Dag 98

 

“En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo.” (Rom 4: 11, OAV)

‘n Verbond is in wese ‘n kontrak waartydens twee partye seker ooreenkomste met mekaar sluit. In God se verbondsluiting met Abram, byvoorbeeld, het God baie dinge aan hom beloof, maar net een ding van hom geëis: “Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.” (Gen 17:1). Wat beteken dit? Rom 4:3 (LB) verduidelik dit so: “For the Scriptures tell us Abraham believed God, and that is why God cancelled his sins and declared him not guilty.”

In die oorspronklike taal beteken die woordjie wandel: “to seize every opportunity”. Om soos Abraham voor Hom te wandel, beteken dus om in geloof elke geleentheid wat God oor jou weg bring, toe te eien en daarin te beweeg.

Die Abrahamitiese verbond het die weg geopen vir alle Israeliete om in verbondsluiting met God te gaan (Hand 3:25). In plaas daarvan dat God met elke individuele lid van die Joodse volk deur ‘n soortgelyke verbondprosedure moet gaan, stel Hy die besnydenis in. “Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word— julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle.” (Gen 17:10-11). Hierdie “gemerktheid” deur besnydenis word die toonbrood van God se verbond met die Israeliete. So byvoorbeeld, toe Josef se broers hom nie as hul broer geëien het nie, maar as ‘n Egiptiese koninklike gesag,  het hy op ‘n stadium sy broers byeen gebring. Gen 45:1 vertel dit so: “Toe kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie.” Al duidelike merk waaraan Josef herken kon word dat hy ‘n Israeliet in Egipte was, was die besnydenis – dit is sy brood van verbond wat hy aan hulle getoon  het, hoe hy homself aan hulle bekend gemaak het! 

  

  • Sela:  Bedink jou gemerktheid in God en probeer uitvind wat stel jou geestelike besnydenis voor.
  • Lees: Rig 8; Ps 98; Hand 8 
  • Memoriseer: Hand 8:39 
  • Vir dieper delf: Lees Hfst 4 in Arthur Pink se The divine covenants.