dat dit simbolies-generies, met verskeie moontlike oorspronge, is. Die gemeenskaplike kenmerk van al die oorspronge is dat dit emosionele wonde is wat onderdruk of gerepresseer is en waarvoor die persoon nie heling ontvang het nie.
Omdat daar soveel wisselende moontlikhede van wortelwonde is, is dit bykans onmoontlik om almal te lys of selfs in bepaalde kategorieë te plaas. Wat een kind/persoon as trauma ervaar, ervaar ‘n ander as motivering om uit die slegte situasie te ontsnap. Omdat mense se psigologiese weerstande, innerlike sterkte, personlikheidsamestellings, en so meer, in almal verskillend is, is dit onmoontlik om ‘n spesifieke behandelingsmetodologie voor te hou.
‘n Geestelike benadering tot depressie (wat gerugsteen word deur die werking van die Woord, die werking van genade en die werking van geloof IN ons), word “na die werking van die krag van sy sterkte” (Efes. 1:19) ‘n dinamiese werking van God as daar by jou geloof is in “die werking van God” (Kol. 2:12) . Hierdie benadering is gebaseer op dit wat Leanne Payne in haar boek Listening Prayer so raak sê: “Prayer starts with and remains deeply rooted in the Scriptures; the revealed Word of God quickly discerns our hearts.” (p. 20). Dit is so omdat God gekies het om ons deur sy woord te vernuwe (Jak. 1:18) en ons “met die nuwe mens beklee … wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol. 3:10). Ten grondslag van hierdie benadering is C.S. Lewis se versugtingsgebed in sy boek: Letters to Malcolm: Chiefly on Prayer – “The prayer preceding all prayers is ‘May it be the real I who speaks. May it be the real Thou that I speak to.’”
Allereers: Die terapeut/berader en die depressielyer bid saam en bely dat hulle liggaam, siel en gees aan God behoort. Ek bid gewoonlik 1 Thes. 5:23 (ACV) – “And may the God of peace himself sanctify you thoroughly. And may your spirit and soul and body be preserved complete, blamelessly at the coming of our Lord Jesus Christ.” Verklaar dat liggaam, siel en gees aan “behoort aan Christus, en Christus behoort aan God” (1 Kor. 3:23) en dat alles in die liggaam, siel en gees onderdanig is aan die wil van God en dat hulle “volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kol. 4:12).
Tweedens: Bid en vra God om die Heilige Gees te stuur om die hart van die depressielyer te deursoek en dat Hy tydens die sessie “ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges sal intree” (Rom. 8:27). Vra ook dat die Heilige Gees die genadegawes van ‘n woord van wysheid en kennis (1 Kor. 12:8) sal vrystel, asook “die Gees van wysheid en openbaring” (Efes. 1:17), en wat ook al nodig is om die gebroke hart (Jer. 23:9) bloot te lê (Spr. 15:11), asook dit wat in die duisternis is, aan die lig te bring (Efes. 5:13).
As God se deel van die kontrak, is dit goed om byvoorbeeld Jes. 45 :1b-3 te lees. As God dit aan die heidense koning Kores vierhonderd jaar vóór sy geboorte al belowe het, hoeveel te meer sal Hy dit nie ook wil doen aan sy kinders nie (Mat. 7:11)! Hy sê aan jou: “Ek sal voor jou deure oopmaak, en poorte sal nie gesluit bly nie. Ek sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep …” Bely dat jy glo God wil jou genees (Deut. 32:39). Die apokriewe boek: The Wisdom of Solomon 16:12 sê: “Thy word, O Lord, … healeth all things.”
Derdens: Laat die depressielyer verklaar dat hy/sy dit glo wat gespreek is – Rom. 10:10 – “want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding”, sodat hy/sy “ook in waarheid geheilig kan wees” (Joh. 17:19).
Vierdens: Na aanleiding van die aanvang van die ‘Onse Vader’-gebed maak Samuel J. Mikolaski (red.), dié belangrike opmerking in die boek: The Creative Theology of P.T. Forsyth: “If we first hallow God’s Name … we are delivered from all evil, and all things are ours.” (pp. 55-56)! Uitgaande van jou outoriteit in Christus, gebied alle moontlike onrein geeste in die persoon. Sê: “Gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.” (Mark. 9:25). Verseël hom/haar weer met die Heilige Gees (2 Kor. 1:22; Efes. 1:13).
Vyfdens: Begin met die depressielyer praat oor sy/haar geskiedenis, en spesifiek oor wat hy/sy ervaar as die moontlike trauma-ervarings en/of verwondings. Vra vrae soos die verlede oopgemaak en uitgepluis word, en vertrou die Heilige Gees om die regte vrae te vra. Maak aantekeninge van wat jy as terapeut ervaar die wonde is. Wag op die leiding van die Heilige Gees deur ‘n woord van kennis, ‘n woord van wysheid, moontlik ‘n visioen, inspraak in jou gees. Indien dit nodig is, begelei die persoon na die baarmoeder en die vroeë kinderjare toe om sekere ervarings uit die onderbewuste na vore te laat kom. Dis verstommend hoe die Heilige Gees verdringde en uitgeblokte ervarings en herinneringe (veral deur psigologiese verdedigingsmeganismes) laat surface. Probeer al die wortelwonde konkreet identifiseer deur dit te benoem.
Hierdie stap is dikwels baie emosioneel, soms onsamehangend, asof die depressielyer die trauma weer herleef. Soms kan die persoon in terapie in ‘n fetale posisie opkrul, partykeer skree, kreun, vloek, winde laat, braak, angstig word, bewe, en so meer. Moet nie die proses stuit nie, maar bid deurgaans vir Goddelike en ordelike begeleiding. Moet nooit dat die persoon in berading kontak met die realiteit verbreek of in ‘n tipe onbewustelike gedagtestroom (“trance”) ingaan nie.
Sesdens: Nadat die wortelwonde geídentifiseer is en deur gebed aan die lig gebring is, bid dat die lig dit sal bestraf (Efes. 5:13). Hierdie is die groot geheim rondom bevryding van depressie. Die terapeut moet nou die persoon wat beraad word, begelei in die vryspraak en vergifnis van almal wat die wortelwonde veroorsaak het. Die beginsel is eenvoudig: “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.” (Mark. 11:25-26). Die loskom van depressie is 100% gekoppel aan die vergifnis van diegene wat die slagoffer seergemaak het.
In die sewende en laaste plek: Vra God om alle gedagtes en herinneringe oor die verlede te genees (“the healing of memories”). Verseël die persoon weer met die Heilige Gees en vra Fil. 4:7 – “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” Ek bid gewoonlik ter afsluiting die volgende drie seënbede oor die persoon in die Naam van Jesus Christus, Hý wat in die vlees gekom het (1 Joh. 4:3):
- Rom 15:13 – “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”
- 1 Pet. 5:10 – “En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!”
- 20:32 “En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes.”
- Sela: Internaliseer die proses van genesing.
- Lees: 2 Kon. 5-11
- Memoriseer: Die meeste van die Skrifte hierbo
- Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.