“not to over think beyond what he ought to think, but to think so as to think soundly”
(Rom. 12:3, ACV)
In die vorige Manna het ons die psigologiese grondslae en daaruit voortvloeiende karaktereienskappe van die narcissis begin ondersoek, een van die gevaarlikste perversies in die lewe van die mensdom, maar ook bepaald in die lewens van gelowiges.
Daar is uitgewys dat die kern van hierdie sindroom lê in die konstruksie van ‘n vals self. ‘n Vals self kry gestalte in ‘n verbeeldingswêreld. Ons het in verskeie Mannas al uitvoerig geskryf oor die ontstaan van ‘n geestelike verbeeldingswêreld, en perdalks moet jy weer Mannas 32, 34-35, 490, 496 en 836-839 gaan lees om die omvang van hierdie saak na regte te begryp. Die krisis wat dit op geestelike vlak meebring, is dat selfs God ‘n konstruksie van die self word, en só aanbid word. In wese is dit die gees van die antichris – die gees wat in die tempel (= gelowige se liggaam – 1 Kor. 6:19) woon en voorgee dat hy God is (2 Thes. 2:4). Dit is “die Dier wat was en nie is nie” (Open. 17:11) wat IN hul beslag kry. Wat dus lyk na blote selfbeheptheid, selfsugtigheid, eiewaan, egosentrisme, en so meer, kan, gegewe sekere kontekste en karakterprofiele, groei tot ‘n psigologiese toestand van narcissisme, en dit lei bykans altyd tot demoniese besetting.
Dit is duidelik dat hierdie ‘n komplekse saak is wat nie eenvoudig deur berading of bevryding hanteer kan word nie. Die grootste probleem daar rondom is dat die person wat aan narcissisme ly bykans totaal onbewus is daarvan, en ter wille van selfoorlewing dit met absolute oortuiging sal ontken. Die tendens is dat narcissiste dink dit is belaglik dat ander sou dink daar is fout met hul. Onthou: in hul verbeeldingswêreld is hul onaantasbaar. Diégene wat nie dink en sê hul is God se geskenk aan die wêreld nie, word eenvoudig uit die narcissis se lewe gesny en geminag as insigloos omdat jy nie hom/haar se grootsheid (h)erken nie.
[Wat ons geensins nou aanraak nie, is dat die gebruik van dwelmiddels, psigoaktiewe, psigofarmaseutiese en psigotropiese middele wat die mens se manier van dink en sy beleweniswêreld verander (“mind-altering drugs”). Sluit hierby in allerhande middele wat daarop gerig is om die liggaamsbeeld te verander (bv steroïdes) of oënskoulik onskuldige middele wat mense moet help om ‘n begeerde uitkoms van veranderende uitnemendheid te bewerkstellig (soos seksuele opkikkers of verslankingsmiddele), dan besef jy dat ons in ‘n wêreld leef wat deurgaans daarop ingestel is om jou op verskeie maniere anders te wil laat lyk/funksioneer/wees, en dat hulle ten minste aanleiding gee, maar dikwels selfs induseer, dat ons verslaaf raak aan ‘n verbeelde self. Lees Griffith Edwards se ontstellende Matters of Substance: Drugs–and Why Everyone’s a User om te besef hoe hierdie manier van dink al kollektief gestalte gekry het.]
- Sela: Hoe verander mens dié aanslag?
- Lees: 2 Kon. 15; 2 Kron. 26
- Memoriseer: 2 Kron. 26:10
- Delf dieper: Lees die boek van Griffith Edwards