Dag 974

 

“Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het …”

(Fil. 3:8, OAV)

Die hantering van die gees van perversie in die lewe van gelowiges is so ‘n omvangryke en gediversifiseerde tema dat ons nou al baie lank daarmee besig is, en ons het dit nog geensins uitgeput nie. In verskeie subtemas het ons in detail gekyk na die pervertering van gelowiges en dit wat hul geloofsfunksionering besoedel, byvoorbeeld die onvermoë om jouself  lief te hê, selfhaat (teenoor selfaanvaarding en selfliefde), onvergewingsgesindheid (en die belangrikheid van vergifnis), neerslagtigheid en depressie.

In hierdie Manna begin ons een van die dodelikste perversies in die mens, ook in die gelowige mens, ondersoek. Dit kan op verskeie name genoem word: selfsug, eersug, selfgesentreerdheid, narcisssime, eiebelang en eiesinnigheid. Baie teoloë beskou dit as die oersonde van Satan en van Adam – die dwingende begeerte om die self te verhef.

Paulus hou Jesus deurgaans voor as dié voorbeeld van selfloosheid. In 2 Kor. 8:9  sê hy: “Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word”. Jesus se etos was baie eenvoudig: “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Mat. 20:27-28). Gebaseer op daardie voorbeeld spel Paulus die ontsaglike belang van selfloosheid en diensbereidheid in geen onseker terme uit nie: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Fil. 2:3-8).

Dit is duidelik uit hierdie Skrifgedeeltes dat hierdie ingesteldheid nie net een van die karaktereienskappe van die Vader en die Seun is nie, maar dat dit ‘n duidelike manifestasie van ons goddelike natuur (2 Pet. 1:4) moet wees. In hierdie Skrif sê Petrus dat ons dit eers kan verwerf nadat ons “die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is”. Hierdie verdorwe begeerte na mag en sefverheerliking staan ons goddelike natuur direk teen.

Wat is die oorsprong daarvan, en hoe hanteer ‘n gelowige hierdie oeroue dwingende behoefte na selfgelding ten alle koste?

Die eerste mens het ‘n enorme outoriteit en belangrike geestelike posisie ingeneem: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Gen. 1:26). Ons weet uit Ps. 8:5-6: “U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel …” In Adam was hierdie natuur van God ook – maar hy het ook ‘n vrye wil gehad om te kan kies om anders te wees. Inderdaad: “die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers” (Gen. 4:7). Adam het anders gekies, tot my en jou se geweldige verlies.

 

  • Sela: Het jy die “gesindheid … wat ook in Christus Jesus was” (Fil. 2:5)?.
  • Lees: 2 Kon. 12-13; 2 Kron. 24
  • Memoriseer: 2 Kon. 13:21
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Die Purpermantel van Lidia – salwing en nederigheid