Dag 975-976

 

“Shut … on themselves in a hall of mirrors …”

(Rom. 11:8, Message)

Ons is besig om een van die gevaarlikste perversies in die lewe van gelowiges te ondersoek, naamlik narcissisme.

Die term ‘narcissisme’ kom, interessant genoeg, uit die letterkunde. Ovidius beskryf in sy klassieke epiese gedig Metamorfoses (boek III, vs. 339-510) die ongelukkige liefdesgeskiedenis van Narcissus en die nimf Eggo. Hy was uitsonderlik trots op wie hy is en hoe uitsonderlik aantreklik hy was, in so ‘n mate dat alle ander wesens vir hom minderwaardig was, en derhalwe kon hy ander baie moeilik liefhê. Die godin Nemesis, “a spirit of divine retribution against those who succumb to hubris”, het sy fikasasie met homself gesien en hom na ‘n poel gelok waar hy sy eie weerkaatsing in die water gesien het en smoorverlief op homself geword het. Hy het die beeld in die water probeer soen, en sodoende verdrink. Op die plek waar die beeld in die water was, het ‘n narsing opgekom.

Mark Kinet, in sy artikel ‘Reflections in a golden I: Een Inleiding’ (opgeneem in Mark Kinet & Luc Moyson (reds.) Grootse patiënten, kleine therapeuten. Narcisme & Psycho-therapie) gebruik die mitologiese verhaal as vertrekpunt om ‘n baie uitvoerige uiteensetting te bied van die moontlike oorsake en karaktertrekke van grandeur (grootheidswaansin) in mense: “Benewens die sieklike eieliefde is daar verskeie ander dinge om te verreken. Die figuur, Leiriope, as ‘n oordrewe koesterende en bewonderende moeder, se rol; voorts Narcissus se ydelheid, arrogansie, minagting van ander, outosentrisme, grandiositeit, gebrek aan empatie, ‘n onseker liggaamsbeeld, swak afgrensing tussen die self en die objek, die afwesigheid van duursame verhoudingsbande, gebrek aan substansie in verhoudings; die onvermoë om ander lief te hê. Opgesluit in ‘n spieëlpaleis, of in ‘n eggokamer, is vir Narcissus ‘n allesomsluitende alleenheid en afgrondelike psigiese lyding.” (Uit die Nederlands vertaal.)

Die begrip ‘narcissisme’ is die eerste keer in 1898 gebruik deur Havelock Ellis, ‘n Engelse seksioloog, wat die term “narcissus-like” gemunt het in sy verwysing na eksessiewe masturbasie, en spesifiek met verwysing daarna dat ‘n persoon sodoende sy eie seksobjek word. In 1899 gebruik Paul Näche vir die heel eerste keer die begrip ‘narcissisme’ in ‘n studie van seksuele perversies. In 1911 publiseer Otto Rank die eerste psigoanalitiese studie oor narcissisme, waar dit los van die seksuele konteks ondersoek word, en dit met die karaktereienskappe van ydelheid en selfbewondering in verband gebring word. (Millon, T: Personality Disorders in Modern Life). Die baanbrekersartikel oor die onderwerp word egter in 1914 deur Sigmund Freud gepubliseer, getiteld: ‘On Narcissism: An Introduction’.

Sosio-bioloë en evolusie-psigoloë meen dat narcissisme natuurlik is vir alle mense omdat selfliefde ‘n instinktiewe, natuurlike-seleksie eienskap is. Hulle argument is dat alle kinders van geboorte narcissistse moet wees om te kan oorleef.. Alhoewel dit volgens hulle later in ‘n mate verander soos die kind grootword, meen hulle ‘n stewige dosis selfliefde altyd deel van die persoonlike behoefe van alle mense is. Dis slegs wanneer narcissisme in volwassenes só oordadig voorkom dat dit dalk as patologies gediagnoseer kan word, die sogenaamde Narcisstiese Persoonlikheidsafwyking, dat dit nie aanvaarbaar is nie. (Buss, D.M.: Evolutionary Psychology: The New Science of the Mind.)

Vandag is die Narcissistiese Persoonlikheidsafwyking ‘n wydgebruikte medies-psigologiese klassifikasie. Daar is breedweg tien merkers van hierdie narcissistiese persoonlikheidstipe (verkry uit: Pamela Scudder se ‘Narcissism and the Reluctant Spirit’, aangevul uit Kernberg, O. F. se Borderline Conditions and pathological Narcissism):

 

  • hulle het ‘n grandiose oortuiging van die belangrikheid van die self
  • is gepreokkupeerd met fantasieë van grootsheid, of ongeëwenaarde sukses, mag, briljansie, skoonheid of ideale liefde
  • glo onwrikbaar dat hy/sy uitermatig spesiaal is, totaal uniek, en net verstaan kan word deur, of moet assosieer met, ander uiters spesiale of hoë-status persone (of instansies/inrigtings)
  • benodig geweldige bewondering van ander; manipuleer (subtiel) om dit te verkry
  • het ‘n onredelike aanspraak op wat hy/sy dink hom/haar toekom (“a sense of entitlement”) of absurde verwagtinge van spesifiek buitengewoon goeie behandeling of aandag of outomatiese aanvaarding van hom/haar se dwingende behoeftes
  • is interpersoonlik uitbuitend, met ander woorde, neem elke geleentheid om sy/haar eie agenda en behoeftes te vervul en hom/haar sin te kry
  • ontbreek bykans totaal aan empatie; is onwillig om die nood of behoeftes van ander raak te sien, te identifiseer met hom/haar of hul sienings/emosies oor sake
  • is dikwels baie jaloers op ander mense en glo ook ander is jaloers op hom/haar
  • is oor die algemeen arrogant, trots en afkeurend teenoor ander
  • is dikwels so selfgeobsedeer dat hul na hulself in die meervoud verwys, “the royal we”.

 

In die kern van hierdie sindroom is die konstruksie van ‘n vals self as ‘n poging om die aansprake van die eksterne wêreld te hanteer. Ten diepste is dit ‘n verdedigingsmeganisme om die individu se dwingende gevoelens van onsekerheid en identiteitloosheid weg te steek. Soos die mitiese Narcissus is die narcissis nie verlief op die ware self nie, maar op ‘n geprojekteerde grandiose fantasiefiguur, perfek en superieur.

Die narcissis gebruik mense – selfs sogenaamde geliefdes – as instrumente om hierdie vals self te bevestig en sodoende die vals self in stand te hou. Die narcissis is by wyse van spreke hol binne, en hy verkry sy identiteit deur simboliese spieëls wat homself amplifiserend weerkaats in die oë van ander. In die psigologie word dit “spieëling” (“mirroring”) genoem – die narcissis gebruik ander mense as ‘n spieël om self-beeld te voed. Soos ‘n vampier leef op die bloed van ander, moet die narcissis voed op ander mense se liefde, aanvaarding, bewondering en komplimente. Dikwels lok hy hulle uit om sy eie ego te voed. As die persoon dit nie meer doen nie, is daar geen rede meer vir die verbintenis nie.

N.P. van Wyk Louw se sonnet ‘Kamer van spieëls’ (in Gestaltes en diere) kan gelees word as ‘n baie raak beskrywing van die komplekse psigologie van die narcissistiese persoonlikheid: “Na die skipbreuk van alle sekerheid / in hierdie bitter jare het ek gelê, verstil, / tussen swart spieëls … Toe’t ‘n skriklike vermoede uit die blink duister / en uit die grou spieëls gewel; / en telkens het ‘n skemerwand gegloei / met lig wat geen afskynsel was van aardse / lig, maar kort en bleek in die dieptes bloei / van die glas self; en in die nederwaartse / stort van al my dink en gans ontdaan / het ek in die glans ‘n groot dier sien staan.”

Benewens die psigologiese toestand is dit uiteraard so dat die narcissis hom/haarself uiteindelik oopstel vir die besetting van “die Dier wat was en nie is nie” (Open. 17:11).

 

  • Sela: Toets jouself aan die kenmerklysie hierbo.
  • Lees: 2 Kon. 14; 2 Kron. 25; Jona 1-4
  • Memoriseer: 2 Kron. 25:8

         Delf dieper:  Kyk na Tom Gouws se dvd-lering: Hoe raak ek van my donker natuur ontslae