“U sou geen mag … hê as dit u nie van bo
gegee was nie.” (Joh. 19:11, OAV)
Daar is verskeie persone in die Bybel wat ‘n duidelike profiel van narcissisme vertoon . Kom ons kyk nou na drie eksplisiete narcissiste: Goliat, Nabal en Nebukadnésar en in ‘n volgende Manna na wat ons kan leer uit die ander, miskien meer onbekende of nie vooropgestelde figure.
Goliat, die skrikwekkend groot en sterk soldaat van die Filistyne (Deut. 2:21), was iemand om mee rekening te hou – hy was fisiek gespoke besonder imponerend: “Toe kom daar ‘n baasvegter uit die laers van die Filistyne, met die naam van Góliat, uit Gat; sy hoogte was ses el en ‘n span. Daar was ‘n koperhelm op sy hoof, en hy het ‘n pantser van skubbe aangehad—die gewig van die pantser was vyf duisend sikkels koper— en skeenplate van koper was aan sy bene en ‘n koperlans tussen sy skouers. Die steel van sy spies was soos ‘n wewersbalk, en die lem van sy spies was van ses honderd sikkels yster, en die skilddraer het voor hom uit geloop.” (1 Sam. 17:4-7). Hierdie reus van bykans elf voet lank se grootheidswaansin blyk duidelik uit sy uitspraak in die volgende sin: “En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle’n man uit, dat hy na my toe afkom.”
Interessant genoeg beteken Goliat se naam “splendour” (Brown-Driver-Briggs’ Hebrew Definitions), want persone wat aan narcisssisme ly het dikwels wel spesiale vermoëns en/of uiterlike attribute en/of sukses behaal op een af ander vlak. Dikwels het hulle egter nie genoeg erkenning gekry daarvoor nie, of hulle het verstik van te véél onverwerkte erkenning (veral deur ouers wat deur hul kinders hul eie drome wou verwesenlik). Of die spesiale vermoë of attribuut is verabsoluteer as die enigste iets wat jou waarde gee. Goliat was iemand wat letterlik en figuurlik kop en skouers bo die meeste ander mense uitgestaan het, en dit het by hom ‘n grandeur van onoorwinlikheid meegebring, wat tot sy einde gelei het. Narcissiste gebruik dikwels hul spesiale vermoë of attribute as wapen teen ander.
Ons lees die verhaal van Nabal in 1 Sam. 25 – “En die naam van die man was Nabal, en die naam van sy vrou Abígail; en die vrou het ‘n goeie verstand gehad en was mooi van aansien; maar die man was grof en boosaardig, … maar hy self is so ‘n deugniet dat jy nie met hom kan praat nie … Dawid het al gedink: Net verniet het ek alles wat aan hierdie man behoort, in die woestyn beskerm, sodat daar nooit iets van sy goed vermis is nie; en hy vergeld my kwaad vir goed. … My heer moet hom tog nie steur aan daardie deugniet van ‘n man, aan Nabal nie; want soos sy naam is, so is hy; sy naam beteken dwaas, en dwaasheid is by hom … Daarop het sy (Nabal se) hart in sy binneste gesterwe en was hy soos ‘n klip ( Verse 3, 17, 25 en 37).
Die NLT sé Nabal was “dishonest in all his dealings”, en Rotherhams sê hy was “unfeeling”. Dawid het hom gou-gou onderskei, en Nabal se vrou het geweet hoe lyk hy as die masker af is, “grof en boosaardig”, en dat sy naam se betekenis ‘n raak beskrywing van hom is: ‘n dwaas.
Narcissiste kies dikwels persone as vriende of lewensmaats wat ook baie suksesvol of opsigtelik is, mense wat uitstaan, en word dan ko-afhanklik (“co-dependant”) van die persoon. Abigail is ‘n uitsonderlike vrou, mooi en slim, en dit was eienskappe wat die narcissis goed kan gebruik, want dit reflekteer goed op hom en laat hom ook buitengewoon voorkom. Sy was ook in staat om hom te “cover” as hy sy masker laat sak. Die ander persoon/geliefde word mettertyd bloot die kruk tot die sosiopaat se sug na (ander se) erkenning. Hy/sy sal derhalwe dikwels vir die ander persoon in hul lewe voorskryf hoe om aan te trek, op te tree, wat hul moet sê of nié sê nie.
‘n Langtermynverhouding met ‘n narcissis breek dus altyd die ander party se selfbeeld af, of probeer die persoon minderwaardig laat voel. Kinders van narcissiste het byvoorbeeld dikwels eiesoortige probleme waarteen hul te staan kom – lees byvoorbeeld Nina W. Brown se boek: Children of the Self Absorbed, of Elan Golomb se uitstekende boek: Trapped in the Mirror: Adult Children of Narcissists in their Struggle for Self.
Dis al hoe meer duidelik dat berading en bevryding veel eerder vir die slagoffers van verhoudings met narcissiste is as vir die persoon wat met die eintlike probleem sit.
‘n Derde voorbeeld van ‘n Bybelse figuur is koning Nebukadnésar, van wie ons in die boeke van Daniël en Jeremia lees. Dié boeke wemel van hierdie opgeblaasde koning se eiewaan (kyk net na Dan. 1:10; 2:5; 3:1-4, byvoorbeeld). Die goue beeld wat hy van homself maak, is seker een van die mooiste ikoniese voorbeelde van selfverheerliking in die geskiedenis. En as volk en vreemdeling nie voor die beeld neergeval en aanbid het nie, is hy op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi (Dan. 3 :5-6). Nebukadnésar se gedrag daarna (soos opgeteken in hoofstuk 4) is eweneens radikaal en kategories, tipies van narcissistiese mense, en spreek van trots, gemeenheid, nonchalantheid, en ongehoorsaamheid aan God. Die narcisstiese mens het ‘n ysere wil, en sal alles in sy/haar vermoë doen, veral deur subtiele manipulasie, om sy wil te laat geskied, om dinge te plooi soos hy/sy dit wil hê.
Ek het gevind dat narcissiste dikwels, soos Nebukadnésar, enigsins eers tot hul sinne kom as daar ‘n enorme krisis met hulle gebeur. Dit word altyd voorafgegaan deur pertinente waarskuwings van God af. As die persoon in ongehoorsaamheid blý loop, laat God toe dat ‘n krisis van groot omvang plaasvind, en die narcissis se beheer of mag of attribuut word abrup weggeneem, of hy/sy word uitgevind of ontmasker. Hierdie is gewoonlik die ideale geleentheid om hom/haar te bedien. In Nebukadnésar se geval het God tydelike waansin oor hom gebring, maar die vernedering het sy seepbel van gewaande belangrikheid laat bars, en hy kon terugkeer na normaliteit, ook ten opsigte van sy verhouding met God: “Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar—hy is uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls. En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ‘n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is.” (Dan. 4:33-34).
Die narcissis se verbeelde magswêreld moet vernietig word, en dit gebeur as hy besef alle mag is deur God daargestel en setel nét in Hom. Onthou wat Jesus aan Pilatus gesê het: “U sou geen mag … hê as dit u nie van bo gegee was nie.” (Joh. 19:11). Die narcissis se genesing lê in Paulus se woorde in 1 Kor. 4:7 – “En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”
- Sela: Gaan besin oor Jer. 27:5-6 hoe God besluit het om mag aan Nebukadnésar te gee.
- Lees: 1-8
- Memoriseer: 1:18
- Delf dieper: Lees die boeke hierbo genoem.